Duisende ‘dooies’ eis Ters-geld

(Foto: Facebook)

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) het reeds duisende bedrieglike eise vir sy tydelike verligtingskema (Ters) ontvang. Dít sluit in eise wat namens persone wat dood is of met bedrieglike identiteitsnommers ingedien is.

Makhosonke Buthelezi, woordvoerder van die WVF, het Maandag in ’n verklaring gesê meer as 4 000 eise is gedurende April en Mei vanjaar namens persone wat reeds dood is by die fonds ingedien.

Volgens Buthelezi het die fonds boonop bykans 50 000 (48 189) eise gedurende April ontvang wat met ongeldige identiteitsdokumente ingedien is. Altesaam 43 176 eise is op dié wyse gedurende Mei by die WVF ingedien.

“Daar was ook ID-nommers wat op geen stelsel gevind kon word nie. In April was daar 106 488 [van dié eise] en in Mei was daar 84 278. Die stelsel sou die eise onmiddellik uitgeskop het,” het Buthelezi verduidelik.

“Ons volg elke sent wat ons uitbetaal en sal voortgaan met die verwerking van geldige eise, maar sommige van hierdie eise kan om ooglopende redes nié verwerk word nie,” het Teboho Maruping, kommissaris van die WVF, op sy beurt verduidelik.

Luidens die verklaring het die departement van arbeid en indiensneming tot op hede reeds R31 miljard deur middel van 6 900 391 betalings uitbetaal. Die WVF loop egter gereeld onder kritiek deur aangesien talle begunstigdes se eise nog nie uitbetaal is nie.

Volgens Buthelezi werk die WVF onverpoos om te verseker dat diegene wat nog nie betaal is nie, maar geldige eise het, hul uitbetalings ontvang.

“Ons is uit sekere oorde aangeval, soms verdiend, omdat ons nie betyds betaal het nie, maar in werklikheid moes ons sorg dat die stelsel nie uitgebuit word nie. Ons verstaan ​​die frustrasie wat sommige mense ervaar, maar dit is absoluut noodsaaklik dat ons toesien dat ons die fondse aan verdienstelike mense uitbetaal,” het Buthelezi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Wat verwag mens van die klomp ….die regering leer almal dan hoe dit gedoen word. Waar is stortkop ook. alles is maar stil vir die groot skelm van S.A – Zuma.

Scalla ·

Waar is die Fica vereistes ens, fondse kan mos nie in derde party se rekening betaal word nie?

Johann ·

Whahahahaaaa!!!!!!! Ja shure, jy weet presies wat jy doen? En my ouma grooitjie se oupa is n branderplank ingeneur! Al wat jy en jou mede vergrypers van verseker is is dat julle lekker vir julle self en julle pelle skep!

Frederik C ·

As daar so ‘n opgradeerde rekenaarstelsel by die WVF is , is daar waarskynlik net so ‘n stelsel by binnelandse sake ook. Wat my steeds laat wonder hoekom SA nie elektroniese verkiesings kan hou nie. Dit sal korrupsie, met oa dooies wat stem, uitskakel.

Carina ·

Fredirik – sê ek ook mos al lankal. Hoekom kan daar nie elektroniese verkiesings gehou word nie? Dit sal alle korrupsie uitskakel, jy kan net 1x stem, dooies kan nie stem nie, “ingevoerde stemmers” kan nie stem nie, daar is nie bederfde briewe nie, jou stem word dadelik verwerk, en sodra die lokale toemaak is die resultate beskikbaar. Niemand “behoort” daarmee te kan peuter nie, maar alles is mos maar mens gemaak, so mens weet nooit. Maar dit sal verseker baie meer akkuraat wees.

Johanncb ·

Hulle “volg elke sent” wat uitbetaal word! Tog is meer as R5 miljoen in een oneerlike persoon se rekening deponeer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.