Duisende binne maande vir kankerkind geskenk

Farren saam met haar ma, Katie. (Foto: Verskaf)

Ouers van ʼn siek gr. 1-leerder in Durban is verstom oor al die welwillendheid wat hulle beleef het sedert ʼn seldsame soort kanker in die bloed en beenmurg maande gelede by hul dogter gediagnoseer is.

Leukemie is in September, ʼn maand voor haar sewende verjaardag, by Farren Grace gediagnoseer. Etlike dae ná dié lewensveranderende diagnose het talle vreemdelinge hul harte oopgemaak en honderdeduisende rande vir haar behandeling geskenk.

Altesame 313 mense het reeds meer as R430 000 vir Farren se kankerbehandeling geskenk. Dié geld sal ook haar opvoedkundige, emosionele en sosiale behoeftes dek totdat sy weer kan terugkeer na haar skool en lewe.

Farren, wat vanjaar haar skoolloopbaan in Durban, KwaZulu-Natal, begin het, se jong lewe is ná die diagnose omvergegooi.

“Sy was nog altyd ʼn avontuurlustige kind wat altyd buite wil wees om te hardloop, swem of speel,” sê Elrigh Grace, Farren se pa.

Maar weens haar toestand kry Farren gereeld infeksies, is sy chronies moeg en kry kneusplekke met sporadiese bloeding, omdat abnormale witbloedselle deur haar bloedstroom beweeg en haar gesonde selle aanval.

(Foto: Katie Pillinger/Facebook)

Elrigh en Katie Pillinger, Farren se ma, sê die onverwagse diagnose was ʼn skok vir die hele familie en is steeds ʼn groot uitdaging, aangesien Farren reeds verskeie sarsies chemoterapie moes verduur.

“Op die oomblik neem ons dit net een dag op ʼn slag en maak staat op ons geloof om ons en haar deur te trek,” sê Katie.

“Ons was vreeslik onkant gevang, maar Farren bly deurlopend positief en laat ons daagliks glimlag met haar blinde optimisme.”

Farren is tans in die proses om nog ʼn sarsie chemoterapie te kry. Dié behandeling is glo aansienlik sterker as die vorige kere, daarom moet sy die meeste van die tyd in isolasie in die Parklands-hospitaal deurbring.

Desnieteenstaande is Farren daagliks ʼn bondel van vreugde wie se lewenslustigheid aansteeklik is.

“Ten spyte van haar lot slaag sy daarin om haar behandeling te verduur, elke dag haar groentesap te drink en haar skoolwerk te doen, alles terwyl sy in die hospitaalgange op en af hardloop,” het Katie vroeër vandeesmaand op Facebook geskryf.

“Sy het selfs eenkeer daarop aangedring om na die teater toe te stap vir behandeling, aangesien sy dink dit is onnodig om in ʼn rolstoel gevat te word as haar bene werk.”

Liefde, geld, tyd geskenk

Farren saam met haar ouers. (Foto: Verskaf)

Sedert Farren se diagnose het Katie, wat in die toerismebedryf werk, haar werk na ʼn skootrekenaar in die hospitaalsaal geskuif waar Farren haarself so gereeld bevind. Tussendeur probeer Elrigh steeds sy funksionele fiksheidsgimnasium aan die gang te hou.

Hoewel dié gesinnetjie bevrees was dat die diagnose hulle gaan kniehalter het honderde lede van die gemeenskap saamgespan om hulle in gebed op te dra en die broodnodige geld vir Farren se behandeling te skenk.

“Ons waardeer elke gebed, boodskap, onbaatsugtige daad en liefde, asook elke skenking wat help om die finansiële las van Farren se behandeling en sorg te verlig,” sê Katie.

Volgens Katie word hulle daagliks met gebede omvou, terwyl vriende en familie gereeld hulle yskaste vol hou en hulle moed inpraat.

Die familie se grootste hoop is dat die vreugdevolle en lewenslustige Farren se gesondheid tot só ʼn mate sal verbeter dat sy weer die lewe ten volle kan geniet.

“Die siekte is aaklig, maar dit is wonderlik om te sien watter goedheid, liefde en waardering daaruit gekom het.”

  • Klik hier om ʼn bydrae tot Farren se behandeling te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Zombie ·

“Kankerkind” klink darem so hard. Die kind wat met kanker gediagnoseer is, se menswees is groter as haar diagnose. Ons harte gaan uit na die kindjie en haar ouers.

AmY ·

Ek haal my hoed af vir die dapper kind.
Baie sterkte meisiekind, glo jy gaan sommer gou weer gesond word.

Papsak ·

So bitter hartseer te dink kankerby n lielike kind sterkte

Thom ·

Gelukkig word deurentyd nuwe deurbrake gemaak met die behandeling van leukemie .

Irene ·

Fantasties…….sterkte kleinding en sterkte vir julle as ouers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.