Duisende hektaar in Vrystaat afgebrand

(Foto: Twitter)

Meer as 100 000 hektaar is al verwoes en duisende diere dood nadat verwoestende veldbrande die afgelope paar dae in die omgewing van Hertzogville, Bultfontein, Hoopstad, Bloemhof en Dealesville in die Vrystaat woed.

Weiding, lyndrade en ander infrastruktuur is ook verwoes.

Vrystaat Landbou bestempel die veldbrande as van die ergste brande nog dié seisoen en die afgelope paar jaar terwyl Saai nou ’n beroep op weldoeners doen om die boere van die Wes-Vrystaat by te staan in hierdie tyd.

’n Veldbrand het reeds Vrydag groot skade duskant Bloemhof aangerig waarna ’n veldbrand Sondag te midde van ’n betoging op die R708 tussen Hertzogville en Christiana uitgebreek en in die rigting van Bultfontein, Hoopstad en Dealesville versprei het.

Volgens dr. Jack Armour, operasionele bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), het beeste in sommige gevalle sewe plase ver gehardloop om van die brande te probeer ontsnap.

(Foto: Twitter)

Gys Olivier, voorsitter van Agri Hertzogville, sê op sy beurt miljoene rande se skade is na raming reeds aangerig.

“Hier is ouens wat alles verloor het. Tensy die provinsiale regering help, gaan party van hulle dit nie oorleef nie,” vertel Olivier aan Maroela Media.

Volgens Olivier het die veldbrand buite Hertzogville tot verskeie ander veldbrande gelei. “Hy het sulke groot tonge gemaak en op vier of vyf plekke uitgebreek.”

Talle boere het sedert Sondagmiddag dié brande geblus terwyl weldoeners van sover as die Kaap gekom het om hand by te sit.

(Foto: Twitter)

Erge hitte en sterk wind oor die naweek in die Vrystaat het egter die blus van die brande bemoeilik.

Olivier vertel dat die laaste van die brande, een tussen Kimberley en Christiana, vermoedelik vanmiddag geblus sal word. Dán begin die groot opruimingswerk.

“Die diere wat doodgebrand het, moet begrawe word,” sê hy.

Volgens Armour is VL reeds besig met ’n opname van die skade hoewel dit in dié stadium lyk of veral voerskenkings ’n ernstige behoefte onder die boere is.

Saai doen intussen ’n beroep om hulp vir die boere wat geraak word deur die verwoestende brande.

“Boere van elders in die land wat met voer of ander hulpmiddele kan help, of simpatiseerders wat bydraes vir die vervoer na die rampgebied kan maak, kan Saai by 066 071 6094 kontak,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

(Foto: Twitter)

Volgens De Jager is die gerugte dat die brand weens die betoging ontstaan het, “ontstellend”.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) staar ’n groot uitdaging in die gesig om in die lig van die Senekal-vervolgings en ‑aanklagte ook ter wille van vertroue en legitimiteit ewehandig in die ondersoeke en vervolgings in Hertzogville op te tree.

“As die regsproses nie gesien word om verantwoordelikheid en aanspreeklikheid af te dwing nie, word die integriteit en stabiliteit van die hele staatsbestel ondermyn.”

Brig. Sam Makhele, woordvoerder van die polisie, sê nege persone is reeds in hegtenis geneem in verband met Sondag se betogings.

Die verdagtes word aangekla van openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging.

’n Saak van brandstigting word ook ondersoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Persheks Adri ·

Ewe skielik brand alles en nee ons het GEEN vertroue in die polisie nie useless verby! Regtig groot skade vir ons boere. Wonder wat gaan “our people” doen as daar absoluut NIKS kos is nie mmmmmmm

Niel ·

Moenie vergeet van terrorisme.. Voedselsekuriteit is een van die belangrikste fondament van ‘n regering.. En as iets dit bedreig is dit dan suiwer terrorisme

Kokerboom ·

Dis tragies. Indien dit wel brandstigting was kla aan vir sabotasie en terrorisme. Hier is ‘n baie subtiele aksie aan die gang om boere van plase te verdryf hetsy deur moord of brandstigting!!Die saak kort DRINGEND aandag!!Baie sterkte aan AL die boere wat geraak word deur die groot skade en aanslag. GOD met julle!!!

Willem ·

Laat daai 9 solank die gate gaan grou vir die diere wat dood gebrand het

Mieke ·

Here wees hierdie boere genadig en gee hulle uitkoms en hulp waar daar geen hoop is nie.

Johann ·

Wel the people se bevrydings regering het aan bewind gekom met bomme en verwoes en brand. Kan nie sien dat hulle volgelinge twee keer sal.dink om ALS af te brand nie? Ter wille van hul selfsugtige mags honger…ten koste van kos op hulle tafels.

En die ANC se skoot hondjie EffErs is hand grootgemaak in anargie.

Patch ·

Dis vreeslik! Water, wind en vuur kan nie sommer gekeer word nie. Dis skrikwekkend om te sien hoe vinnig die warrelwind die vuur versprei.

Jacobus ·

Wanneer diè laaste grashalm verbrand is sal ons moet sien dat jy nie as en vuurhoutjies kan eet nie. Patetiese reaksionêre optrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.