Duduzane Zuma weer in hof op ander aanklag

Duduzane Zuma. Foto: Nokothula Mbatha/ANA

Duduzane Zuma, voormalige pres. Jacob Zuma se seun, sal vandag vir ʼn tweede keer dié week in ʼn hof verskyn.

Zuma sal na verwagting in die Randburg-landdroshof verskyn op aanklag van strafbare manslag. Dit volg nadat hy Maandag in enkelboeie by die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Johannesburg verskyn het.

Vandag se hofverskyning hou verband met ’n noodlottige motorongeluk op 1 Februarie 2014 op die M1-snelweg in Gauteng. Zuma het met sy Porsche teen ʼn minibustaxi gebots. Phumzile Dube (30) is dood en nog twee mense, ʼn 72-jarige vrou en die taxibestuurder, is kritiek in dié ongeluk beseer.

Die geregtelike ondersoek wat daarna plaasgevind het, het bevind Zuma was nalatig en dat hy vir strafbare manslag vervolg kan word. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het egter daarna besluit om hom nie te vervolg nie.

AfriForum het egter in Oktober 2017 aangekondig dat adv. Gerrie Nel en sy eenheid Zuma privaat wil vervolg. Die eenheid het namens die Dube-familie ʼn skrywe aan die NVG gerig om aansoek te doen om ʼn nolle prosequi-sertifikaat sodat private vervolging gedoen kan word, waarna die NVG besluit het om Zuma wel te vervolg.

Zuma het Maandag in die hof verskyn op korrupsie-aanklagte. Hy is borgtog van R100 000 toegestaan en die saak is tot 24 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek. Die staat het nie die verdediging se aansoek om borgtog teengestaan nie.

Zuma, wat reeds maande uit die land is, word daarvan beskuldig dat hy glo destyds vir Mcebisi Jonas, toe minister van finansies, omkoopgeld van R600 miljoen aangebied het.

Die staat voer aan dat Zuma en sy sakevennote, die Gupta-broers, ʼn plan beraam het om Jonas te oortuig om opdragte van hulle uit te voer deur vir hom omkoopgeld aan te bied.

Maroela Media het vroeër berig Zuma het verlede week na Suid-Afrika gereis om Saterdag sy broer, Vusi Nhlakanipho, se begrafnis by te woon nadat Vusi op 1 Julie aan lupus in die Milpark-hospitaal dood is. Vusi is verlede naweek in die West Park-begraafplaas begrawe.

Zuma is Donderdag vlugtig met sy aankoms op die Internasionale Lughawe OR Tambo in Kempton Park deur die Valke aangehou.

Hy moes Maandag sy paspoort oorhandig as deel van sy borgtogvoorwaardes.

Lees alle berigte oor Duduzane Zuma op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pietie ·

Ek dink dat alwat nou gebeur is dat die NVG net sorg vir ‘n swak saak sdt die ouens vrygespreek raak. Probleem opgelos. Mag hy dan steeds privaat vervolg word?

Anoniem ·

Ek hoor vanoggend op die radio dat die staat vandag gaan aansoek doen dat die saak uitgestel word? Dis nie ‘n goeie begin nie…

Nettie ·

@Anoniem: jaaaaaa …. broer/suster – ons weet mos: van uitstel kom afstel.

Papa Jacob Gedleyihlekisa (vertaal in Afrikaans as “die een wat jou skade aandoen terwyl hy glimlag”; hoe toepaslik is dit nie – sy Ma het seker geweet haar seun is ‘n gebore skelm) Zuma trek nog lékker die toutjies agter die gordyn. Enige een wat dink dat SA ontslae is van dié ou, leef in ‘n droomwêreld.

Zumie ·

Julle afleiding is verkeerd.
GEEN saak word op eerste verskyning afgehandel nie en ‘n paar uitstelle voor verhoor is en was altyd standaard. Dossier blootlegging, nadere besonderhede ens word afgehandel voor verhoor

Johan ·

Ons gaan moet sien of geregtigheid gaan geskiet…..ek dink die man gaan wegkom met dit…op weereens n tegniese aspekt ….of met n baie geringe straf….soos daai advokaat nie van die bali geskrap was nie…..hulle leterlik weg met moord….

Ja ·

Heeltemal reg Johan, niks sal hiervan kom nie sy pappa en connections sal als uitsort.

Aag Sies Tog ·

Daar sal niks met die ou gebeur nie. Sy pa het allankal gesorg daarvoor.

eugene ·

kan n mens so lekker kry op so koue winters oggend, maak nie saak wat gebeur maar ten minste kom hy nie weg nie en almal irriteer hom nou – vat so!

Wondermaarnet ·

Sluit toe vir moord! Hoekom word die WARE rede vir “beheer verloor oor sy voertuig” nie bekend gemaak nie.?

Mariet ·

Dink die Staat nou regtig hy het net 1 paspoort? hy’t ‘n paar soos die Guptas, as ons weer sien is hy in Dubai

Veronica ·

Ja en kyk wie is sy verdediging, wit verteenwoordiging, verkoop ook hulle siele vir geld om hom te verdedig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.