Duisende boere doen aansoek om Covid-19-hulp

(Foto: pixabay)

Die departement van grondhervorming en landbou sê altesaam 42 444 aansoeke om hulp aan boere uit die Covid-19-landbourampondersteuningsfonds is ontvang. Aansoeke het reeds gesluit.

Die departement het vroeër R1,2 miljard bewillig om veral kleiner boere te help om te midde van die ekonomiese krisis staande te bly. Boere met ʼn omset van tussen R50 000 en R1 miljoen per jaar kon aansoek doen om hulp.

Die minister, Thoko Didiza, het gesê sy is tevrede met die blitsige reaksie deur klein- en gemeenskaplike boere.

Die departement sê hy het reeds die aansoeke begin evalueer en hoop om dié proses teen 8 Mei af te handel. Suksesvolle aansoekers sal daarna hul koepons of koopbewyse ontvang waarna hulle dit by verskeie handelaars en koöperasies sal kan gebruik.

Hulp word beperk tot R50 000 per boer en sluit in bystand in die vorm van voer en dieremedisyne, saailinge, kunsmis, saad en onkruiddoder.

Die landbouorganisasie Saai sê egter daar was talle probleme met die indien van vorms. ʼn Aansoekvorm moes gedruk en persoonlik by ʼn kantoor van die departement ingedien word.

Theo de Jager, voorsitter van Saai, het gesê talle boere wat die vorm wou gaan indien, is boonop in padblokkades voorgekeer en aangesê dat die indien van die vorm nie ʼn noodsaaklike diens is nie. Baie van die departement se kantore was boonop gesluit.

Saai het self ʼn digitale weergawe van die vorm aan boere beskikbaar gestel. De Jager het gesê Didiza het ʼn dag voor die sluitingsdatum vir aansoeke gesê die departement sal dit oorweeg om dié aansoeke ook te aanvaar.

“Van die kleiner boere het ons selfs al gevra om die hof te nader om die proses ongeldig te laat verklaar,” het De Jager gesê.

“Ons gaan beslis vra vir ʼn behoorlike oudit vir die toekenning van die geld. Die hele program is saamgestel sonder ʼn enkele vergadering van die portefeuljekomitee oor landbou daaroor. Gegewe die geleentheid vir bedrog en die departement se baanrekord, is dit noodsaaklik dat ʼn oudit gedoen word.”

Die departement het gesê nóg hulpprogramme sal binnekort aangekondig word. Boere wat nie hul aansoeke nou betyds kon indien nie, kan vir daardie programme aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael 1 ·

Dit is darem iets solank huidig benaadeelde boere sowel as voorheen benaadeelde boere dieselfde hulp ontvang.

daniel ·

Mense wie dink dat daar nie skelmstreke gaan wees nie, moet weer dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.