Duisende dronkbestuursake glo oor uitstaande bloedtoetse vertraag

Argieffoto Foto: stevepb, Pixabay

Die DA in Gauteng het Sondag gesê 43% van dronkbestuursake in die provinsie kon nog nie gefinaliseer word nie aangesien die betrokke laboratoriumbloedtoetse nog nie afgehandel is nie.

Die opposisieparty het gesê meer hulpbronne moet aan forensiese laboratoriums in die provinsie verskaf word. “Vir die 2016/17 en 2017/18 finansiële jare is 53 414 mense in Gauteng vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Tog is net 22 915 (43%) van hierdie sake afgehandel weens uitstaande bloedtoetse,” het Michele Clarke, DA-lid in die Gautengse wetgewer, gesê.

Clarke het gesê in byna elke geval is ʼn bloedtoets op die vermeende oortreder gedoen, maar net 23 892 van dié bloedtoetse se uitslae is beskikbaar.

Sy het beklemtoon dat Gauteng ʼn baie hoë padsterftesyfer het en dat die minister van vervoer elke jaar ʼn skokprentjie skets van hoe hierdie syfer toeneem.

“Duur en uitgebreide padveiligheidsprogramme word jaarliks van stapel gestuur, maar dit is tevergeefs aangesien motoriste wat die wet oortree weet hulle sal geen strafmaatreëls in die gesig staar nie. Die agterstand van bloedtoetsresultate in die provinsie vertraag die strafregstelsel en op so ʼn wyse word geregtigheid vertraag. As geregtigheid uitgestel word, sal wetteloosheid voortgaan om te floreer.”

Clarke het gesê sy sal aan Sizakele Nkosi-Malobane, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, skryf om te vra watter stappe sy al gedoen het om haar eweknieë in die nasionale regering te versoek om meer hulpbronne aan forensiese laboratoriums in die provinsie beskikbaar te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Louis ·

Die straatlig in Alverstoke laan Strubensvalley werk nie Sonja Meyer. Al 8 maande. Jy het my belowe dit sal aandag kry in Die Wyk verkiesing. Los die dronkies eers.

Hanna Hoekom ·

So n paar jaar gelede was hierdie einste instelling in die nuus oor hulle geweier het om blankes in diens te neem ten spyte van kritieke personeel tekorte. Go figure…

Koos ·

Lippediens dis al. Bloedverslae is nie uiters noodsaaklik om bestuur onder die invloed te bewys nie. Die probleem is lui en onbevoegde aanklaers in baie gevalle.

realis ·

Na 18 maande se gewag kom die bloed toets resultaat by die hof aan.
Prokureur kry die verslag en vind dat die toets stel 2 jaar verby sy verval datum was.
Saak word uit die hof gegooi.
Ek het weg gekom.

Ella ·

En…. drink en bestuur jy nog steeds? Volgende keer is jy dalk nie so gelukkig.
Hoe lank bly so n toets geldig vir ontleding?

Koos ·

Ella, lees weer. Hy praat van die toetsstel (test kit) nie die toets nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.