Duikboot met 53 aan boord vermis

Die Indonesiese weermag het Woensdag dié foto van die KRI Nanggala 402 se bemanningslede uitgereik nadat daar vroegoggend kontak met dié duikboot verloor is. (Foto: / INDONESIA MILITARY / AFP)

Die Indonesiese weermag is op soek na ’n duikboot met 53 bemanningslede aan boord nadat daar Woensdag kontak met die vaartuig tydens vlootoefeninge aan die kus van Bali verloor is.

Die militêre hoof van Indonesië, Hadi Tjahjanto, het aan AFP gesê die vloot het reeds oorlogskepe uitgestuur om na die duikboot te soek. Singapoer en Australië is intussen om hulp genader.

Volgens Tjahjanto het die duikboot 53 bemanningslede aan boord gehad toe daar Woensdag vroegoggend in waters van sowat 700 meter diep kontak met die duikboot verloor is.

“Ons ken die gebied, maar dit is nogal diep,” het admiraal Julius Widjojono op sy beurt gesê.

’n Oliestorting is intussen gevind waar daar met die vermiste Indonesiese duikboot kontak verloor is.

Die duikboot moes na wat verneem word deelneem aan oefeninge oor wat om in die geval van torpedo’s te doen, voordat verbinding met die vaartuig verloor is.

Die KRI Nanggala 402 weeg sowat 1 300 ton en is volgens ’n regeringswebwerf in 1978 in Duitsland gebou.

Indonesië, wat die afgelope paar jaar sy militêre toerusting opgradeer het, het vyf Duitse en Suid-Koreaanse duikbote in sy vloot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.