‘Duime vas’ vir matrieks se besigheidstudies-uitslae

(Foto: pixabay)

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê volgens die terugvoer van verskeie onderwysers van skole oor die land wat lede is van sy Handelsvakvereniging, was vandeesweek se matriekvraestel vir besigheidstudies baie billik.

“Nou hou ons styf duim vas dat die finalisering van die nasionale nasienriglyne en merkproses by provinsiale nasiensentrums net so goed en billik sal afloop,” het Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, gesê.

Maroela Media het vroeër berig verskeie stappe is die afgelope paar maande gedoen om te verseker dat die 2019-matriekeksamen vir besigheidstudies nie dieselfde beroerde uitslae lewer as verlede jaar nie.

Die SOS het die departement in Januarie genader nadat verskeie klagtes oor die uitslae vir die 2018-eindeksamen ontvang is. Van die land se topskole het skielik talle druipelinge gehad en leerders wat gewoonlik onderskeidings behaal, het hul beurse of universiteitskeuring verbeur weens power besigheidstudies-uitslae.

“Die 2018-matriekuitslae in besigheidstudies was katastrofies met duisende matrieks wie se finale eksamenpunte tot 30% laer was as hul gemodereerde jaarpunt. Tóé is die vraestel ook as billik beskou, maar daar was groot ongelukkigheid oor die rigiede nasienriglyn en gevolglike rigiede merkproses,” het Vermeulen gesê.

Die SOS het destyds ’n ondersoek aangevra na die saamstel en merk van die besigheidstudies-vraestel, maar die departement se interne ondersoek het geen van die SOS se bekommernisse aangeraak of kernvrae rakende die vraestel en merkproses beantwoord nie.

Die SOS se eie ondersoek het bevind dat sowat 80% van die vraestel woord vir woord met die departementele hulpgids Mind The Gap ooreenstem. Hierdie hulpgids was slegs in Engels en aan gr. 12-leerders in onderpresterende skole beskikbaar gestel. Gevolglik het die SOS ’n onderwyser van Noordwes ingespan om Mind The Gap vir besigheidstudies in Afrikaans te vertaal.

Dit is daarna beskikbaar gestel aan lede van die Afrikaanse Handelsvakvereniging.

Die SOS sê in ’n verklaring die terugvoer wat hy oor die vraestel kry, was dat die vrae alle vlakke van vermoëns getoets het en nie onbekende vrae bevat het nie. Dit het die leerplan ook goed gedek.

“Ons sien uit na die 2019-uitslae wat vroeg in Januarie 2020 verwag word,” het Vermeulen gesê.

“As die uitslae aansienlik beter en betroubaar as 2018 s’n is, sal dit bewys dat die SOS se gronde vir klagtes wel akkuraat was en dat dit ’n positiewe uitwerking op die stelsel gehad het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Man julle moet maar net 30% reg kry….10% vir jou naam, 10% vir jou van en 10% vir darem een vraag reg. As ‘n tweede vraag reg kan antwoord word, dan kom daar 40%, ‘n onderskeiding, en universiteit toelating!

Elsie Smith ·

JohanR jy maak afleidings wat ongevraagd en ongegrond is. Jy is oningelig. Die vak besigheidstudies is van hoë standaard met massas werk wat baie leerwerk en insig vereis. Ons as ouers, onderwysers en graad 12 leerders het nie kommentaar soos die nodig asb. Dit maak mens moedeloos so te midde van die matriek eksamen. Seker jy verstaan.

Janna ·

Ja, glo my daar is voorwaar n enorme kwota stelsel en wanvoorstelling aan die gang. Oor sommige uitslae kan n mens maar net wonder.????

Bekommerd ·

Beide 2017 en 2018 se uitslae was beroerd omdat die memorandum van die eind eksamen net uit een handboek saamgestel is… dus is dit nie die kinders wat swak gedoen het of onderwysers wat nie klas gegee het nie, maar eerder die persoon wat verantwoordelik was om die vraestelle optestel wat dit nie reg gedoen het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.