Duisende leerders moet weer vraestel skryf

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Meer as 17 000 matriekleerders in Limpopo moet twee lewenswetenskap-vraestelle oorskryf, nadat die tweede vraestel vir lewenswetenskap verlede week, kort voor dit geskryf is, uitgelek het.

Die departement van basiese onderwys het bevestig 17 500 leerders moet die vraestel weer skryf na afloop van ʼn ondersoek deur ʼn spesiale taakspan, wat op die been gebring is om te bepaal hoe die vraestel uitgelek het en wat die omvang daarvan is.

Elaijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, het gesê leerders van die Vhembe-distrik sal die eerste en tweede lewenswetenskap-vraestelle oorskryf. “Die besluit is geneem na bevestiging dat ‘n afskrif van die 2015 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen vraestel vir Lewenswetenskap voor die aanvang van die eksamen onder sommige leerders rondgestuur is.”

Die vraestel is enkele dae voor die eksamen in die besit van leerders by die Marude Secondary School in Thohoyandou gevind. ʼn Beampte wat by die eksamenproses betrokke was, het na bewering die vraestel aan die leerders uitgelek wat dit op sosiale media onder hul vriende versprei het.

Mhlanga het gesê ʼn strafregtelike ondersoek word ook gedoen, aangesien die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen deur wetgewing beskerm word. Hy het gesê hul ondersoek het daarop gedui dat die uitlek van die vraestel beperk is tot die Vhembe-distrik, vyf leerders in Gauteng en twee in Mpumalanga.

Die Valke het intussen die ondersoek oorgeneem. Die eerste vraestel vir lewenswetenskap sal op 4 Desember weer geskryf word, terwyl die tweede vraestel op 8 Desember geskryf sal word.

Die departement het gesê hy verstaan dat sommige leerders wat nie by die uitlek van die vraestel geïmpliseer is nie en nie gekul het nie, nou die eksamen weer moet skryf. Die departement het gesê dit is egter noodsaaklik om die geloofwaardigheid van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen te behou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Nou moet die eerlike leerders saam met die oneerlikes gestraf word.

ANDRE ·

En die sirkus word al groter ! DIT IS N FLIPPEN VERNEDERING VIR ONS OPGEVOEDE LEERDERS.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.