Duisende kommentare teen NGV-wetsontwerp ingedien

medies-pille-gesondheid-pyn-pixabay

Foto: Pixabay/Pexels.com

Solidariteit het Vrydag duisende kommentare met betrekking tot die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ingedien namens diegene wat op die vakbond se toegewyde NGV-platform hul kommer oor die omstrede wetsontwerp uitgespreek het.

Die vakbond het voorts sy eie kommentaar oor die wetsontwerp ingedien, wat ook insette insluit wat verkry is uit die vakbond se NGV-krisisberaad in Augustus.

Maroela Media het tydens die beraad berig dat prof. Alex van den Heever, ʼn kenner van beleidstellings vir gesondheidsorgstelsels verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, glo daar is talle sleutelfoute in die voorgestelde NGV-beleid.

“Ek glo nie die NGV is enigsins ontwerp om te werk nie. Die NGV is ’n lugkasteel, ’n onbereikbare droom, niemand kan regtig enige uitkomste lewer nie, maar daar word eindelose beloftes tot ver in die toekoms gemaak,” het Van den Heever gesê.

Volgens Werner Human, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, het die vakbond in sy kommentaar die veelbesproke wetsontwerp as ongrondwetlik veroordeel en voorts uitgewys dat die implementering van die wetsontwerp rampspoedige gevolge vir Suid-Afrika sal inhou.

“Die fokus van Solidariteit se kommentaar berus daarop dat jy volgens die Verenigde Nasies se verklaring van Menseregte nie vryheid kan prysgee om ʼn ideologiese opvatting van gelykheid te probeer daarstel nie. Die wetsontwerp maak inbreuk op verskeie grondwetlike regte, waaronder vryheid soos beskryf in artikel 39 sowel as artikel 22 van die Grondwet wat die reg tot vryheid van beroepskeuse waarborg,” het Human gesê.

Volgens Human sal alle Suid-Afrikaners gebuk gaan onder die wanbestuur en korrupsie wat telkemale hoogty vier by staatsinstellings. “Die NGV gaan nie anders wees as ʼn Eskom of die Suid-Afrikaanse Lugredery (SAL) nie; dié fonds is egter selfs groter en sal aan dieselfde soort wanbestuur blootgestel wees. Dit is onbillik, onregverdig en irrasioneel om van die veronderstelling uit te gaan dat die voorgestelde wet nie drastiese sosio-ekonomiese gevolge vir miljoene Suid-Afrikaners sal inhou nie,” het Human afgesluit.

Maroela Media het vroeër berig volgens dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer by AfriForum, is die wetsontwerp in verskeie opsigte problematies en vaag.

“Een van die heel grootste probleme hiermee is die koste van die NGV. Nêrens in die wetsontwerp word daar melding gemaak van hoeveel dit gaan kos nie, maar die belastingbetaler word goedsmoeds gedwing om daarvoor te betaal.

“Om omvattende, gratis gesondheidsdienste aan 55 miljoen mense te wil bied terwyl maatskappye en net sowat 5 miljoen mense belasting betaal, is waansin. Dit gebeur op stuk van sake nie nou nie en die middelklas het nie geld daarvoor nie, terwyl daar ook geen aanduiding is wat presies met hierdie omvattende dienste bedoel word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

zoom zoom ·

Die wat al hier die slim planne uitdink tov die mediese aborsie wat op ons afgedwing word is daai wat self nie by ‘n staatshospitaal in ‘n ry gaan staan nie. Hulle vlueg sommer Rusland toe of saam met die Guptas om in Indië medies e behandeling te kry.

Cherokee ·

Ek hou van Eugene Brink se woorde, noem dit waansin dat 5 miljoen vir 55 miljoen moet sorg.

De Villiers ·

Kyk wat gaan nou weer gebeur. Die brandstofprys gaan binnekort weer geweldig styg. Die rede, glo ek, is net soos die ander kere se brandstofprysstygings nadat Ramaphosa president geword het, om die ANC se doelwitte en reddingsboeie mee te finansier. Dit sluit in gratis tersiêre onderwys, die bankrot SAL, die rekening van die mislukte e-Tol stelsel, dalk die voorsiening om grond mee aan te koop vir die onteieningswetsontwerp en dan nou heel moontlik vir hierdie NGV-wetsontwerp. As die regering geld nodig het vir iets, belas die motoris, maar moenie die rede vir die brandstofprysstygings op die naam noem nie, maar hou dit vaag of blameer die swak wisselkoers of hoë olieprys daarvoor. Anders is daar chaos en almal kom in opstand, en die regering weet dit.

Grassie ·

En ek glo al die toerusting en medisyne gaan uit die land van die veteroë kom, daar waar al ons renosterhoring, kreef en perlemoen heen gaan.
Ek het iewers gelees die regering sê behalwe die bedrag wat die regering begroot gaan landsburgers ook ledegeld betaal. Elkeen se bydrae gaan op ‘n glyskaal-metode volgens sy inkomste bepaal word. Raai wie gaan vir wie moet betaal?

Chris ·

Daar is nie meer fondse vir die korruptenare om te hetverdeel nie. Nou word die visier gestel op die minderheid wat n mediesefonds kan of probeer bekostig, want daar is miljarde rande by betrokke wat nog herverdeel kan word. As hulle doel daarmee bereik is is daar weinig oor om nog te gryp in die eens voorspoedige en geseende land dan krepeer almal saam

marina appelgryn ·

Die ironie is, bring net Staats hospitale op standaard!! Dan het ALMAL goeie mediese gehandelings!! My 3 kinders is nog in “veronderstelde slegte apartheids jare ” in staats hospitaal gebore en soos ek nou al gehoor en gesien het van kennisse kom privaat hospitale nie by daardue behandeling wat ek gekry het met hul geboortes!!

HPV ·

Nog ‘n melkery vir dir anc regime om die reeds leeggemelkte belastingbetalers te melk, dokters, ander mediese personeel en verwante besighede die land uit te jaag! Doen so voort met jul venietigingswerk om later grootoog bakhand te staan en te wonder waar is al daardie mense, werksgeleenthede en geld heen… Die enigste kwaliteit mediese sorg sal dan oorsee wees.

Ja Nee ·

Nog een van die anc se briljante planne en soos CR noem gaan hulle die ekonomie regruk…… Ja sure!

John ·

Al nuwe strukture wat opgerig word is randstene langs paaie vir wagtende werkloses. Binnekort gaan die gratis-gegradueerdes bykom. Die pot vol geld van mediese fondse is ‘n doring in die vlees van die minister van gesondheid. Dit moet leeg. Hoeveel staatshospitale is die afgelope kwarteeu opgerig? En hoeveel mense is gebore of het die land ingestroom (betaal die VO/ EU ons regering om die grense oop te hou?). Indien higiene nie opgeskerp word nie gaan pessiektes ons powere mediese dienste se laaste riet knak. Parasitisme is ‘n erge kwaal wat sterk muti vra, maar die regering weier om dit te behandel. Dit word eerder aangemoedig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.