Duisende insette op die skolewetsontwerp wys publiek se kommer

Onderwys__4

Argieffoto.

Die publiek het nog slegs twee dae oor om hul insette op die wysigingswetsontwerp op die Skolewet, wat op 13 Oktober deur die minister van basiese onderwys aangekondig is, te lewer.

Solidariteit het Woensdag weereens ʼn beroep op elke ouer, onderwyser en bekommerde lid van die gemeenskap gedoen om hul kommentaar in te stuur om te voorkom dat skole tot staatsinstellings genasionaliseer word.

Chris Klopper, hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU), dr. Jaco Deacon van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), die VF Plus en organisasies soos Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum en die ChristianView Netwerk het reeds hul kommer oor van die klousules in die wysigingswetsontwerp uitgespreek.

Die organisasies is dit eens dat talle van die klousules die mag uit die beheerliggaam, personeel en die ouers se hande neem om skole volkome onder staatsbeheer te plaas.

Volgens Francois Redelinghuys, kommunikasiebestuurder by Solidariteit, het Panyaza Lesufi, die LUR van onderwys in Gauteng, tydens ʼn radio-onderhoud op Radio 702 op 2 November dié kommer versterk.

“Sy uitlatings dat klaskamers vergroot moet word sodat tussen 60 en 70 leerlinge per klas geakkommodeer kan word, en dat beheer oor aanstellings toegepas moet word, is kommerwekkend.

“Indien dié wetswysigings goedgekeur word, sal onderwysers voorgeskryf word oor waar hulle hul beroep moet uitoefen,” het Redelinghuys gesê.

Redelinghuys voer aan dat ouers ʼn demokratiese reg het om deur middel van beheerliggame besluite oor hul kinders en gemeenskap se skole te neem. Daarom het Solidariteit die #VIRskole-platform geskep waar enige lid van die publiek hul beswaar oor die wetsontwerp kan lug en kommentaar kan lewer.

Volgens Redelinghuys het sowat 80 000 mense reeds insette op dié platform gelewer. “Die syfer beklemtoon die kommer wat tans rakende die wetsontwerp heers. Verder is dit ook ʼn bewys dat die openbare skole as gemeenskapsinstellings geag word, en dat die toekoms van skole die publiek na aan die hart lê.”

Solidariteit mik om teen 10 November 100 000 insette te hê sodat hy op 13 November al die insette aan die onderwysdepartement kan oorhandig.

Klopper het gesê die SAOU is diep bekommerd oor die klousule in die wysigingswetsontwerp wat voorstel dat beheerliggame voortaan geen seggenskap meer sal hê in die aanstel van bevorderingsposte, soos hoofde, adjunkhoofde en departementshoofde, by hulle skole nie.

“Dit is die ingrypendste verandering, maar daar is ook ander aspekte wat tot ernstige magsvergrype by die onderwysdepartement kan lei. As jy dit alles saamlees, lyk dit vir ons of daar ʼn sterk poging is om skole in staatskole te omskep en dit is vir ons onaanvaarbaar,” het Klopper gesê.

Klopper het verder gesê skole was in die 70’s ʼn blote verlengstuk van die politieke gesag van die dag en dit het tot geweldige onluste gelei. “Voor ’94 het ons lank en ernstig gepraat om te verseker skole word gevestig as demokratiese instellings wat ʼn verlengstuk is van ʼn bepaalde gemeenskap, en nou kom die staat en keer daardie hele skema om.”

Die SAOU het briewe na die 3 800 skole waar die unie lede het geskryf en vir die skole ʼn raamwerk verskaf waarvolgens hulle kommentaar moet lewer op die nege aspekte wat die grootste probleme vir openbare skole kan veroorsaak.

Melanie Buys, ʼn onderwysspesialis by Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum, meen die krisis van die groot aantal disfunksionele skole in Suid-Afrika spruit uit dekades se swak bestuur.

“Dit kan nie nou deur sentralisering van die mag reggestel word nie. Die krag en ondersteuning van skoolgemeenskappe is juis een van die sterkste punte in ons onderwysstelsel en daar moet op dít gebou word,” het Buys gesê

Sy stel voor daar moet op ʼn nuwe manier voorgebou word op die tradisie van ouers se betrokkenheid, ywer en vrygewigheid. Buys het ʼn vyfpuntplan vir Afrikaanse skole om hulle te verskans teen die wetgewing se implikasies:

  1. Vergewis jouself van die feite. Vind uit wat die voorgestelde wysigings aan die Skolewet vir skole, ouers, onderwysers en leerders beteken. Lees meer by: https://solidariteit.co.za/vir-skole/
  2. Laat jou stem hoor stem hoor en lewer kommentaar by #VIRskole.
  3. Maak seker Afrikaanse onderwysers is onmisbaar deur hulle voortdurend met kennis te bemagtig. Word deel van ’n vakvereniging by www.skoolwiskunde.co.za en www.gerat.co.za of word deel van Helpende Hand se Afrikaanse Grondslagfase vereniging.
  4. Plaas druk op provinsiale onderwysdepartemente om te verseker dat jou skool se vakante poste gevul is teen Desember 2017.
  5. Skep alternatiewe om gemeenskapsfondse vir jou skool meer selfstandig te bestuur. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan [email protected].
  • Luister ook na Esté Meyer Jansen se onderhoud met Chris Klopper van die SAOU waar hy sy kommer oor die skolewet-wysigingswetsontwerp deel en verduidelik wat die publiek, ouers en die skole kan doen om daarop kommentaar te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

22 Kommentare

Eish ·

Hier kom aardskuddende moleste indien die wetgewing deurgevoer word! Hoekom is daar so min insette? Daar is sekerlik meer as 80 000 blankes in die skolesisteem.

foxi ·

Goeie genugtig, 60 tot 70 kinders in n klas! Nee wat……dis nou tyd vir tuis onderwys dankie.

Pro-tuisonderrig ·

Die regering het terselfdertyd tuis onderrig ook in die oog mer nuwe wets-ondwerpe. Hulle wil nie eens hê daar moet tuis onderrig as laaste uitweg wees nie.

Pro-tuisonderrig ·

Die regering het ongelukkig reeds in hierdie selfde tyd ñ nuwe wetsontwerp tov tuis onderrig ook. Hulle wil hierdié opsie ook onbegaanbaar vir ouers maak.

ElHolios ·

Die probleem met tuisonderrig (het 1 kind daar) is dat hulle wil dit nou ook sentraliseer en jy moet R1 000 000 (ja, 1 miljoen) jaarliks aan die staat vir ‘n tutor betaal…. GROOT probleme…

Leahim ·

Hou die geld terug en julle beheer die skole die regering het bederf geraak want dit is die afrikaner manier betaal vir alles sonder om die nodige diens te ontvang Die ouers moet hulself organiseer en beheer vat van die skool .

Piet ·

Leahim, nou verduidelik dan hoe gaan 100 onderwysers salarisse kry? By ons skool is daar 143 onderwysers waarvaan die staat net 43 betaal as departements poste, wat word dan van die ander? Die geld wat die skool van die staat kry is nie eens genoeg vir een maand se munisipale rekening nie.

Leahim ·

Piet dit is hoekom ek se die ouers moet beter organiseer betaal al die fondse in n rek in en betaal die onderwysers en lopende rekeninge as julle 143 onderwysers het hoeveel kinders betaal skoolfond en hoeveel van die fondse word gebruik vir julle skool en hoeveel word deur die departement gemors.

JC ·

Daar kom groot moleste…ek het klaar by #virskole insette gelewer, ek beveel aan jy lees die ontsettend weersinwekkende wetsontwerp, en dat jy jou kommentaar daarop lewer by bogenoemde.
Hier kom ‘n groot geveg, dit gaan alles vat van ons organisasies!!

LIZETTE ·

Ek stem saam waar gaan daar soveelkinders in n klas pas inelkgeval watse gemors gaan dit afgee ek dink dit is onregverdig om ons taal en onderwyssers weg tevat ek gaan ook eerder my kinders tuis laat onderrig kry in AFRIKAANS wat wil hulle nou nog van ons oorvat

Morné ·

Daar is dié wat dink dat tuisskool ‘n opsie is, maar die wetswysing is gemik op tuisskolers ook. ‘n Aanhaling van Solidariteit se blog:
Die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, het egter ʼn einde gesit aan al die spekulasie rondom die regering se planne ter aanwending van hul magte ingevolge die voorgestelde wysigingswet. Tydens ʼn radio-onderhoud op Radio 702 saam Eusebius Mckaiser op 2 November, ontbloot Lesufi die gedagtegang waarin die departement verkeer. Hierin verduidelik Lesufi onder andere, dat:

– hy meen alle skole se taalbeleide moet aangepas word om ten minste drie tale in te sluit;
– tuisskoolonderrig behoort nie toegelaat te word nie;
– klaskamers vergroot moet word om tussen 60-70 leerlinge per klas in te pas;
– aanstellings beheer moet word sodat die beste onderwysers outomaties by informele nedersettings geplaas word;
– en, dat kurrikula aangepas moet word om meer van die land se apartheid geskiedenis in te sluit.

Die potensiële kommer is dus omgeskakel na wesenlike kommer vir diegene wat besorgd is oor die taal waarin hul kinders onderrig ontvang, die grootte van die klaskamers waarin hul kinders sit, die onderwysers wat die klasse aanbied en feitlik enige ánder aspek van onderrig. Dieselfde geld natuurlik vir onderwysers in die verband.

piet van niekerk ·

Die soort besluite ontneem vryhede oor selfbeskiking , en is myns insiens nie demokraties nie.

Casper ·

Morne, ek stem saam jy het sy gesprek raak opgesom . Die fout met die onderwys dept se redenasie is dat ander moet opdok vir waar daar ‘n gemors is by van die skole. Dit is soos om parte van ‘n werkende masjiene te vat en in stukkende ander masjiene te sit en dan hoop jy al die masjiene gaan werk. Maak reg daar waar dinge nie werk nie. Verder kan geen onderwyser in verskillende tale klasse gee in dieselde omgewing nie. Die metodiek verskil van taal tot taal en kultuur tot kultuur. Die onderwyser gaan heeltemal nie goed kan funksioneer nie. Verder is daar geen waarborg dat al hierdie tale gehandhaaf gaan word nie. Die tegniese kolleges en dubbel medium skole het met tyd bewys dat die minderheid word uitgedruk en ‘n swak stelsel word agtergelaat. Ja dit is Engels maar dit is baie baie baie swak. So as jou taal nie meer daar is nie hoe gaan jy die beste opvoeding en aandag vir jou Kinders onder die kry? Klink baie goed op papier om alles onder een kam te skeer, maar dit werk nooit so in die praktyk nie

jaco ·

Ek ken n ouerpaar wat tuisonderrig vir hulle 2 seuns gegee het, omdat daar glo te veel sonde en lae standaarde in staatskole is. En die resultaat:
Die oudste een is klaar met skool en nou bestaan sy lewe net uit drank, verkeerde vriende en los meisies. Die ander seun Is nog “op skool” deur die tuisonderrig, maar hy kan nie behoortlik spel of basiese optel, aftrek, maal en deel doen nie en hy is openlik onbeskof met sy ouers.

Tuisskool ·

Jaco, ek ken 100e gesinne wat tuisskool. Die ouerpaar met hul 2 seuns is beslis nie n weerspieeling van tuis geskoolde kinders, eerder n dissipline of respek probleem in die huis self, sou nie anders gewees het as hul in n skool was

Tuisonderrig Mamma ·

Die Bela Bill raak nie net my as mamma nie maar ook my kinders. Ons doen al tuisonderrig vir 17 maande en ek sal dit glad nie verander nie. Geen persoon van die staat of die Departement van Onderwys gaan vir my vertel wat is in die beste belange van my kinders nie. Ek is hulle ma, God het hulle in my arms geplaas en ek sal met alles in my veg vir my kinders en hulle reg tot vryheid van onderrig tuis. Hoe kan een onderwyser nou ‘n klas van 60-70 hanteer? Hoe pas een onderwyser aan in n klas waar van die kinders sit met Autism, dyslexia, dysgraphia, aspergers, adhd/add? Almal leer nie op dieselfde manier en op dieselfde spoed nie!!

“The mind is not a vessel to be filled, but a fire to be kindled.” ~Plutarch

M ·

As dit deurgaan, stop ek onmiddellik om skoolfonds te betaal, want waarvoor betaal ek dan. Ouers kla reeds oor 33 in ‘n klas, hoe wil hul 70 indruk. Belaglik man.

Disselboom ·

Dis kommerwekkend dat daar net reaktief opgetree word en dat die kommentaarkolomme klink soos paniekerige mense sonder ‘n plan. Die tuisskolers se oorhaastige gevolgtrekkings en gerugte dra niks by tot oplossings nie, maar ook die formele onderwys vertoon nie juis iets om die magsafdwinging wat nou deur die regering op onderwys gerig word, te ontsnap nie. Daar is so onderliggende valse gerustheid dat as ons net genoeg beswaar maak en op “ons regte” aandring, dit die probleem sal oplos. Daar moet ‘n Groot Trek in onderwys kom wat onder die staatsjuk uittrek en privaatonderwys hard en duidelik vestig. Die Engelse is ons ver voor hiermee en laat die Afrikaners lyk na ongeorganiseerde staatsamptenare wat maar net nie op groot skaal hulle eie sake wat hulle kamtig so na aan die hart lê, op dreef kan kry nie.

Christelle ·

My seun is in ‘n ‘spesiale’ skool, maar omdat hy ADHD en Tripoler is. Ons het so drie maande terug uitgevind dat matriek gestaak gaan word by die skool volgende jaar. So wat is sy kanse vir ‘n werk sonder matriek? En dit is alles te danke aan hierdie onnosele LUR!!!!!

Juanette ·

Man,ek het altyd gedink dat die Beheerliggaam die skool bestuur soos die ouers dit wil hê!Ons stem elke vyf jaar watter ouers jy wil hê op bestuur,hulle beheer dan die taal,skoolfonds,hou skool instand,en stel goeie onderwysers aan en as jy as ouer ń probleem het is hulle middeman om te help en.probleem te probeer oplos!Maar lyk my ek het verkeerd verstaan,want dis blykbaar nie so nie!Hulle is nie daar vir ons ouers nie,hulle is meer in finansiële kant en skool hoof beheer hulle hy is die hoof van hulle,as hy voel jy doen wat hy dink jy moet doen nie kan jou laat loop!As jy hulle vra vir hulp mag hulle blykbaar nie help nie!Nou sê julle hulle help met aanstellings vir goeie onderwysers en hoofde!!Nou verstaan ek nie???Ek het meer as een geleentheid om hulp gevra by beheerliggaam maar hulle my weg gewys het!As hulle wil hê ons as ouers moet petisie teken sal hulle eers vir ons eers voorvaardes moet stel dat ons weet waar ons staan met hulle!!Want op die oomblik beteken hulle vir my as ouers niks en ook nie vir my Kinders nie!As ouers vir jou moet stem wil jy darem hê as jy ń probleem het om vir jou optelos!Dit voel baie keer hulle kyk waar hulle kan gatkruip om intewees by die skool!Gaan nie oor ouers en die kinders NIE!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.