Duisende gaan opruk na Harare vir ‘beter leierskap’

Robert Mugabe, president van Zimbabwe (Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi)

Zimbabwiërs gaan na verwagting Saterdagoggend in hul duisende na die hoofstad Harare opruk nadat dié land se weermag Vrydag laat ʼn massa-optog vir “beter leierskap” goedgekeur het.

Die Zimbabwiese weermag het Vrydag in ʼn verklaring gesê hy sal die optog “ten volle ondersteun” uit respek vir vryheid van uitdrukking en beweging.

Dit volg nadat die weermag glo deur verskeie private vrywilligersorganisasies genader is wat versoek het dat hulle hulself “wil uitdruk in ʼn optog en vrylik rondbeweeg sonder vrese”.

“Solank die beplande optog ordelik en vreedsaam is, nié die handves van regte oortree nie, binne die grense van die grondwet bly en daar nie haatspraak en geweld aangemoedig word nie, ondersteun die weermag die optog ten volle,” lui die verklaring.

Die weermag het gesê dat hy “vordering maak” in sy planne met die regering en het betogers gewaarsku om nié te plunder nie.

Die betoging sal na verwagting om 08:00 by Vierdestraat by die bushalte in Highfields begin voordat die groep na die ampswoning sal opruk.

Die amptelike betoging sal om 10:00 afskop by Freedom Square in die hoofstad.

“Ons doen ʼn beroep op alle Zimbabwiërs. Die weermag het die pad vir ons geplavei. Kom ons gaan maak ons wense nou bekend. Ons soek ʼn nuwe Zimbabwe en ons soek dit nou,” lui een van die plakkate wat op sosiale media versprei word.

Optogte teen Mugabe word na verwagting ook beplan in Windhoek, Namibië, Johannesburg, Kaapstad, Belfast in Ierland en Londen in Engeland. Die optogte in dié gebiede kon egter nie bevestig word nie.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, en Bongani Bongo, minister van staatsveiligheid, is steeds in Zimbabwe. Dit is steeds nie duidelik of hulle al met Mugabe vergader het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

THEA SWART ·

ons kan ongelukkig nie daar wees nie maar in ons harte is ons saam met julle almal –

Orde ·

Ek voorspel ORDE: Geen klipgooiery, bande brand, winkels plunder ens., want die weermag is nie slapgat soos die SAPD en weermag hier by ons. Natuurlik is die prez van Zim verwyder wat nie by ons die geval is.

H.A. ·

O wee, die gesang het begin. Hoop hulle woorde is volhoubaar vir die volgende twaalf maande.

Eish ·

Ek dink nie so nie. Het jy al gesien hoe oordadig vrywilliglik gee jy jou beursie, motor en selfoon aan n onbekende met n pistool teen jou kop?

Dejager Booysen ·

Beter leierskap?
Dalk iemand soos Ian Smith?
D.B.(Pretoria)

jcwf ·

Laat ons hoop en bid dat dit beter gaan word.
Dit kan mos nouliks slegter word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.