Duisende kilometers op trekker vir plaasmoorde

Dr. André Hattingh op die splinternuwe John Deere-trekker wat aan deur John Deere South Africa geborg is (Foto: Verskaf)

Wat is dan nou meer kenmerkend aan ’n boer as sy trekker?

Só het dr. André Hattingh van die niewinsgewende organisasie Pediatric Care Africa ook gedink toe hy besluit het om met ’n trekker altesaam 2 500 km oor 15 dae ter bewusmaking van plaasaanvalle en -moorde af te lê. Wat hierdie rit nog meer spesiaal maak, is die feit dat hy terselfdertyd geld vir mediese behandeling vir behoeftige kinders wil insamel.

Hattingh het gisteroggend (Sondag) sy liefdadigheidstog op ’n splinternuwe John Deere-trekker in Witrivier in Mpumalanga afgeskop. Hy gaan man-alleen deur vyf provinsies ry en dan op 15 Mei weer in Witrivier eindig.

‘Stop plaasmoorde’

Die groep mense wat gister aan die stoet by Witrivier deelgeneem het (Foto: Verskaf)

Hy is Sondag deur meer as 25 motorfietse van die 911 Riders-motorfietsgroep – wat standpunt teen plaasmoorde inneem – in ’n stoet uit die dorp vergesel. Die tog het bewusmaking van die probleem van plaasmoorde ten doel en om internasionale aandag daarop te vestig.

Die groep motorfietsryers het saam met Hattingh by die Witrivier River Square-winkelsentrum vertrek en saam met hom tot by Sabie gery. Hattingh het daarvandaan na Burgersfort gery en gaan vandag (Maandag) tot in Mokopane (Potgietersrus) vorder.

‘n Paar motorfietse wat tydens die stoet teen plaasmoorde ingespan is (Foto: Verskaf)

Fanie Botha, die man wat verlede naweek op sy vermoorde vrou en seun se liggame op hul plaas digby Mbombela (Nelspruit) afgekom het, het ook dié bewusmakingsdag bygewoon. Sy neef, Jaap Breedt, wat ook deel van die stoet was, sê hulle is tevrede oor hoe die dag verloop het.

Breedt meen die doel van die dag – om hul stemme teen plaasmoorde dik te maak – is bereik.

Maroela Media het vroeër berig Botha se vrou, Annemarie (64) en haar gestremde seun, Ruan (31), is op 24 April in hul plaashuis buite Mbombela aangeval en vermoor. Fanie was besig met patrollie op die plaas en het by sy terugkeer op die gru-toneel afgekom.

‘Help siek kinders in nood’

Hattingh, hoof‑ uitvoerende beampte van Pediatric Care Africa, wil ook met die “Op n Track – Tor”-liefdadigheidstog R250 000 vir babakos en behoeftige kinders se mediese en chirurgiese behandeling insamel. Dié organisasie pak al vir die afgelope paar jaar elke Februarie dié liefdadigheidstog met motorfietse aan.

Die trekker en sleepwaentjie waarmee Hattingh die 2500km gaan aflê (Foto: Verskaf)

“Omdat talle mense hul werk weens die Covid 19-inperking verloor het, ontvang ons baie meer oproepe vir mediese hulp en babakos. Ons donasie-inkomste het sedert die begin van die Covid-19-pandemie aansienlik gekrimp, terwyl die vraag na ons dienste geweldig toegeneem het,” vertel Surika van der Merwe, woordvoerder van Pediatric Care Africa.

Pediatric Care Africa streef daarna om lewensreddende hulp aan behoeftige kinders reg oor Suid-Afrika heen te gee.

Dié organisasie was verlede jaar betrokke by die fasilitering van meer as 320 kinders om ’n private mediese dokter of spesialis te besoek. Verder reël die organisasie operasies vir kinders, reageer op rampe soos sikloon Eloise in Limpopo, die veldbrande in die Vrystaat en die Covid-19-pandemie. Die organisasie voorsien ook babakos aan behoeftige babas of babas wat in sorgsentrums woon. Die organisasie het ook tydens die Covid-19-inperking altesaam 133 ton se kospakkies per hand aan persone in voedselnood afgelewer.

Mense wat die liefdadigheidstog wil ondersteun, kan Hattingh per kilometer borg of selfs ʼn eenmalige of ’n maandelikse debietorder aangaan. Hattingh sê dieselskenkings vir die trekker sal ook welkom wees.

Besoek Pediatric Care Africa se webwerf vir meer inligting oor die Ride for a Child-liefdadigheidsrit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kanjynoumeer ·

Wat n ongelooflike, wonderlike inisiatief om mense bewus te maak van plaasaanvalle en moorde.
Hierdie inisiatief en voorbeeld kan deur alle provinsies gevolg word.
Soooo n mooi gebaar. Baie dankie aan dr Andté Hatting en almal wat jou ondersteun.
Dankie John Deere as borg.

Wakkerslaper ·

‘n Baie goeie inisiatief…..

…wat ongelukkig net mooi niks gaan doen om plaasaanvalle en plaasmoorde te stop nie. Die terroriste regime voel NIKS vir plaasaanvalle en moorde nie. Inteendeel, hulle moedig dit aan.

Al hoe landelike en stedelike terreur sal stop is wanneer ons as volk onsself begin organiseer, bewapen en aktief begin optree.

Misky ·

Baie mooi en onselfsugtige gebaar Dr Hattingh en almal betrokke. Op die staduim is enigiets beter as niks en sit en moan nie

Sluier ·

I will put this in English so everyone can understand. Did you know that Petrus (a black man) had been walking by foot, for the very same reason, for weeks now, while being rejected by many white farmers, just for being black? The difference between Petrus and this white farmer is that Petrus do not have the luxury of a John Deere vehicle or a John Deere sponsor with air-con, power steering, radio, soft seat, food, water, cold drinks, clean clothes, money or a place to sleep. Petrus did this like a soldier while he being imitated by others who has money, sponsors and luxury. I solute Petrus instead.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.