Duisende in Wes-Kaap doen aansoek vir 2025

skool-skoolbank-klaskamer-deltaworks.jpg

Argieffoto (Foto:
Deltaworks/Pixabay)

Aansoeke vir skooltoelating vir gr. 1 en gr. 8 in die 2025-skooljaar het Maandagoggend in die Wes-Kaap geopen en in net ʼn paar uur het 7 875 ouers aansoek gedoen om hul kinders in skole in dié provinsie te plaas.

Altesaam 120 registrasiestasies, onder meer by winkelsentrums, skole en ander fasiliteite, is reg oor die Wes-Kaap in al agt onderwysdistrikte opgestel. Ouers het kans tot 12 April om hul aansoeke in te dien.

Ouers kan gedurende die tweede toelatingsvenster, wat van 1 Augustus tot 16 Augustus vanjaar strek, aansoek doen vir graad R of om tussen gr. 2 en gr. 7 of gr. 9 en gr. 12 van skool te skuif.

Die volgende gesertifiseerde dokumente word vereis vir alle aansoeke:

die laaste amptelike skoolverslagkaart;

bewys van identiteit: geboortesertifikaat of paspoort van die leerder;

immuniseringskaart (slegs laerskole); en

bewys van verblyf soos ʼn nutsrekening, ʼn huurooreenkoms, of ʼn beëdigde verklaring wat verblyf bevestig.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het tot onlangs toe nog gespook om leerders vir die huidige skooljaar te plaas. Meer as 3 500 leerders het vanjaar eers aansoek gedoen om plek vir die 2024-skooljaar.

Die departement het Maandag aan Maroela Media bevestig dat nog tien laat aansoeke sedert Donderdag ontvang is en dat die proses reeds begin het om hierdie leerders te plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.