Duisende by Toekomsberaad verwag

Flip-Buys-Toekomsberaad

Flip Buys die voorsitter van die Solidariteit Beweging tydens die Toekomsberaad se mediakonferensie in September. Foto: Reint Dykema.

Duisende afgevaardigdes, lede en vriende van instellings van die Solidariteit Beweging sal na verwagting Saterdag 10 Oktober in Pretoria byeenkom vir ʼn historiese Toekomsberaad.

Dié beraad volg op die Krisisberaad wat op 5 Mei deur sowat 1 500 mense by die Voortrekkermonument bygewoon is. Verskeie resolusies is toe aanvaar ter oplossing van die land se kernprobleme. By die Toekomsberaad sal omvattende werkbare planne vir dié probleme bekendgemaak word.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die planne is geskoei op die idee van selfstandigheid vir Afrikaners. “Die beraad gaan werklik ’n geskiedkundige gebeurtenis wees waar van die grootste planne wat nóg deur burgerlike instellings gemaak is, aangekondig sal word. Geen plan sal aanvaar word as ons nie weet dat dit in werking gestel kan word nie. Deur dié planne wil ons die grondwetlike ruimtes vir kultuur en taalgemeenskappe prakties opneem. Regte vir gemeenskappe word nie vanself verwesenlik nie. Gemeenskappe moet self deur doeltreffende burgerlike instellings hul plek opneem.”

Meer as 20 werkkomitees het die afgelope maande gewerk om die planne voor te berei wat gevloei het uit die meer as duisend insette wat die Beweging ná die Krisisberaad ontvang het.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê van die planne wat bekendgemaak gaan word fokus daarop om gelykheid in die werkplek te bevorder en onbillike rassediskriminasie te verhoed. Dié planne is deel van die proses wat tans in Genève aan die gang is om die Suid-Afrikaanse regering oor rassekwotas by die VN aan te kla.

Ander planne wat bekendgemaak gaan word sal daarop fokus om toegang vir Afrikaners tot goeie werk te verseker.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat dié burgerregte-organisasie dit op sy afgelope nasionale kongres duidelik gemaak het dat die tyd vir selfdoen aangebreek het. “Die staat is besig om teen ’n kommerwekkende tempo te verval. Basiese regeringsfunksies word nie meer na behore vervul nie en dit is duidelik dat Afrikaners deur die regering en die ANC as politieke slaansakke gebruik word.

“Afrikaners kan nie hul hoop op die regering plaas om vir hulle ’n toekoms te skep nie. Ons wil self besluit oor sake wat ons regte raak en daarom sal ons meer intensief betrokke raak by selfdoen-aksies, soos ingryping op plaaslike regeringsvlak en veiligheidsinisiatiewe om vir onsself ’n goeie toekoms te skep.”

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, sê dié organisasie se planne gaan daarop fokus om die geskiedenis terug te vat van diegene wat dit wil kriminaliseer. “Ons wil ʼn ewewigtige beeld oor die geskiedenis uitstuur.”

Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het gesê beraadgangers sal ingelig word oor die organisasie se skole-ondersteuningsentrum (SOS) wat daarop gemik is om steundienste vir kinders te lewer. Daar sal ook aangekondig word hoe die Helpende Hand-studiefonds vir jongmense uitgebrei sal word om te verseker dat elkeen wat wil, kan studeer en sy volle potensiaal kan ontgin.

Brink het voorts gesê omvattende planne sal ook bekendgemaak word oor hoe armoede verlig, voorkom en verbreek kan word.

Die Toekomsberaad gaan by die Heartfelt Arena in Pretoria aangebied word. Daar is beperkte plek en voorafbesprekings is noodsaaklik. Belangstellendes kan www.toekomsberaad.co.za besoek om te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

DS ·

Mag net lede die Toekomsberaad bywoon? Of is dit oop vir die publiek?

Verseker ·

Ek dink jy mag registreer as “vriend” van een van die twee bewegings. My man is geregistreer en hy is nie lid van Afriforum óf Solidariteit nie (alhoewel ek is). Sterkte!

Retha ·

Sal graag wil kom, maar te bang hulle teiken ons op die dag………….

Retha ·

Maroelamedia????? julle verwyder alewig my kommentaar!!! EK HET NIKS VERKEERDS KWYT GERAAK NIE – BLOOT ‘N POTENSIELE PROBLEEM UITGELIG.

Vatvyf! ·

Wel, ek en my beterhelfte is daar – uitstekende inisiatief. Die klaers sit almal op hulle spekkies, en vou die handjies same. Tyd om daadwerklik iets te doen – word deel van die oplossing. Verkieslik sonder die alewige Afrikaner-stryers wat nie eers meer langs dieselfde braaivleisvuur kan sit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.