Duiker verdrink by Bettysbaai

(Argieffoto)

ʼn Kreefduiker het langs die kus by Bettysbaai, sowat 100 km oos van Kaapstad, verdrink, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.

Lede van die NSRI se eenheid by Kleinmond is om 12:24 Sondag ontplooi ná berigte ontvang is oor ʼn vryduiker wat in die see by Bettysbaai vermis geraak het, het Schalk Boonzaaier, stasiebevelvoerder, gesê.

Twee vriende het saam vir kreef gaan duik, waarna een van hulle uit die water is. Hy het vir sy vriend gewag en toe hy  nie uit die water kom nie, hulp ontbied.

Verskeie eenhede is na die toneel gestuur om met die soektog te help.

“Tydens ʼn uitgebreide soektog het die reddingshelikopter ʼn persoon net onder die wateroppervlak in ʼn baai gesien dryf. ʼn Lewensredder is uit die Skymed-helikopter ontplooi en ʼn NSRI-reddingswemmer is van ʼn boot af ontplooi en saam het hulle die man na die strand gebring. Paramedici het daar gewag, maar die persoon, ʼn 43-jarige man van Bloubergstrand [in Kaapstad], is ongelukkig dood verklaar.”

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Die nooddienste het ook hul medelye met die slagoffer se naasbestaandes betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.