Duidelikheid dringend nodig oor geloofsbyeenkomste

(Foto: Deanna Tan/pixabay)

Die organisasie Freedom of Religion SA (FOR SA) sê duidelikheid is dringend nodig oor die afsonderingsbepalings wat vir geloofsbyeenkomste afgekondig is.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër aangekondig geloofsbyeenkomste – met minder as 50 mense – mag op vlak 3 hervat word.

FOR SA sê hy en al die geloofsleiers, -groepe en kerke wat hy verteenwoordig, wíl die land se wetgewing nakom, maar dit gaan weens ʼn gebrek aan duidelikheid en teenstrydighede in die bepalings bitter moeilik wees. Die organisasie vra nou die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, om die regulasies beter te verduidelik.

FOR SA sê kwessies sluit in:

Die insluiting van geloofsleiers as “noodsaaklike werkers” op alle afsonderingsvlakke

Volgens Ramaphosa word geloofsleiers as noodsaaklike werkers vir die doel van geestelike berading erken – en Dlamini-Zuma se mediaverklaring daaroor het dit bevestig – maar nie die vlak 3-regulasies óf die riglyne daaroor erken dié leiers onomwonde as noodsaaklike werkers nie.

FOR SA sê dit kan probleme skep as enige gebied na vlak 4 of selfs vlak 5 van die afsonderingsregulasies teruggeskuif word. “FOR SA vertrou dat die weglating onbedoeld was, omdat geestelike berading selfs meer nodig en noodsaaklik is as die infeksiekoers en sterftes onder sy lede en gemeenskappe styg.”

Die insluiting van ʼn “tuiskerk” as plek van aanbidding

Ingevolge die regulasies word plekke van aanbidding gedefinieer as “enige plek of perseel wat gewoonlik vir geloofsdoeleindes gebruik word, waaronder kerke, sinagoges, moskees, tempels en ander erkende plekke van aanbidding”.

Verskeie geloofsleiers en organisasies sien dié gedeelte as dat dit private wonings insluit, bes moontlik omdat talle kerke gewoonlik kerk- en aanbiddingsbyeenkomste gedurende die week in die vorm van tuiskerke of selgroepe by lede se huise hou.

FOR SA sê duidelikheid hieroor is nodig, omdat enige mate van onsekerheid tot onnodige inhegtenisnemings kan lei.

Insluiting van deurry-kerke

Die regulasies definieer ʼn geloofsbyeenkoms as ʼn byeenkoms met ʼn geloofsdoel by ʼn plek van aanbidding. FOR SA sê sommige kerke oorweeg deurry-byeenkomste omdat daar ʼn veel kleiner gevaar is vir infeksie as wanneer daar in ʼn geslote ruimte vergader word. Benewens vir die gebruik van ablusiegeriewe, bly mense in hul voertuie tydens die byeenkoms.

“Dit blyk logies te wees dat sulke dienste toegelaat moet word, maar duidelikheid is nodig.”

Insluiting van verskeie byeenkomsplekke en beperking van getalle

Die organisasie sê die bepaling dat nie meer as 50 mense ʼn byeenkoms mag bywoon nie, is ook onduidelik, omdat dit nie spesifiseer of dit per perseel of per gebou is nie. Talle groter geloofsgroepe het verskeie geboue waar mense byeenkom en wat gemaklik 50 mense met die nodige sosiale afstandhandhawing kan inneem.

“Daar word voorgestel dat die minister dit oorweeg om die beperking as ʼn persentasie (byvoorbeeld 30%) van die gewone sitplekkapasiteit vas te stel.”

FOR SA sê hy gaan ʼn lys van vrae wat gereeld gevra word op sy webwerf plaas sodat geloofsleiers wat dit oorweeg om openbare byeenkomste te hervat, dit wettig en met die nodige omsigtigheid kan doen.

“Die regering se uiteindelike erkenning en goedkeuring van die belang van die rol van die geloofsgemeenskap was tydig en gaan dié belangrike deel van die samelewing verder bemagtig om te help om die fisieke, sielkundige en geestelike behoeftes te help vervul,” sê Michael Swain, uitvoerende hoof van FOR SA.

“Dit is egter duidelik ʼn tyd vir die geloofsgemeenksap om katvoet te wees, gegewe die beduidende risiko’s en verantwoordelikhede wat gepaardgaan met die regte wat die regering nou erken.”

FOR SA sê hy verteenwoordig nagenoeg 15,5 miljoen mense uit verskeie denominasies, kerke, geloofsgroepe en inheemse kerk- en geloofsgroepe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Willem ·

Die 50 sluit die werkers in . Indien daar n tweede diens plaasvind moet alles eers skoon gemaak word. Dis nie die moeite werd nie.

Marisa W ·

Daar is kerke met 1 000 + kapasiteit – waarom dit nie beperk tot ‘n persentasie nie

Johnny ·

Hulle wil jou werklikwaar hê NDZ moet dit verduidelik? Is hulle gek?

Manie ·

Ek dink nie sy is die regte persoon wat in die vermoee is om so ‘n besluit te kan gee nie. Kom ons as geloofs mense staan saam en doen wat die regte ding is.

Raadslid ·

Duidelik wil sekere mense meer gehoorsaam aan ‘n heidense regering as aan God wees.

Tiaan ·

Alle kinders van die Here mis kerk! Moenie onverantwoordelik wees nie; bly weg van byeenkomste. Winkelsentrums is skrikaanjaend genoeg.

Retha ·

Nou hoekom word winkelsentrums nie ook verbied nie. Jy moet trollie vat om dan nou die nodig distansie te handhaaf, maar in die gange tussen die rakke skuur hul teenaan jou verby. Net die wydte van die trollie, nie die lengte nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.