Duisende doen aansoek vir 25 brandweerposte

Argieffoto

Argieffoto

Die Kaapstadse brandweer- en reddingsdienste is toegegooi onder duisende aansoeke nadat hy 25 leerlingposisies beskikbaar gestel het.

Die stad het Sondag in ʼn verklaring gesê hy is besig om die werwing en opleiding van die 25 nuwe leerlingbrandweermanne te finaliseer nadat hy die posisies vroeër die jaar geadverteer het.

Al die aansoekers moes aan ʼn stel basiese kriteria voldoen, soos om ʼn matriekkwalifikasie en kode 8-bestuurslisensie te hê. Hulle moes ook ʼn aantal streng fisieke assesserings voltooi, soos om ʼn 2.4km-wedloop binne ʼn vasgestelde tyd te hardloop, ʼn leer klim, ‘n dooie gewig dra en ʼn claustrofobie-toets slaag. Hulle moes ook ʼn geskrewe toets oor wiskunde en begrip slaag.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid van veiligheid en sekuriteit, het gesê die hoeveelheid aansoeke is ʼn aanduiding van die aantrekkingskrag van brandbestryding as beroep. “Dit spreek egter ook tot die hoë vlak van werkloosheid wat ʼn realiteit is wat so baie jongmense in die gesig staar. Selfs wanneer ons posisies vir ons ander dienste beskikbaar stel, sien ons duisende aansoekers wat opdaag in die hoop om vaste werk te kry.”

Die suksesvolle kandidate sal op ʼn kontrakbasis aangestel word totdat hul opleiding voltooi is. Indien al die kandidate die opleiding suksesvol voltooi, sal die brandweer se aktiewe brandbestrydingskomponent op 898 lede te staan kom.

“In terme van nasionale standaarde wat vir brandbestrydingkapasiteit gestel is, is ons nog nie waar ons moet wees nie, maar Kaapstad is beter toegerus as enige ander stad in Suid-Afrika,” het Smith gesê. “Die stad werk stelselmatig om die brandweer- en reddingsdienste te herbou van die uitgeputte en verwaarloosde toestand waarin ons dit in 2006 gevind het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Hier by ons lê van die brandweerpunte (krane) toegegooi onder grond. Ook ‘n groot brandweerwa wat in ‘n ongeluk (omgegooi?) was het van ten minste Julie verlede jaar tot Febr/Maart vanjaar by die plaaslike polisiestasie gestaan.
Ek verneem dat die enetjie agter die stuur het nie oor die nodige lisensie beskik ten tye van die ongeluk, gevolglik betaal die versekering nie vir die glipsie.
Nou is die vraag waarheen het die wa verdwyn ? Sekerlik ook al gestroop van sy goed ?
Gelukkig is hier ‘n besigheidsman met ‘n ruim hart wat se twee seuns met hulle Unimogs die brande bestry.
Munisipaliteite = middelmanne waarsonder ons kan klaarkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.