Duisende gestrand weens taxi-staking

Argieffoto

Duisende pendelaars is Woensdagoggend gestrand gelaat nadat Metrorail sy bedrywighede gestaak het as gevolg van die voortslepende staking van taxi-operateurs.

Lilian Mofokeng, woordvoerder van Metrorail, het gesê Metrorail se dienste van Mabopane tot Soshanguve is tydelik gestaak as gevolg van die gewelddadige optogte van die taxi-operateurs.

“Hulle het die treinspoor onder die Ruth First-brug met voorwerpe geblokkeer. Treine draai nou by die Kopanong-stasie. In Pienaarspoort draai treine by Mamelodi Gardens aangesien voorwerpe gebrand word by die Pienaarspoort-spooroorgang,” het Mofokeng gesê.

Mofokeng het gesê dit is betreurenswaardig dat treindienste altyd geraak word wanneer betogers hul misnoeë met iets uitspreek wat niks met Metrorail te doen het nie en dat duisende pendelaars sodoende beïnvloed word.

Sy het pendelaars aangemoedig om veiligheidsverwante voorvalle by 011 7748566/7/8 en 012 315 2777 of 012 315 2566 aan te meld.

Die Tshwane-metropolisie het inwoners vroeër gewaarsku oor die onwettige protesoptrede deur taxibestuurders.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die metropolisie, het gesê daar is nie aansoek gedoen om toestemming vir ʼn optog nie.

Volgens Mahamba het die metropolisie verneem dat betogers vandag na die Tshwane-metro se hoofkantoor in die middestad sal beweeg.

Mahamba het gesê enige persone wat hulle aan onwettige gedrag skuldig maak, sal in hegtenis geneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Hersien die hele wet en aansoeke vir taxi’s ongelukkig is daar te veel van hulle en te veel word besit deur een persoon en kyk n bietjie hoeveel word besit deur enige wetstoepassings beamptes praat van polisie verkeer en staatsdiens beamptes julle gaan skrik dis hoekom wetstoepassing nie behoorlik gedoen nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.