Duiker in see by Kaapstad vermis

Argieffoto: NSRI

ʼn Duiker word vermis nadat hy en sy broer Sondag in die see by Bantrybaai in Kaapstad gaan duik en hy nie weer uit die water te voorskyn gekom het nie.

Luke van Riet, adjunkstasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Bakoven, het gesê bemanning van die NSRI is omstreeks 11:20 deur die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNPA) na die toneel ontbied.

“Blykbaar het die broers in die see gaan duik en was die seetoestande rof toe hulle uit die water gekom het. Die vermiste man se broer kon daarin slaag om uit die water op die rotse te klim, maar sy 32-jarige broer, van Grassy Park, het vermis geraak. Omstanders het hulp ontbied,” het Van Riet gesê.

ʼn Reddingsboot is uitgestuur om met die soektog te help, terwyl reddingswemmers van NSRI-Bakoven en die plaaslike duikeenheid ook ingespring het om te help soek. Provinsiale en private paramedici, die polisie en die polisie se duikeenheid was ook op die toneel, terwyl ʼn reddingshelikopter ook ontplooi is om vanuit die lug te soek.

“Ondanks ʼn uitgebreide soektog in die see, vanuit die lug en al langs die kus, was daar geen teken van die vermiste man nie. Die polisie se duikeenheid gaan voort met die soektog. Die polisie staan ook die man se familie by en het ʼn ondersoek begin,” het Van Riet gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.