Duisende lisensiekaarte gereed

Meer as 17 000 kaarte wag reeds om afgehaal te word terwyl talle glo binnekort gereed sal wees.(Foto: Maroela Media)

Motoriste wat tussen Oktober en Desember verlede jaar aansoek vir nuwe lisensiekaarte óf die hernuwing van hierdie kaarte gedoen het, kan dit nou by die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) se kantore afhaal.

RTMC het vandeesweek in ʼn verklaring gesê dat die Driving Licence Card Account (DLCA) – ʼn afdeling van die departement van vervoer –  32 748 lisensiekaarte by sy onderskeie sentrums afgelewer het, maar dat slegs 42% afgehaal is. Altesame 17 011 lisensiekaarte lê glo nou en stof opgaar. Boodskappe is glo aan aansoekers uitgestuur, maar baie het nie daarop gereageer nie.

Motoriste kan ʼn SMS met hul identiteitsnommer na 33214 stuur om inligting oor die status van hul lisensiekaarte te ontvang.

Die RTMC-kantore is elke dag van 07:00 tot 21:00 oop.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het die RTMC-sentrums verlede jaar in Midrand en Eco Park in Gauteng geopen. Die doel van dié sentrums was om verligting te bring in die agterstand wat die sluiting van lisensiekantore tydens die Covid-19-pandemie meegebring het.

Luidens die verklaring het die sentrums al meer as 83 000 aansoekers bygestaan.

DLCA werk glo 24 uur-skofte om die druk van lisensiekaartaansoeke te verlig. Die afdeling voer aan dat hy reeds 919 000 kaarte sedert 20 Januarie vanjaar gedruk het en op dreef is op die agterstand teen einde Junie vanjaar in te haal.

Motoriste wie se lisensies tussen Maart 2020 en 31 Augustus 2021 verval het en wat die hernuwingspertyd van 5 Mei gemis het, word aangemoedig om dringend tydelike bestuurslisensies te bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lynette ·

Die SMS nommer om te bepaal of my hernude bestuurslisensie gereed is, is nie aktief nie. Ek wag reeds langer as drie maande dat dit by Waltloo Pretoria afgelewer word.

Lourens CFG ·

Ek het ook elke nou en dan gebel om uit te vind of my lisensie al daar is, en elke slag was die antwoord nee, nog nie.
Op ‘n dag was ons naby die departement, en besluit om daar in te gaan, ek was gelukkig dat daar net ‘n paar mense in die ry was.
Vra by navrae en kry die antwoord dat dit al maande daar lê, en dat hulle op die punt was om dit terug te stuur.
So, doen jouself die guns, en gaan maar persoonlik in.

SjN ·

Aan my is reguit gese dat hul nie geld het om te laat weet die kaart kan afgehaal word nie, ek moet maar gaan vra by lisensiekantoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.