Duisende Bulletjies baljaar in Pretoria

Foto: Verskaf.

“Help ons dat niemand seerkry nie,” is die hoorbare gebed van een van die jong spelers by gister se Sasol Bulletjie-rugbydag by Midstream Ridge Laerskool.

“O ja,” gaan hy baie ernstig voort. “Help ons ook om vorentoe te hardloop en nie agtertoe nie.”

En danksy die onskuldige geloof van ’n kind het nie een van die betrokke spanne juis van hul teenstanders se doellyn weggehardloop nie, terwyl elke drie met ongekende jolyt gevier is.

’n Soortgelyke toneel het waarskynlik ook by ’n rits ander wedstryde afgespeel en mensig, daar was omtrent vir jou rugby gespeel.

Foto: Charmaine Visser.

Altesaam 39 laerskole – van die gasheerskool tot Garsfontein, en van Tygerpoort tot Broederstroom – het vir 365 spanne gesorg terwyl 3 677 opgewonde spelers hul vaardighede op ’n magdom klein rugbyveldjies uitgestal het.

Vergeet maar eers van Loftus Versfeld, Twickenham of Eden-park; Midstream Ridge was gister (al was dit net vir ’n rukkie) die hartklop van wêreldrugby.

Voeg daarby springkastele, kosstalletjies, Bulletjie (die Bulls se amptelike gelukbringer) en ’n fotogeleentheid by die Superrugby Unlocked-trofee en jy sit met ’n aksiebelaaide rugbydag by dié skool.

Riaan Langehoven en sy toegewyde span van die Laerskole Bulletjierugby-bestuur verdien ongetwyfeld ’n klop op die skouer: Dit was die grootste Bulletjierugbydag nóg by ’n laerskool, terwyl dit ongetwyfeld ook een van die lekkerste sportbyeenkomste was sedert die Covid-19-regulasies aangepas is.

Soos wat die skool tereg later in ’n verklaring gesê het: die krag van sport en die gemeenskap is beslis gevier.

Foto: Charmaine Visser.

Een van die redes vir Bulletjie-rugby se sukses is die feit dat spelers se niekontakvaardighede opgeskerp word.

Dan is beserings minimaal juis omdat hulle nie op dié vlak kontakrugby speel nie, maar eerder RIP-rugby.

Aan elke speler word daar ’n paar stukke materiaal vasgemaak en verdedigers moet dan – in plaas van têkkel – die linte losruk.

“Die RIP-formaat verbeter alle aspekte van ’n jong speler se spel – hul hardloop- en balvaardighede, hand-oog-koördinasie, besluitneming op die veld en die samespel tussen spelers. Groot en klein spelers kry só ook die geleentheid om deel te wees van die spel,” het Langenhoven in ’n vorige onderhoud gesê.

Maar ná gister se aksie het hy dinge perfek opgesom: “Al die spanne het lekker gejol!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tandjies ·

Ek was daar, die skool het baie moeite gedoen en dit was beslis n dag vir die boeke.
Dankie Midstream Ridge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.