Duisende liter diesel amper by myn gesteel

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Activ-Michoko, Pixabay)

Twee mans, onderskeidelik 34 en 41 jaar oud, en een vrou (29) is Maandag in hegtenis geneem nadat hulle probeer het om ʼn reusehoeveelheid diesel by ʼn myn te steel.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het by ʼn myn in Breyten naby Ermelo plaasgevind.

Volgens Hlathi het daar ses gewapende mans die oggend by die myn ingeloop en twee veiligheidswagte genader.

“Hulle het die wagte ingelig hulle wil diesel koop. Ander werknemers wat aan diens was, het onraad vermoed en het solank die polisie gebel,” het Hlathi gesê.

Toe die polisie by die toneel opdaag het die verdagtes laat spaander. “Een van hulle is egter in hegtenis geneem en die ander kon daarin slaag om te ontsnap. Hulle het ʼn bakkie en ʼn tenk agtergelaat,” het Hlathi gesê.

Volgens hom het die verdagtes reeds sowat 6 000 liter diesel in die tenk getap.

Hlathi sê die polisie het verder ondersoek ingestel en ook ʼn man en ʼn vrou, wat vermoedelik met die saak verband kan hou, by die ingang van die myn in hegtenis geneem.

Die drie sal vandag in die Ermelo-landdroshof verskyn op aanklag van sakeroof.

Enigiemand met inligting oor die vyf ander verdagtes kan sers. Alfred Khanya by 072 862 3662 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sputnik ·

Dit is sekerlik so ‘n ou 5- of 6-ton bakkie, nie sommer ‘n Hilux nie :-)

IK ·

SES is die magiese getal vir spanwerk, hetsy munisipaal of vir misdaad. Dit het seker te doene o.a. met moed om die joppie te kan doen? Hopelik het daar SEWE wetstoepassers opgedaag maar gelukwensing om die misdaad hierdie keer stop te sit.

Gemaskerde Sopbeen ·

Sodra ‘n item se prys buitensporig styg, kry dit “smokkelwaarde”…..Ons gaan nou toenemend in Suid Afrika sien hoe daar met brandstof gesmokkel word….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.