Duisende by hof verwag vir Zuma-verskyning

Voormalige pres. Jacob Zuma (Foto: ANA)

Die eThekwini-metropolisie het motoriste aangeraai om die gebied rondom Durban se hooggeregshof Vrydag te vermy aangesien Jacob Zuma, voormalige president, na verwagting in dié hof sal verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie wat verwant hou met die omstrede 1999-wapentransaksie.

Parboo Sewpersad, ʼn senior superintendent by die metropolisie in eThekwini, het aan African News Agency gesê verskeie paaie sal vanaf 06:00 Vrydag gesluit wees. Daar word verwag dat sowat 5 000 optoggangers vanaf Dinizulupark na die hooggeregshof sal stap.

Volgens hom sal die metropolisie en die polisie die aktiwiteit van ʼn gedeelde sentrum af dophou.

Permitte is ook uitgereik vir 2 000 mense om Donderdag vanaf 18:00 ʼn nagwaak by te woon in Albertpark.

Biskop Bheki Ngcobo van die National Interfaith Council of South Africa (NICSA) het gesê dié reuse-gebedsamekoms sal plaasvind voor die verrigtinge.

Verteenwoordigers van NICSA, die kommissie vir religieuse aangeleenthede (CRA), Andile Mngxitama van Black First Land First en die omstrede “sakeforum” Delangokubona het almal die inligtingsessie bygewoon en sal na verwagting ter ondersteuning van Zuma aan die optog deelneem, saam met ondersteuners wat met busse van oor die land aangery sal word.

Volgens Ngcobo het hy inligting ontvang dat daar “elemente” is wat saamtrek om Donderdag en Vrydag chaos te veroorsaak en ten doel het om Zuma-ondersteuners as “anargiste” uit te beeld.

Deelnemers werk egter nou saam met wetstoepassers om te verseker dat die aktiwiteite vreedsaam verloop.

“Dit is ʼn bron van kommer dat Zuma al die jare onderwerp is aan ʼn veldtog om hom te isoleer. Kan dit wees dat Zuma geteiken word omdat hy altyd aan die armes se kant is?” het hy gesê.

Volgens Ngcobo is dit moontlik dat Zuma geteiken word omdat hy baklei het vir toegang tot grond en om te verseker dat Suid-Afrika in die ekonomiese blok van Brics (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) ingesluit word.

Hy meen dit is glad nie verrassend dat Zuma reeds skuldig bevind is deur die “hof van openbare mening” nie. Volgens hom is die aanname van onskuld tot skuldig bewys egter ʼn wesenlike reg van elke mens.

Volgens Ngcobo is die volwassenheid wat Zuma met sy bedanking getoon het ʼn bewys van sy onselfsugtigheid en liefde vir die ANC.

Die wapentransaksie, wat oorspronklik bekend gestaan het as die Strategic Defence Procurement Package en die belastingbetaler sowat R30 miljard uit die sak gejaag het, was vir die aankoop van lug-, see- en grondverdedigingstelsels.

Dié transaksie word wyd gekritiseer as korrup en verskeie hoës is as gevolg daarvan vervolg.

Die Sereti- kommissie van ondersoek het egter in ʼn verslag van April 2016 bevind die bewyse wat voorgehou is, dui nie daarop dat onregmatige of onbehoorlike invloed ʼn rol gespeel het in die keuse van die verkose bieërs nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Apie ·

Hoop nie hierdie optredes beinvloed die regter (soos ons so gereeld sien) nie. As Zuma skuldig bevind word, moet hy met alle mag “geslaan” word.

hendrik ·

Apie, wat beteken “slaan” eintlik want een van hulle het tydens n onderonsie vir my gese hy gaan my “slaan”.

Daan Erasmus ·

Wie is hierdie regter Seriti wat die wapen transaksie ondersoek het. Hy was “moontlik” gekaap. Ons moet dit versigtig bewoord. Waar is hy. Wat doen hy nou.

Piet ·

Soos nou al gewoonte geword het sal die verrigtinge nie langer as vyf minute duur nie. Dan word dit uitgestel na ‘n latere datum “omdat die verdediging nog nie kans gehad het om al die stukke deur te lees nie.” Ek sou glad nie omgegee het indien die berig sou afgesluit kon geword het met : “Tot daardie datum bly die aangeklaagde in aanhouding” nie. Inderdaad, ‘n aangeklaagde is nog nie skuldig bevind word nie, maar hy/sy kan wel in aanhouding gehou word, totdat die teendeel bewys word.

SjN ·

die klomp wat gaan betoog is seker werkloses wat tans staatstoelae kry, dit is hoekom dit so gaan in die land.

Johann cb ·

Ons gaan ongelukkig nog sy “nalatenskap” voel vir nog baie jare om te kom!

LouE ·

Wonder of hy in die beskuldigde bank gaan staan, of gaan hulle vir hom sitplek gee waar die prokureurs altyd sit?

Oom Kalahari ·

Dat hierdie saak uitgestel gaan word vir paar keer is verseker nie uitgesluit nie. More sal Mnr Zuma se paar Sangomas voor die hofsaak eers die wonder bene gooi wat die saak sal bepaal saam die massas wat optog neem. Is dit hoe geregtigheid deesdae toegepas word met massa manupilasie en as dit nie na hul wense verloop dan is dit geweld, skade en brand. Los liewer al die Hof se tyd verkwisting asook die belastingbetaler se miljoene rande wat gemors gaan word tot niks en wend daardie gelde aan waar die land dit werklik benodig. Laat Mnr Zuma op Nkandla gaan sit en rus by sy brandbestrydings swembad, want sy ouderdom gaan in elk geval ‘n rol speel. Alles loop net op ‘n foefie en tyd mors.

zoom zoom ·

Ek hoop sy guptas is daar vir zuma om hom by te staan in sy tyf van nood. Want tot en met hede weet zuma en al sy helpers nogsteeds mie wat hulle verkeerd gedoen het nie. Ai die man is so sag op die harte van sy bewonderaars en die rent a crowd wat hom gaan bystaan met al die kerke wat vir hom in sy lot vir h gaan bid. Die saak gaan jare vat sonder uitspraak.

Alida ·

Mens wonder nou of die duisende aanhangers dan nie werk nie. Indien wel wat se die werkgewers hiervan. Siek nasie. Geregtigheid moet geskied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.