Duisende motoriste dalk binnekort sonder geldige lisensies

(Argieffoto: www.services.gov.za)

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het ʼn beroep op die minister van vervoer, Fikile Mbalula, gedoen om die geldigheid van alle bestuurslisensies tot ná die spertyd van 30 Augustus te verleng.

Die AA waarsku indien die minister dit nie doen nie, duisende motoriste sonder geldige lisensies gaan sit.

Ingevolge die huidige bepalings geld die verlengingstydperk net vir lisensies wat voor Mei verval.

“Enige lisensies wat in Junie of Julie verval, het ook ʼn onmiddellike grasietydperk van 21 dae, maar daar is verskeie probleme wat dit moeilik maak vir motoriste om hul lisensies binne dié tyd te hernieu,” het Willem Groenewald, uitvoerende hoof van die AA, in ʼn brief aan Mbalula gesê.

Daar is steeds talle probleme met die gebruik van die eNatis-stelsel, wat insluit die beperkte aantal tydgleuwe wat beskikbaar is om lisensies te hernieu. Sommige sentrums is boonop steeds gesluit weens Covid-19-infeksies onder amptenare. Dit plaas weer groot druk op sentrums wat wel nog oop is vir sake.

“Ons ervaring is dat die meerderheid bestuurders in Suid-Afrika aan regulasies wil voldoen en wettig wil bestuur. Hoewel die stelsel dikwels probleme gee, doen motoriste die nodige stappe om te verseker hulle voldoen aan wetgewing. Gegewe die huidige beperkings op die stelsel, is daar ʼn groot moontlikheid dat hulle dit nie sal kan doen nie,” het Groenewald gesê.

Die AA vra dat die grasietydperk tot aan die einde van Januarie volgende jaar verleng word, wat volgens die organisasie ʼn meer lewensvatbare opsie is.

“Die verlenging maak voorsiening vir die sluiting van sentrums oor die Kerstyd, asook vir verdere sluitings weens Covid-19.”

Die AA het ook voorgestel dat Mbalula oorweeg dat ander instellings, soos die AA, toegelaat word om lisensiehernuwings te doen.

Groenewald sê nie net gaan dit help om huidige en geskiedkundige agterstande uit te wis nie, dit gaan ook die druk op lisensiekantore in die toekoms verlig.

Die organisasie het Mbalula ook gevra dat indien ʼn verlenging wel toegestaan word, die besluit duidelik aan alle wetstoepassers oorgedra word. Die AA sê motoriste word steeds met boetes gedreig selfs al val hul lisensies nog binne die 21 dae lange grasietydperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Stofdonkie ·

Die hele idee van hernuwing is nog al die pad ‘n ramp. Lisensie kantore konskaar byhou met nuwe lisensies se verwerkings en toe bring hulle die hernuwings ook in sonder om ooit hulle kapasiteit te verhoog. Die agterstand word nooit ingehaal nie maar hulle wil mense penaliseer en vervolg wat nie aan die wet voldoen nie. Hulle maak dit vir die gemiddelde persoon onmoontlik om aan die wet te voldoen. Gewone mense kan nie dae lank afvat by hulle werk om hulle lisensies te gaan hernu nie. Privatiseer die lisensie hernuwing en julle sal sien hoeveel mense kan in ‘n dag gehelp word.

Pieter ·

Ek was voor die vervaldatum op 26 Junie daar, maar is by die hek weggewys. Hulle laat net ‘n paar op ‘n dag toe. Ek is 74 en kan nie douvoordag in ‘n tou gaan staan om een van die dag se gekosenes te wees nie.

Robert ·

Die 5 jaarlikse hernuwing is in elk geval geskep om geld te maak en van geen nut nie.

Cherokee ·

Wie en wat is ‘gewone mense’, Stofdonkie? Oftewel, wie is nie gewone mense nie? Ek was 3 uur in ‘n ry op ‘n Saterdag, vir my lisensie. Nie gehou van my bewys van adres, elektristeitsrekening wat volgens hulle te oud was, en dit was tydens die ingeslote tydperk waartydens die munisipaliteite geen rekenings gestuur het. Dit wat ek die klerk toegevoeg het, het niks gehelp en ek moes Maandag terug. Gedink die ‘gewone mense’ werk en dit sal vinniger gaan, maar toe was ek 3½ uur in dieselfde ry. Darem is my lisensie hernu.

Bernard ·

Die meeste beskaafde lande se rybewyse is geldig vir tien jaar. Shabir Shaik en pêlle kry R48 vir elke nuwe rybewys en hernuwing.

Stofdonkie ·

Bernard, teen R48 per hernuwing kan ons ‘n mooi kantoor opsit en vir hele paar mense werk gee.

Maricelle ·

“hernieu”? Ek het nog nooit die’ spelvorm van “hernu” gesien nie.

Ek stem saam stofdonkie. Privatiseer die’ hele onaangename situasie van hernuwing…ek dink dit is die enigste pad vorentoe.

Kerneels ·

Ons seun kom so paar weke gelede op ‘n Vrydagmiddag by Akasia se kantore aan om sy lisensie te hernu. Sy afspraak was vir 14:30. Hy was ‘n uur vroeg, soos die instruksies aandui. Daar gekom, vind hy ‘n nota op die deur wat se^ die kantore is gesluit weens ‘n kragonderbreking. Daar is nie ‘n siel in sig nie, maar al die ligte brand. In hul haas om huis toe te storm voor die krag weer aangaan, het hulle seker vergeet om die skakelaars af te sit…… Luiheid en “fruitless and wasteful expenditure”!

O ja, hy is in die PARKADE voorgekeer deur iemand wat hom inlig hy het uitstaande verkeersboetes teen sy naam, hy sal nie sy lisensie kan hernu alvorens die uitstaande boetes betaal is nie, en hy moet die geld vir die boetes aan hulle oorhandig……Skelmstreke!

Hekwag ·

Jammer om die departemente se moeilikheid te hoor. Dan maak ons maar soos die res van die volk, ry sonder lisensie. Hulle moet tog net bykom, asb!

Gerhard ·

Mbalula weet nie eers of hy kom of gaan nie…hy het nie die breinkrag vir sulke probleme nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.