Duidelikheid oor inhegtenisnemings weens afsonderingsregulasies gevra

Polisielede by ‘n padblokkade in Gauteng. (Foto: SA Polisie)

Die organisasie Sakeliga het die ministers van onderskeidelik samewerkende regering en tradisionele sake en die polisie gevra om inhegtenisnemings wat verband hou met oortredings van die afsonderingsregulasies te staak en die sogenaamde staande bevele daaroor bekend te maak.

Sakeliga se versoek kom nadat regter Norman Davis verlede week in die Pretoriase hooggeregshof geweier het om die staat verlof te gee om te appelleer teen die beslissing dat regulasie 48(2) van die afsonderingsregulasies ongrondwetlik is. Dít behels dat sekere oortredings van die regulasies, soos die verkoop van drank en tabakprodukte, ʼn strafregtelike oortreding is.

Davis het die staat tot 14 Julie gegee om die ongeldige regulasies te wysig.

Sakeliga sê die regulasies sal nie ná hierdie sperdatum geldig wees as dit nie reggestel word nie. Die organisasie sê hy is ingelig dat die regulasies ongeldig is en nie weer hernu sal kan word nie indien ʼn regstelling nié gedoen word nie.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die organisasie steun die verklaring van ongeldigheid van die betrokke regulasies. Daar is egter onduidelikheid oor die kwessie of min. Nkosazana Dlamini-Zuma en min. Bheki Cele van plan is om inhegtenisnemings te laat vaar, of hulle die regulasies gaan regstel en of hulle ʼn heeltemal ander regsmening oor die kwessie handhaaf.

“Gevolglik kan sakelui, werknemers en die publiek in die algemeen in situasies van wetstoepassing weens ʼn goedertrou-verskil oor interpretasie in konflik met die polisie kom. Sulke meningsverskille kan maklik lei tot onregmatige inhegtenisnemings en verdere gevolge wat nóg die publiek nóg die regering kan bekostig en wat vermy moet word.”

Sakeliga het Dlamini-Zuma en Cele versoek om te onderneem dat die polisie al sy lede sal meedeel dat geen persoon in hegtenis geneem mag word weens versuim om aan die inperkingsregulasies te voldoen nie, asook dat die polisie onderneem om bygewerkte staande bevele rakende die toepassing en handhawing van die afsonderingsregulasies en -maatreëls weens die ongeldigheidsverklaring daarvan dadelik aan sy lede deur te gee.

Sakeliga versoek ook ʼn afskrif van dié bevele.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stofdonkie ·

Nou is die toets of die ministers hulle aan ‘n hof gaan steur of nie. In my persoonlike opinie glo die ministers hulle is hoër gesag as die hof en dat die hof vir hulle werk. Hulle steur hulle nie aan die grondwet nie en ag hulself hoër as enige hof. Dit is mos duidelik as mens kyk hoe hulle doen en sê net wat hulle wil al gaan hulle ook teen die president. Ou ramaphosa het vir homself ‘n gat gegrawe met kopdoek-zuma wat hom ondermyn nes sy wil

Anel ·

So dan sal dit beteken dat rokers weer van die 14 de hulle verslawing wettig mag koop, ook?

Pierre ·

Ja, jy mag dit wettig koop – solank dit net onwettige sigarette is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.