Duikrekord pryk nou agter SA’ner se naam

Karen van den Oever. Foto: Verskaf.

236 meter.

Dít is hoe diep Karen van den Oever by Boesmansgat in die Noord-Kaap geduik het om die wêreld-grotduikrekord vir vroue agter haar naam te skryf.

Maar moet egter nie dink dit is so maklik soos val in die water en sink nie. Aikôna, maande se beplanningswerk is nodig.

Karen se duikavontuur het al in 2001 begin en sy het in 2006 na die meer tegniese afdeling van die sport oorgeskuif.

“Ek het toe reeds daarvan gedroom om die wêreldrekord te verbeter, maar dit was eers in 2016 met my eerste duik van 100 m waar dinge in alle erns begin het,” het sy aan Maroela Media gesê.

Sy het daarna geleidelik dieper en dieper geduik, totdat sy genoeg selfvertroue opgebou het om die rekordpoging aan te pak.

“Dit het langer as ’n jaar geneem om alles in plek te kry vir die Boesmansgat-ekspedisie en dit het ook baie logistieke beplanning geverg.”

Daarbenewens is daar deeglik na elke moontlike noodgeval-situasie gekyk – haar wêreldrekord-poging word immers in ’n baie onvoorspelbare milieu aangepak.

“Ons het vooraf noodoefeninge saam met al die spanlede by Boesmansgat gedoen om te verseker dat ons iemand so vinnig as moontlik uit die water kan kry.”

Voordat enige duiksessie van stapel gestuur is, is ’n tou in die water laat sak vir die duiker om te volg.

Foto: Verskaf.

“Ek was veral die oggend voor die duik kwaai op my senuwees, maar toe ek eers in die water was, het al die onsekerheid soos mis voor die son verdwyn.”

Sewe uur en amper 240 meter later het Karen die wêreldrekord verbeter.

Nodeloos om te sê is sy baie trots op haar prestasie.

“Dit was al vir ’n baie lang ruk my droom gewees en ek is ongelooflik dankbaar teenoor my span dat dit nou ’n werklikheid geword het.“

Wil sy in die toekoms dieper duik?

“Ek is nog nie heeltemal seker nie; ek moet nog ’n bietjie daaroor dink. Ek en my man het ons eie duikklub (Somewhere Out There Diving) en ek gaan vir eers daarop konsentreer om my kennis met ander duikers te deel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SomeOne ·

baie geluk met jou oefeninge en dan uiteindelik die triomf van wêreld rekord

Reynier ·

Baie geluk, Deon Dreyer en David Shaw sou baie trots op jou wees.

Jan Seerot ·

Ek kon maar net 42 meter bereik. Goed gedoen Karen. Baie goed.

Fae Fubar ·

Dit is verblydend om te sien dat Suid-Afrikaners sulke top-prestasies behaal. Baie geluk aan Karen van den Oever. Iets wat ek baie mis, is Maroela Media se “Die wêreld in foto’s” insetsels. Kan dit dalk weer ingesluit word in die daaglikse nuusberigte?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.