Duisende leerders Maandag weer terug skool toe

(Argieffoto: Unsplash)

Terwyl duisende leerders Maandag terugkeer skool toe nadat die skole opnuut ʼn maand lank te midde van die Covid-19-pandemie gesluit was, is daar ook groot kommer oor talle skole se gereedheid om te heropen.

Gr. 12-leerders het aan die begin van die maand teruggekeer skool toe, gr. 7’s het ʼn week later gevolg en gr. 1-, 2-, 3-, 4-, 6-, 9-, 10- en 11-leerders keer môre terug. Skole vir leerders met fisieke en leergestremdhede mag ook dan heropen. Leerders in gr. 5 en gr. 8 mag eers ʼn week later, op 31 Augustus, terugkeer skool toe.

In KwaZulu-Natal wag talle skole glo nog dat tydelike onderwysers en bykomende onderwysers aan skole toegewys word, asook dat persoonlike beskermingstoerusting (PPE) afgelewer word.

Thembeni Mdlopha Mthethwa, die IVP se KwaZulu-Natalse leier, sê indien dit die geval is, gaan die gevolge niks anders as rampspoedig wees nie.

Mthethwa sê die provinsie se LUR vir onderwys, Kwazi Mshengu, moet oop kaarte speel en ouers en onderwysers die versekering gee dat alles gereed is vir leerders se terugkeer.

“Ons kan nie ʼn situasie bekostig waar onderwysers die sondebok gemaak word wanneer sake by skole verkeerd loop nie. Dít terwyl die LUR en departementshoofde skotvry wegstap terwyl hulle diegene is wat versuim het om behoorlike leiding te gee. Die onderwysdepartement moet dinge anders begin doen.”

Mthethwa sê Mshengu moet duidelike tydsaanduidings gee van wanneer aflosonderwysers na skole gestuur gaan word, wanneer PPE’s afgelewer gaan word, hoeveel skole nog sonder dié toerusting sit, hoe sosiale afstande in klasse gehandhaaf gaan word (ook tydens die vervoer van leerders), hoe voedingskemas in werking gestel gaan word en watter skole nog puttoilette gebruik.

Die LUR vir onderwys in Mpumalanga, Bonakele Majuba, het intussen gesê hy is vol vertroue dat alles moontlik gedoen is om onderrig moontlik te maak en lewens te beskerm.

Hy het amptenare en ander betrokkenes bedank wat die afgelope ruk help seker maak het dat skole gereed is vir leerders se terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lorette ·

Iewers het ek iets gemis, my kleindogter van 10 is al 2 weke terug in die skool! My 2 Gr 7 kleinseuns ook! Almal in dieselfde skool.

tweeling ·

Niks gemis nie, toe die skole gesluit het het antie kopdoek en antie M gesê as daar skole is wat wil oopbly dan kan hulle maar, die amptelike aankondiging was dat die skole sluit maar daar sal nie teen skole opgetree word wat oopbly nie.

Dana ·

My Gr11 dogter ook al op 14 Augustus teruggekeer. Maar daar word nie gewerk nie, aangesien daar so min leerders is. Sommige klasse is hul slegs tussen 2 en 6 leerders

Stella ·

Weier absoluut om my kind skool tu te stuur hierdie skooljaar..homeschooling is mar har voorland v nou af. Ekt langs 2 van ons kinders se graf gestaan..gan ni weer n kind aan di dood afstaan ni

Janc ·

Dit is die Staat se verantwoordelikheid om voorsiening te maak vir die skole wat nie gereed is nie. Al daai geld wat hulle so rond gooi, was veronderstel om skole te help om reg te wees. Ons skool is tops wat dit aanbetref en hulle sisteem werk regtig goed. Elke liewe skool kan nie gestraf word, net omdat hulle nie gereed is nie. Wys jou net hoe pateties hierdie regering is want “Education” was nog altyd vir hulle ‘n groot faktor maar wat het hulle gedoen om skole wat finansieel sukkel te help om gereed te wees?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.