Duisende gesondheidswerkers steeds nié ingeënt

Maande nadat die regering se inentingsprogram afgeskop het, is minder as die helfte van gesondheidswerkers ingeënt. (Foto: Hakan German/Pixabay)

Minder as ʼn week voor die tweede been van die regering se entstofprogram afskop, wag meer as die helfte van Suid-Afrika se gesondheidswerkers steeds om die entstof te ontvang.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Maandag op Twitter onthul dat 414 337 gesondheidswerkers in Suid-Afrika reeds die entstof ontvang het.

“Dit is ’n fraksie van die totale aantal gesondheidswerkers wat nog bereik en ingeënt moet word. Dit is ʼn reuse-onreg dat meer as 700 000 gesondheidswerkers ná maande steeds nie teen Covid-19 ingeënt is nie. Dít terwyl ons op die rand van ’n derde vlaag staan,” het Siviwe Gwarube, die DA se skaduminister van gesondheid, gesê.

Die wêreld het boonop Woensdag Internasionale Verpleegdag gevier.

“Die erkenning van verpleërs was nog nooit so belangrik soos nou terwyl dié wêreld teen ’n pandemie veg nie. Boonop is daar min om te vier gegewe die feit dat die voortsetting van die entstofprogram teen ʼn slakkepas verloop,” sê Gwarube.

“Die uitrol van ’n entstof sal op verpleërs, wat die ruggraat van die gesondheidstelsel is, neerkom. Daarom is dit belangrik om te verseker dat elke gesondheidswerker sonder verdere uitstel ingeënt word,” sê Gwarube.

Hy sê voorts dat daar met gesondheidswerkers se lewens gespeel word deur hulle van ’n geleentheid op ʼn “lewensreddende” entstof te ontneem.

“Ons het reeds die vernietigende gevolge van die eerste en tweede vlaag se infeksies gesien en gevolglik talle gesondheidswerkers verloor. Ons kan nie bekostig om hierdie entstofproses te verbrou nie,” sê Gwarube.

Fase 2 van die inentingsprogram word Maandag 17 Mei begin en luidens berigte het duisende mense reeds aanlyn geregistreer om die entstof te ontvang. Mense ouer as 60 jaar sal tydens dié fase geprioritiseer word.

Mkhize het sowat twee weke gelede foto’s op Twitter gedeel toe die eerste aflewering Pfizer-entstowwe op die OR Tambo-lughawe aangekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

So karring ons voort….wil alles nasionaliseer en monopoliseer maar kan net uitblink in uselessness. Die grootse kwaad wat SA nog getref het is die ANC – drie haatlike lettertjies wat net ellende baar.

JohanR

Wel ons weet darem ons president is ingeent. Hy is seker ook ‘n tipe gesondheidwerker? Hy was tweede in die lyn toe die vlietuig land met die eerste entstof. As ietsie gebeure met Cyril dan kry ons vir David Mabuza…..oe wee!

Manie

Die entstof gaan al verval het teen die tyd dat al die gesondheidswerkers en bo 60″s ingeënt is.

Johann

SHAME ON YOU!!!!! Maar hey…hulle is meer gepla oor wie skryf vir wie n brief as die welstand van ons as landsburgers en beslis nie geworry oor gesondheids sorg nie. Daar is mos n privaat sisteem wat hulle met hulle NHI gaan oorvat?

Johanncb

Hierdie inenting gaan op ‘n klug uitloop! Ek het op 3 Maart registreer, en niks het daarvan gekom! Op 7 Mei registreer ek wéér, en wag steeds! Ek het die SMS ontvang om te bevestig, maar dit blyk nutteloos te wees! Hoe kan jy twee keer met jou identiteisnommer registreer? Die rekenaarstelsel laat dit toe!