Duiker vermis by Durban-hawe

Argieffoto

ʼn Professionele duiker is vermis by die hawe in Durban en kon nog nie opgespoor word nie, ondanks ʼn uitgebreide soektog na hom.

Clifford Ireland, die Durban-bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê bemanning is Sondag omstreeks 18:05 deur die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNHO) na die toneel ontbied nadat die duiker, ʼn 23-jarige man, in die hawe vermis geraak het.

“Die duiker het vermoedelik onder die water ingegaan om ʼn ander duiker af te los wat onder ʼn skip, wat in die hawe vasgemeer was, besig was met ʼn instandhoudingsoperasie. Nadat dit aan die lig gekom het dat die duiker nie opgedaag het om sy kollega onder die skip af te los nie, het die duikers omstreeks 17:00 na die vermiste duiker begin soek en om 17:15 hulp ontbied en die TNHO gekontak,” het Ireland gesê.

ʼn Seereddingsboot is in die water ingestuur en die SAPD, die polisie se duikeenheid en ER24-ambulansdienste is ook ontplooi. Die polisie se duikeenheid en Aquatech-duikers het na die vermiste duiker begin soek, terwyl die reddingsboot op die wateroppervlak gesoek het.

Daar was egter geen teken van die vermiste duiker nie, het Ireland gesê. Die soektog duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.