Duisende hektaar verwoes, 200 beeste dood in veldbrand

WAARSKUWING: Die inhoud van hierdie berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Sowat 3 000 ha se weiding en amper 200 beeste het in die slag gebly. Foto: Verskaf

“Ek het nog nooit so iets gesien nie. Van die beeste se karkasse het heeltemal weggebrand, ander se ore het gebrand en party het doodgebrand nadat hulle vlei toe gevlug maar in die modder vasgesit het.”

Só vertel Vasti du Preez, lid van die Wilgerivier-brandvereniging, oor die brand wat van Woensdagmiddag tot Donderdagoggend groot verwoesting in die Bronkhorstspruit-omgewing op die grens van Gauteng en Mpumalanga gesaai het.

Die eienaar van die amper 200 beeste wat in die slag gebly het, Lucas Skosana, boer met nagenoeg 500 beeste op sowat 600 ha wat hy by Eskom huur. Die eiendom grens aan die Kusile-kragsentrale.

“Die wind het gister verskriklik gewaai,” het hy Donderdagmiddag aan Maroela Media gesê. “My bure en Eskom het kom help om die brand te blus, maar ek wag nog dat die DBV vir my sê presies hoeveel beeste ek verloor het.”

Du Preez sê hulle het eerste radio-noodroepe Woensdag teen 13:00 ontvang oor die brand wat op die plaas Bossemanskraal in Gauteng ontstaan het. “Dit was ʼn klein vuurtjie. Ons vermoed iemand het ʼn asgat aan die brand gesteek, maar kan nie met sekerheid sê nie.”

Weens die warm, droë toestande en die sterk wind het die vlamme vinnig ooswaarts in die rigting van die kragsentrale versprei, die grens met Mpumalanga oorgesteek en oor die Wilgerivier versprei, sê Du Preez.

Sy skat sowat 3 000 ha weiding en mieliereste op tussen tien en 12 plase het gebrand. “Eskom het sy brandweertrokke uitgestuur en was vandag besig om die karkasse van Lucas se beeste met grondverskuiwingsmasjinerie te begrawe.”

Du Preez sê hulle het krokodil- en leeuplase in die omgewing genader om van die karkasse te kom verwyder as voer vir hul diere. “Elke plaas kon net een of twee karkasse vat, maar dit was net te veel om binne 24 uur weg te ry.”

Van Skosana se beeste het sowat 50 doodgebrand, maar die res van die amper 200 wat in die slag gebly het, het ernstige brandwonde opgedoen en moes van kant gemaak word. Du Preez sê dit was hartverskeurend om te sien hoe die diere gely het.

“Die eerste klompie het die draad bestorm om te probeer wegkom. Hulle het verstrengel geraak en daar verbrand, maar die res kon toe wegkom nadat die eerste beeste die draad platgetrap het,” vertel sy.

Van dié wat vlei toe gevlug het, het sommige verdrink, terwyl die vlamme die res oorval het waar hulle in die modder vasgeval het. Sommige beeste het aan inwendige brandwonde beswyk.

Teen Donderdagmiddag het stompe nog plek-plek gesmeul, maar die brand was reeds Woensdag omstreeks18:00 onder beheer. “Die wêreld is swartgebrand en dis nog baie warm,” het Du Preez gesê, “maar daar is nie meer ʼn vreeslike brandgevaar nie omdat daar niks oor is om te brand nie.”

Sy vertel die boere van die omgewing help Skosana met voer en ander hulp. “Hulle staan hom baie mooi by.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

honourable member ·

Mens wonder altyd of hierdie brande nie met opset gestig word om die boere finansieel te laat sukkel nie. Veld slaan ook nie net aan die brand nie.

Swanna ·

HM jy is so reg in die kraal. Ek voel presies dieselfde oor doe saak. Ons het in daardie area in Ferbruarie goeie reens gehad en in Noodrwes. Die graas staan hoog in die veld.

Gesiggie ·

Soveel skade is gerig… hierdie veld brande is om van te skreeu?? hoeveel nog, hier oral om ons brand dit, plase word verwoes…. en my hart gaan uit na die boer wat so baie beeste moes verloor. En ek haal my hoed af vir die dapper brandweer manne wat hul lewe moet waag om die vure te stop. Die wind vererger ook al die veld brande… ons is al in September, maar die wind hou nie op. ASB ook aan almal daar buite… wees versigtig as jul n sigaret stompie by die venster uitgooi…naby enige gras…. dink aan al die skade wat jul kan rig.

Nettie ·

“Dearest honourable member” – die veld het nie vanself aan die brand geslaan nie – en dit kan, glo my, veral as dit BAIE warm is, daar glas in die gras lê – iemand het vermoedelik ‘n asgat aan die brand gesteek.

Annamarie Olivier ·

Daar is net te veel brande, alles is nie pluis nie.
Dit is so belangrik dat daar voorbrande in samewerking met die brandbestryders in elke omgewing gemaak word om skade te beperk.
Sterkte aan die boer.

Cobus ·

Prysenswaardig dat kleur nie saak maak as n ander boer probleme het nie, hetsy om met brande te help of voer te skenk

Pieter ·

Ek is ‘n ou buurman van mnr Skosana. Sy plaas brand elke jaar af, hy het nog nooit brandbane gemaak nie. Daar het al voorheen in die omgewing voertuie, huise, vee en mense doodgebrand, maar dit is die ergste nog. Daar is ook ‘n inisiasieskool op sy plaas en daar is verskeie grondeise in die gebied.

Sterte ·

Sterkte mnr Skosana. Dis reuse verlies om jou diere op so ń manier te verloor.

Diefie ·

O genade, kon die man nie na die eerste keer besef, dat jy voorbrande gemaak moet word nie? Dit is die eerste ding wat jy doen as jy begin boer. Dankie vir al die boere wat gehelp het. Dit is verskriklike, die arme beeste.

Pieringoog ·

Diefie, jy woon seker in die stad, geen voorbrand keer enige vuur in die wind nie! En die vuur het gewaai! Dankie aan almal wat gehelp het, sterkte aan die wat groot skade gelei het!

madels ·

Miskien moet die Mnr Skosana gekonfronteer word oor sy nalatigheid om nie voorbrande te doen nie… dit kan mos nou nie so aangaan nie??

Ann ·

Daar is net sekere tye wat boere voorbrande mag maak, en as die wind waai dan is dit taboe. Moenie net klippe gooi nie – dink voor jy skryf/praat.

Koertsie ·

Hierdie vure word in baie gevalle met opset gestig – daar is die mense wat glo as jy die winter gras afbrand, dit plek maak vir nuwe groen weiding – nalatigheid is ook natuurlik ‘n probleem – vure word gemaak (selfs hoog in die berge) en as dit hand-uit ruk met sterk wind, dan brand myle se weiding en natuurskoon af.

Adri ·

Ons lees steeds byna elke dag van veldbrande aangeblaas deur sterk winde. Verbeel ek my, of hou die “augustuswinde” hierdie jaar baie laat aan waai? Hier by ons waai die wind elke dag byna stromsterkte – ek as dorpsbewoner as al moedeloos. My arme kinders en talle, talle ander boere het reeds groot skade gehad ten spyte van al die nodige voorbrande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.