Duisende by #SaveSouthAfrica-optog in PE

Suid-Afrika is “op die punt van ʼn ramp”, het die voorsitter van die #SaveSouthAfrica-beweging, Sipho Pityana, aan duisende inwoners gesê wat Dinsdag opgedaag het vir ʼn betoging buite die stadsaal in Port Elizabeth.

Inwoners uit alle oorde in Nelson Mandelabaai het by Vuyisile Mini-plein opgedaag en pres. Jacob Zuma se kop geëis.

Die afgedankte Mcebisi Jonas kon nie die optog bywoon nie, maar Pityana het die voormalige adjunkminister van finansies bedank dat hy “ʼn korrupte leier” aan die lig gebring het.

Jonas en die minister van finansies Pravin Gordhan is Donderdag in die middel van die nag afgedank tydens ʼn kabinetskommeling wat 10 ministers beïnvloed.

Top lede van die ANC, insluitend adjunkpresident Cyril Ramaphosa, het intussen Gordhan se afdanking veroordeel. Die rand het ook net ná die skommeling begin daal. Kredietgraderingsagentskappe het ook reageer en S&P Global het Suid-Afrika na rommelstatus afgradeer.

“Die president het die ANC en sy waardes verkoop, hy het ons land verkoop en ons moet Mcebisi Jonas bedank dat hy die verrotting ontbloot het en dat ʼn formele ondersoek nou moontlik is. Ons bedank hom dat hy standpunt ingeneem het om ons vryheid te beskerm en om Zuma se bewind as korrupte leier te beëindig, en daarom is hy afgedank,” het Pityana gesê.

Pityana het gesê die land het vinnig besef wat staatskaping is en dat die afdanking van Gordhan en Jonas nou “vrugbare grond” is vir die “Gupta-diewe”. Hy het gesê Gordhan en Jonas is afgedank op grond van ʼn sogenaamde intelligensieverslag “wat nie eers die papier werd is waarop dit geskryf is nie”.

Hy het ook die aanstelling van die nuwe minister van finansies Malusi Gigaba veroordeel en gesê die onlangse kabinetskommeling is ʼn “Gupta-staatsgreep”.

ANC-LP Judy Chalmers het ook die skare toegespreek. “Ons het nooit kon dink dat in drie kort dekades sou ons weer bymekaar moes kom in ʼn desperate struggle om ons land te bevry uit die greep van ʼn gulsige, gevoellose kabaal nie, maar hier is ons vandag en ons sal baklei om ons land terug te kry.”

Jong mense het ook Zuma se optrede veroordeel en ʼn lid van die ANC-jeugliga in Nelson Mandelabaai, Anele Madosi, het aan die skare gesê Zuma verkoop die land vir ʼn bord kerrie. “Ons fokus op #ZumaMustFall. Ons is siek en sat vir ʼn president wat ons land vir ʼn bord kerrie verkoop het. Ons is die grap van die wêreld. Amerika kan nie ophou lag vir ons nie. Selfs Zimbabwe. Hulle het gekla [Robert] Mugabe is ʼn diktator, hoekom verwyder julle nie Zuma as hy ʼn diktator is nie? Dis nou tyd om op te staan, Suid-Afrika!”

#SaveSouthAfrica is besig om ʼn groot optog te reël Vrydag van die tesourie na die Uniegebou. Volgens die beweging sal dit die grootste optog wees wat Zuma nog ooit gesien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

o ·

So, ANCYL staan toe nie so bankvas agter Zuma soos uit ander berigte blyk nie….

Asmain ·

Dit sal interessant wees om te sien hoeveel van die gesiggies wat nou betoog JZ must fall het in die vorige verkiesing vir die ANC gestem en gaan in alle waarskynlikheid in die vlg verkiesing weer vir hulle stem. Dit is vir meeste net nog n geleentheid om te toi toi en nog n dag van die werk af!

Pop ·

En met Angus se biddag die 22ste is dit verby my die diktator. Gisteraand op TV gesien Zuma is heel rustig en glad nie gepla nie. Verstommend. Presies dieselfde houding van Mugabe. Hierdie land se mense moet hom nou verwyder voor daar veel meer water in die see loop. Hy moes trouens al weg gewees het. Ek dink hy maak staat op sy weermag en polisie diens. Hopenlik sal die ANC ringkoppe voor dit so ver gaan ontslae raak van hom.

jaco ·

Ek sien daar was ‘n ANC-LP ook teenwoordig. Op grond van haar naam is sy egter van die “verkeerde” ras om ‘n verskil te maak. Sy is anyway die laaste een wat ek by so ‘n betoging verwag het: met ‘n parlementêre salaris van meer as R1miljoen PER JAAR plus ander lekker voordele met behuising, ‘n grand kar, verniet vlieg en so aan, mors ELKE parlementslid eintlik maar belastingbetalers se geld. En die wat al jare daar sit, het met al daardie geld al genoeg gespaar vir ‘n klomp mini-Nkandlas.

humor ·

Izak nou het jy hom ” wragtag” gese soos hy moet gese word.

Marie Visser ·

Politieke partye in Mosselbaai is aan die slaap, ons het nog geen kennisgewing van ‘n optog vir Vrydag ontvang nie. Tragies!

marous ·

Mense in strate gaan weer plundery en ghaos veroorsaak en vir wat? Hoe roekeloos kan politici raak om die man op straat op te sweep om hul onbevoegdheid om dit op parlementere vlak deur te voer te verbloem? Hulle is net so skuldig indien nie meer , as die pion wat hulle wil laat kantel !

Soltykat ·

Dis nou nogal ‘n ander ding…. Ons kan nie net almal weg bly van die werk nie en om ‘n kans te vat met twee klein kindertjies in ‘n kar. Ek weet net nie. Daar is webblaaie wat se dat daar protesoptogte in al die dorpe gaan wees. My huiswerker het reeds gese sy gaan nie kan kom werk vrydag nie. Wonder net hoe vreedsaam sal so iets kan wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.