Duisende by Solidariteit Beweging Toekomsberaad verwag


Flip-Buys-Toekomsberaad

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, verduidelik waarop die Toekomsberaad van 10 Oktober sal fokus. Foto: Esté Meyer Jansen.

Duisende afgevaardigdes, lede en vriende van instellings van die Solidariteit Beweging sal na verwagting Saterdag 10 Oktober in Pretoria byeenkom vir die historiese Toekomsberaad.

Dié beraad volg die Krisisberaad op, wat op 5 Mei vanjaar gehou en deur 1 500 mense by die Voortrekkermonument bygewoon is. Verskeie resolusies is toe aanvaar ter oplossing van die land se kernprobleme. By die Toekomsberaad sal omvattende werkbare planne vir dié probleme bekendgemaak word.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die planne is gegrond op die idee van selfstandigheid vir Afrikaners. “Die beraad gaan werklik ’n geskiedkundige gebeurtenis wees waar van die grootste planne wat nóg deur burgerlike instellings beraam is, aangekondig sal word. Geen plan sal aanvaar word as ons nie weet dat dit in werking gestel kan word nie. Deur dié planne wil ons die grondwetlike ruimtes vir kultuur en taalgemeenskappe prakties opneem. Regte vir gemeenskappe word nie vanself werklikheid nie. Gemeenskappe moet self deur doeltreffende burgerlike instellings hul plek inneem.”

Meer as 20 werkskomitees het die afgelope maande gewerk om die planne voor te berei wat voortgevloei het uit die meer as duisend insette wat die Solidariteit Beweging ná die Krisisberaad ontvang het

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging, het gesê van die planne wat bekendgemaak gaan word, fokus daarop om gelykheid in die werksplek te bevorder en onbillike rassediskriminasie te verhoed. Dié planne is deel van die proses wat tans in Genève aan die gang is om die Suid-Afrikaanse regering oor rassekwotas by die VN aan te kla.

Ander planne wat bekendgemaak gaan word, sal daarop fokus om toegang vir Afrikaners tot goeie werk te verseker.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat dié burgerregte-organisasie dit by sy afgelope Nasionale Kongres duidelik gemaak het dat die tyd vir selfdoen aangebreek het. “Die staat is besig om teen ’n kommerwekkende tempo te verval. Basiese regeringsfunksies word nie meer na behore vervul nie en dit is duidelik dat Afrikaners deur die regering en die ANC as politieke slaansakke gebruik word.

“Afrikaners kan nie hul hoop op die regering plaas om vir hulle ’n toekoms te skep nie. Ons wil self besluit oor sake wat ons regte raak en daarom sal ons meer intensief betrokke raak by selfdoen-aksies, soos ingryping op die vlak van plaaslike regering en veiligheidsinisiatiewe om vir ons ’n goeie toekoms te skep.”

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, sê dié organisasie se planne gaan daarop fokus om die geskiedenis terug te eis van diegene wat dit wil “kriminaliseer”. “Ons wil ʼn ewewigtige beeld oor die geskiedenis uitstuur.”

Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het gesê beraadgangers sal ingelig word oor die organisasie se skole-ondersteuningsentrum (SOS) wat daarop gemik is om steundienste vir kinders te lewer. Daar sal ook aangekondig word hoe die Helpende Hand Studiefonds vir jong mense uitgebrei sal word om te verseker dat elkeen wat wil, kan studeer en sy of haar volle potensiaal kan ontgin.

Brink het voorts gesê omvattende planne sal ook bekendgemaak word oor hoe armoede verlig, voorkom en verbreek kan word.

Die Toekomsberaad gaan by die Heartfelt Arena in Pretoria aangebied word. Daar is beperkte plek en voorafbesprekings is noodsaaklik. Belangstellendes kan www.toekomsberaad.co.za besoek om te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johannes Meintjes ·

Ons hou baie graag en reikhalsend die horison dop vir die effektiewe, samewerkende en daadwerklike vrugte van hierdie (nog ‘n volks/ Afrikaner) beraad …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.