Die Van Vuuren-egpaar van Kaapstad wat verlede week gevra het dat mense vir hul piepklein babadogtertjie bid wat op 26 weke as een van ʼn drieling gebore is, het gesê hulle het sedertdien duisende oproepe en boodskappe van ondersteuning ontvang.
Maroela Media het vroeër berig oor Jean-Mari Kellerman van Vuuren en haar man, Divan, wie se drieling-dogtertjies op 30 Oktober 2016 vroeggebore is. Lily, Julia en Lara is al drie met gate in hul hartjies gebore en moes van geboorte af vir hul lewe veg. Lily is net ʼn dag ná haar geboorte oorlede en Julia het op 3 Januarie in die hospitaal gesterf.
Vandag is klein Lara 78 dae oud en Jean-Mari sê dat dit goed gaan met hul “klein vegtertjie”. “Lara ontvang hoëvloeisuurstof en is rustig. Dit gaan vandag goed met haar,” het sy aan Maroela Media gesê.
Volgens Jean-Mari het Lara medikasie ontvang om haar hart-PDA [patent ductus arteriosus] te behandel, maar die medikasie het nie die gat toegemaak of selfs net kleiner gemaak nie. “Sy word goed gemonitor deur die neonatale spesialis en kardioloog en finale besluite [oor ʼn moontlike operasie] sal eers later geneem word.”
Jean-Mari het vroeër gesê Lara moet 1,8 kg weeg voordat dokters ʼn operasie kan oorweeg om die gat in haar hartjie te herstel. Sy het net 650 g met geboorte geweeg en weeg tans 1,35 kg. “Lara het verbasend mooi gewig aangesit. Ek mag haar kangaroe [vel-teen-vel-aanraking] en sy is baie rustig. Ons is opreg dankbaar vir almal se gebede en ondersteuning. Dankie aan almal wat vir haar bid.”
Jean-Mari het ʼn Facebook-blad begin waarop mense Lara se vordering kan volg en boodskappe van ondersteuning aan die gesin kan stuur. Die groep het teen Maandagmiddag reeds meer as 5 600 ondersteuners gehad. Volg die “Bid vir baba Lara”-blad hier.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
6 Kommentare
So perfek geskape. Mag die Here jul stuif vashou.
Ons bid vir jou klein pragtige engeltjie, en bid vir mamma en pappa ook? hoop jy is gou gesond?
AG my moedertjie, mag sy net van sterkte tot sterkte gaan en mag God haar hartjie heeltemal genees, julle het genoeg verdriet en hartseer met die heengaan van die ander tweetjies gehad. Ons bid dat hierdie ou dingetjie vir julle gespaar sal bly . sy is tog te oulik, piepklein ou mensie.
Hy sterkte sy is n vegtertjie
die Here is almagtig sal vir jul vashou om die kleintjie gouer gesond word.so pragtig mooi gegroei.