Duduzane Zuma-vervolging ‘heroorweeg’

Duduzane Zuma Foto: africa.widmi.com

Die burgerregte-organisasie AfriForum sê sy regspan is amptelik in kennis gestel dat adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, besluit het om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit te heroorweeg om Duduzane Zuma nié op ’n strafregtelike klag van strafbare manslag te vervolg nie.

Die saak teen Duduzane, seun van oudpres. Jacob Zuma, hou verband met ’n motorongeluk wat op 1 Februarie 2014 op die M1-snelweg in Gauteng plaasgevind het waarin ʼn vrouepassasier op slag dood is.

Abrahams se besluit om die saak te hersien volg ná adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, einde verlede jaar ’n skrywe namens die Dube-familie aan die NVG gerig het om ’n nolle prosequi-sertifikaat aan te vra, wat dit vir die organisasie moontlik sou maak om Zuma jr. privaat te vervolg.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is Abrahams se besluit nie net ’n oorwinning vir die Dube-familie, Gerrie Nel en AfriForum nie, maar vir almal in die land wat keelvol is dat “oudpres. Zuma, sy vriende en familie die afgelope paar jaar vervolging kon ontduik”.

“AfriForum het Abrahams nou in ’n hoek gedryf, want sou hy weer ’n besluit neem om Zuma nie te vervolg nie, weet hy dat Gerrie Nel gereed staan om dié vervolging privaat voort te sit. Sou hy sy werk reg doen en besluit dat die NVG Zuma gaan vervolg, is dit óók ’n oorwinning vir die Dube-familie, AfriForum en gelykheid voor die reg,” sê Kriel.

Kriel sê Abrahams sal soortgelyke druk van Gerrie Nel moet trotseer wanneer hy eersdaags ook moet besluit of die NVG oudpres. Zuma op grond van korrupsieklagte gaan vervolg.

“Hopelik sal die wete dat Nel gereed staan om te vervolg Abrahams dwing om die regte ding te doen deur te besluit dat die NVG Zuma wel moet vervolg,” sê Kriel.

Die druk wat die media, AfriForum en ’n reeks ander burgerlike organisasies uitoefen om selektiewe vervolgings en staatskaping te beveg, help nou volgens Kriel dat die gety teen korrupsie begin draai.

Die besluit van die owerhede om ná jare van doelbewuste gesloer met optrede teen die Guptas te begin, is volgens hom onder meer danksy dié volgehoue druk.

kallie kriel

Kallie Kriel. Argieffoto.

Kriel sê Nel en AfriForum se vervolgingseenheid hou die optrede teen die Guptas fyn dop en is meer as gewillig om self in te gryp as dit nodig sou wees.

Wat AfriForum se voorgenome optrede teen Grace Mugabe betref, dui Kriel aan dat AfriForum se hofaansoek om Mugabe se diplomatieke immuniteit in Suid-Afrika ter syde te laat stel op 8 en 9 Mei in die Noord-Gautengse hoë hof aangehoor word.

“Daar is ook ’n positiewe wending wat Gerrie Nel se voorgenome privaat vervolging van adv. Jiba betref, aangesien die NVG se weiering om Jiba te vervolg deur die howe ter syde gestel is. Ook in dié geval weet Abrahams dat – sou hy weer besluit om Jiba nie te vervolg nie – Nel gereed staan om die saak namens genl. Johan Booysen verder privaat te vervolg,” sê Kriel.

Volgens Kriel gaan Nel binne die volgende maand verdere aankondigings maak oor nog sake wat AfriForum se privaat vervolgingseenheid gaan aanpak.

Die publiek kan help om verdere druk op die NVG te plaas om Jacob Zuma te vervolg deur die Vervolg Zuma-petisie by www.vervolgzuma.co.za te onderteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

linda ·

Ek dink Shaun Abrajams was baie beinvloed deur Jacob Zuma self. Shaun het nou bedef hy moet al sy aandag aan sy werk gee en soos n ware Advokaat optree of hy is sy werk kwyt. Hy is baie intelligent en nie n kansvatter sois die OB nie, wat moet waai !!#

JWM ·

Is hierdie aksies nie veels te laat nie? Almal verdwyn dan nou en/of vlug landuit.

Koos ·

Die spreekwoord lui nie verniet “Any publicity is good publicity” nie.

Kan AfriForum asseblief sê of die Dube’s en die “model” Gabriella lede van AfriForum was voor hulle sake aangepak is?

Waarom word jarelange lede se ledegeld aangewend om nie-lede te help met motorbotsings en hotelgevegte en wat is die voordeel daarin vir betalende lede?

Watter kriteria word gebruik om nie-lede te help met hulle sake?

As ‘n lid more bedank en sy debietorder stop, is sy kanse net so goed om volgende jaar as nie-lid gehelp te word as Gabriella of die Dube’s?

piper ·

my ou geldjie wat ek elke maand aan afriforum gee is n ; bargain;

Joshua ·

Abrahams moet ook aangekla word agv sy aanhoudende dwarsboming vd gereg.

Justice ·

Terwyl Abrahams die hoof van die NVG is sal daar tydens klopjagte `n moontlik `n uitdaging wees om politeke verdagtes aan te keer. Hy het homself in die verlede met onderskeiding bewys as `n lakei van die Zuma bestel.

Gideon ·

Same ou koos. So selfgesentreer jy kyk teen jouself vas. Ek betaal my lede geld met n glimlag vir n hele wet gehoorsame SA. Dankie AGRI!

Daan Erasmus ·

Hi Gideon. Jy weet nie eers vir wat jy betaal nie. Wie is AGRI? Agri is Landbou, en die is nie ‘n landbou organisasie nie.

Jacques Venter ·

As Gerrie nie iets doen nie dan gebeur daar ook niks. Mooi so Gerrie

Flip Pretorius ·

Ek vermoed die Zuma se gesnoer om te bedank het iets te doen met die verdwyning van sy seun en die Guptas. Hy het sy bedanking so lank as moontlik uitgerek om sy mede kriminele die kans te gee om hulle sake agter mekaar te kry. Zuma het geweet as hy bedank gaan die Valke en die ander sekerheid instansies toeslaan. Zuma het toe geen gesag meer gehad om die Valke te keer nie. Mooi ou Zuma slim gewees, maar pasop slim vang sy baas. nou gaan jou seun ook met sy alie in die tronk beland sonder keuse van borgtog. Ek dink Zuma se planne is ook agtermekaar om te vlug. hy wag net vir die regte oomblik. Maar hy moet pasop vlug hy kom hy nie weer terug nie. As hy sou terugkom is hy dadelik in die tronk, en dit gaan lewenslank wees, Glo my Zuma as ek jou se, jy het nie baie vriende oor nie. Jou vriende gaan jou uitlewer. Hulle gaan nie jou naby hulle toelaat nie, jy kan hulle nou absoluut boggerol bied. Jy is n gevaar vir hulle

Johan. H. ·

Vat asb Zum se paspoort , so go moontlik.aahulle moet almal in verskillende tronke die oranje pak draa.. Voel hoe die allerdaagse jan publiek behandel word,Lyk my die wiel draaie toe tog,, Dit is die enigste justise wat die getroue eerlike . gewone landsburger, wat maar spartel net om die dag om tekry en sy rekeninge moet betaal,kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.