Duisende hektare deur Overberg-brand geraak

‘n Dik rookwolk hang oor die gebied. (Foto: Verskaf)

Meer as 100 brandbestryders en 10 brandweerwaens probeer steeds om ʼn brand by Kleinmond in die Overberg-distrik in bedwang te hou.

Sowat 3 700 ha word in dié stadium geraak.

Die brand het Saterdag vroeg uitgebreek en woed sedertdien.

Luidens die jongste inligting van dr. Annelie Rabie, burgemeester van die Overberg-munisipaliteit, is een huis tot dusver in die brand verwoes.

Daar word nou gekonsentreer op die brandlyne bokant die Kleinmond-gholfklub en Arabella.

Die R44 tussen Kleinmond en Arabella is vandag vir alle verkeer behalwe noodvoertuie gesluit en sedertdien nog nie weer heropen nie.

Sommige paaie in die gebied is vroeër vandag vir verkeer gesluit. (Foto: Verskaf)

Daar is aanvanklik gehoop dat brandbestryders kan keer dat die vlamme oor die pad spring, maar dit het vroeër vandag wel gebeur en dit brand nou ook in die omgewing van die Arabella-landgoed.

Dik rookwolke hang oor die gebied en kan selfs in Hermanus gesien word.

“Hier waar ek in my studeerkamer sit, is ʼn bruin wolk wanneer ek by my venster uitkyk. Ek moes my vensters toemaak, want die as val op my rekenaar en lessenaar. Alles is vol stof en as,” sê Thomas van Dalen uit Hermanus.

ʼn Redelike sterk wind waai boonop in die omgewing, wat die brandbestryders se werk selfs verder bemoeilik. Dit is ook baie warm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.