Duisende grondeise nog uitstaande

(Argieffoto: pixabay)

Die kommissie oor hervorming en grondregte sê hy het nie naastenby genoeg hande om sy werk te doen nie. Omdat hy boonop nie as ʼn outonome instelling funksioneer nie, word die proses om eise af te handel verder vertraag. Amper ʼn tiende van eise is nog uitstaande.

Die kommissie het Dinsdag ʼn voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, grond en landelike ontwikkeling oor Projek Kuyasa gedoen.

Ingevolge wetgewing kan enige persoon of gemeenskap wat ná Junie 1913 weens onbillike wetgewing of beleid van sy of haar grond ontneem is, aanspraak maak op restitusie of billike vergoeding.

Die kommissie het vandag verskeie redes aangevoer waarom eise nie afgehandel word nie. Een daarvan is ʼn 2016-hofuitspraak wat die indien van alle nuwe eise stuit tot nadat eise wat sedert 1988 ingedien is, afgehandel is.

Die kommissie het aan die portefeuljekomitee gesê hy het reeds 79 696 eise ontvang. Hiervan moet 7 743 eise nog verwerk word.

Nóg een van die faktore wat bydra tot die stadige pas, is die opdraande stryd om staatsgrond aan ʼn nuwe eienaar oor te dra. Daar moet aan verskeie voorskrifte voldoen word voordat dit kan gebeur, het die komitee gehoor.

Die proses om eise te verwerk is nie gestandaardiseer nie en verskil van provinsie tot provinsie. Daar bestaan ook geen elektroniese stelsel waarmee die vordering van eise gemonitor kan word nie.

“Ons hoop grondeiening sonder vergoeding kan bespoedig word sodat ons beslissend met grondrestitusie kan handel,” het Nkosi Zwelivelile Mandela, komiteevoorsitter, gesê.

Mandela sê daar is verskeie gemeenskappe wat nie geldelik vergoed wil word nie, maar grond eis – en dat dié grond vir hulle ontwikkel moet word.

Hy het ʼn beroep op die departement gedoen om kennis te neem van mense se oproepe by die sittings oor die voorgestelde wysigings aan die Grondwet dat onteiening sonder vergoeding moontlik gemaak moet word.

Volgens Mandela eis talle mense wat dié sittings bywoon dat hulle nóú grond wil hê. Hulle eis ook dat die 1913-afsnydatum geskrap moet word en met 1652 (die jaar toe Jan van Riebeeck hier voet aan wal gesit het) vervang moet word.

Die departement sal terugvoer aan die parlement gee nadat ʼn oudit van al die uitstaande eise gedoen is. Hulle sal dan ook in die posisie wees om te sê wat die werklike koste verbonde aan die eise vir die staat gaan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan Venter ·

Dis reg so, laat dit oorstaan vir ‘n volgende jaar, daar moet nou eers aandag aan die virus gegee word. Terloops wie wil dan besmette grond hê, al is dit nou verniet. Selfs Julius sal neus optrek.

katerinadiekat ·

Van Jan se tyd af, 1652, Regtig???? 1652, toe hulle self nog nog nie Naby die huidige landsgrense was nie?? Waarom nie sommer teruggaan na die tyd van die dinosourusse nie? Those claims would be equally preposterous but more entertaining.

Michael ·

Ek lees dat die meeste”grondeiser”eerder die geld soek as die grond self nou wonder ek hoekom al die moeite betaal die klomp .

Scalla ·

Michael, jy is reg, om te boer is nie in hul gene, hulle is geldhonger en nie grondhonger nie, soek ook opgeboude plase met infrastruktuur en bestaande oeste om tegelde te maak.

Judge ·

Ja asseblief.
Vat grondeise terug na 1652. Dan kan ons Afrikaners weer al die grond terug eis wat wettiglik deur voortrekkers gekoop is en sodoende ons eie onafhanklike areas weer stig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.