Duduzane Zuma: ‘Teenstrydighede in getuienis’

Duduzane Zuma, seun van oudpresident Jacob Zuma (Foto: Dimpho Maja/African News Agency (ANA)

“Niks sal my kind terugbring nie. Sy is dood en dit is verby,” het Adina Dube van Zimbabwe, Vrydag hartseer gesê. Haar dogter is vyf jaar gelede in ʼn minibustaxi dood toe dit met Duduzane Zuma se Porsche gebots het.

Dube het haar teleurstelling buite die Randburg-landdroshof uitgespreek ná die 35-jarige Zuma onskuldig verklaar en vrygelaat is. Maroela Media het vroeër berig Zuma is Vrydag in onskuldig bevind op ’n klag van strafbare manslag en ’n klag van roekelose en nalatige bestuur teen hom.

Adina se dogter, Phumzile Dube, het in 2014 in ʼn taxi gery toe die ongeluk op die M1 plaasgevind het. Een van die passasiers, Nanki Jeanette Mashaba, het ernstige beserings opgedoen tydens die ongeluk. Sy het later in die hospitaal gesterf. Haar afsterwe hou egter vermoedelik verband met ʼn siektetoestand wat sy reeds onder lede gehad het. Drie ander persone is in die botsing beseer.

Zuma het aanvanklik tereg gestaan op twee aanklagte van strafbare manslag en roekelose bestuur. Een aanklag is laat vaar toe dit aan die lig gekom het dat Mashaba se afsterwe nie met die ongeluk verbind kan word nie.

Landdros Tebogo Thupaatlase het Vrydag gesê die staat het versuim om sy saak bo redelike twyfel te bewys. Van die staatsgetuies se weergawe van die gebeure was teenstrydig. Die landdros het gesê bewyse wat deur die beskuldigde ingedien is, was “konsekwent”.

Duduzane se pa en tweelingsuster Duduzile het hom vergesel. Die voormalige president en sy dogter het langs mekaar op ʼn bankie in die openbare galery gesit.

Thupaatlase het op verskillende teenstrydighede gewys in staatsgetuies se getuienis. Hy het gesê bewyse deur die ongelukkenners word nie in twyfel getrek nie, aangesien die motor kon gly vanweë verskillende redes, waaronder bande, die hoeveelheid water op die pad en spoed wat die bestuurder gery het.

Die landdros het gesê hy is tevrede dat Zuma nie nalatig was nie en dat hy alles gedoen het wat ʼn redelike persoon sou doen om die tragedie te verhoed. Ander getuies het Zuma se weergawe ondersteun dat sy motor buite beheer begin gly het toe hy ʼn plas water op die pad getref het.

Thupaatlase het gesê daar is ook teenstrydighede wat betref skade aan die minibustaxi wat aan die ongeluk toegeskryf is, omdat Zuma se motor nooit deur die lug getrek het nie. Van die skade aan die taxi was dus te hoog om deur die botsing met die Porsche veroorsaak te word.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê sy respekteer die hof se besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
GM

Ek wonder hoeveel getuies is omgekoop…

Schalla

Jammer hierdie regter was nie aan die stuur van sake tydens die Coligny verhoor nie. Daar was dit selfs meer ‘n geval van “Van die staatsgetuies se weergawe van die gebeure was teenstrydig. Die landdros het gesê bewyse wat deur die beskuldigde ingedien is was konsekwent” Ook reken hy van die skade aan die voertuig was te hoog om deur die Porsche veroorsaak te kon wees. Verbeel jou die regter in die Coligny saal kon dieselfde logika aan die dag lê om te kan besef mens kan nie ‘n bakkie bestuur en terselfdertyd iemand agter van die bakkie afgooi nie!… Lees meer »

BMW

So Afri gaan aanvaar dat hy onskuldig is slaan my dronk.

Ongeduldig

Wel gedaan Zupta!!! Nog n krimineel vry. Wonderlike regstelsel van omkopery!!!

Piet parys

Weereens n bewys dat as jy geld het kan jy jou los koop. Toe afriforum gedreig het toe kom die regering met n afgewaterde hofsaak. Ek het geweet zuma is untachable