Duisende ingesamel ná traumatiese hospitaalervaring

Alexis Timmerman. (Foto: Verskaf)

Dit gaan sommer stukke beter met Alexis Timmerman (12) nadat sy uit ʼn Pretoriase staatshospitaal ontslaan is en tuis deur haar ouma versorg word. Dié laerskoolleerder moes glo die naweek onder haglike toestande in die staatshospitaal deurbring nadat ʼn minibustaxi haar voor Laerskool Wierdapark raakgery het.

Sy sal nou na verwagting Woensdagoggend ʼn operasie aan haar arm by die Cure Care private hospitaal in Erasmuskloof in die ooste van Pretoria ondergaan. Duisende is ook reeds ingesamel om die peperduur hospitaalverblyf en ander mediese uitgawes te dek.

Alexis sterk intussen by haar huis in Centurion aan waar haar ouma, Marinda Merryweather, haar versorg.

Maroela Media het vroeër berig Alexis is beseer toe sy oor die pad gehardloop het en deur ʼn minibustaxi raakgery is. Sy is aanvanklik in die Kalafong-hospitaal opgeneem, maar op aandrang van haar ouma ontslaan weens die haglike omstandighede waaraan sy blootgestel is.

Duisende rande is intussen ingesamel om haar mediese uitgawes by ʼn private hospitaal te dek.

Alexis se boarm is op twee plekke gebreek en sy het ook ʼn besering aan die weefsel in haar knie opgedoen. Sy moet nou ʼn operasie ondergaan om plate en skroewe in haar arm aan te bring.

ʼn Bewoë Merryweather sê sy is oorstelp van vreugde en dankbaarheid dat soveel mense hul harte vir Alexis oopgemaak het.

“Ek kan nie genoeg dankie sê nie. Hierdie ouma-hart bars van dankbaarheid. Dis wonderlik om te sien en ervaar hoe God se mense bymekaarkom,” het sy Maandag gesê.

Alexis Timmerman toe sy in die Kalafong-hospitaal was. (Foto: Verskaf)

Sy sê haar kleindogter is “bang-opgewonde” oor die operasie wat voorlê.

“Sy is effens bang vir die operasie self, maar opgewonde om met haar herstel te begin.

Alexis se gemoed is ook beter ná die traumatiese ervaring wat sy by Kalafong moes deurmaak.

“Sy het ʼn goeie nag agter die rug en voel al baie beter. Sy het vanoggend [Maandag] vir my gesê ‘ouma, dit was so lekker om saggies wakkergemaak te word’. Ons is baie verlig dat sy by die huis kan aansterk en uit daai hospitaal ontslaan is. Hier word sy mooi versorg en kry sy alles wat sy nodig het.”

Mense het ook nie net hul beursies vir Alexis oopgemaak nie, maar staan haar op verskeie maniere by. Merryweather sê haar kleinkind kry onder meer baie ondersteuning van die skool, ouers en leerlinge.

“Dis vir Alexis wonderlik om te sien hoeveel mense vir haar lief is en omgee.”

  • Die teiken vir die geldinsamelingsinisiatief is intussen bereik. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Dankie aan elkeen wat by gedrae het !!

Anel

Waarom kan die padongelukfonds nie in sulke gevalle bydra nie? Sterkte aan die meisie en haar grootouers. Dankie ook aan mense wat kan help en bydraes lewer.

Johan

Dit is skandalig dat die Staatsdiens van een magtige organisaie tot ‘n hopie stof verander het, daar kan nie meer trots in die amptenary oor wees nie. Dit lyk ook nie asof die betrokke hospitaal enige skadebeheer toepas nie.

Diline

So bly dat sy beter is en die nodige hulp in ‘n ordentlike hospitaal gaan kry. E het nie woorde nie, sal eerder doodgaan by die huis voor ek ooit in een van hierdie land se Staats hospitale moet gaan le. Korrupte, onbevoegde spul wat te lui is om te werk! Om nie eers van die haglike toestande in hierdie hole te praat nie.

Mariaan

Ag wonderlik…bly sy is beter!