Duisende onnies reeds ingeënt

Duisende onderwysers en personeel is Woensdag teen Covid-19 ingeënt. (Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS). (Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS)

Meer as 48 000 onderwysers en onderwyspersoneel is Woensdag in sewe van Suid-Afrika se provinsies met die Johnson & Johnson (J&J)-entstof teen Covid-19 ingeënt.

Dit was dag een van die departement van basiese onderwys se massa-inentingsprogram wat mik om 582 000 mense in dié sektor te bereik.

Maroela Media het vroeër berig dat alle onderwysers sowel as steunpersoneel in die openbare sektor ingeënt sal word, onder wie onderwysers wat beheerliggaamposte beklee en personeel van onderwysvakbonde.

In die Wes-Kaap is slegs 30 mense as deel van die loodsprogram ingeënt en dié provinsie asook Limpopo sal onderskeidelik op Donderdag en Vrydag met die toedien van massa-inentings begin.

Luidens ’n verklaring deur die departement het KwaZulu-Natal Woensdag die meeste mense ingeënt (21 773), terwyl die minste inentings in die Noord-Kaap toegedien is.

“Om dag een van die projek af te skop het die Noord-Kaap besluit om spanne na kleiner dorpies te ontplooi.”

Hoewel die departement “tevrede” is met die verloop van die loodsprogram, sê hulle dat fopnuus bygedra het tot sommige van die uitdagings wat op die eerste dag van inentings ervaar is.

“’n Vals boodskap wat op WhatsApp versprei is, het aangedui dat die departement te min entstofdosisse het. Dit het tot gevolg gehad dat sommige inentingsentrums in veral die Oos-Kaap, Noordwes en die Vrystaat deur mense oorval is.

“Die departement het genoeg entstofdosisse om ons teiken te bereik. Nóg entstof is op pad en ons beoog om die program binne 14 dae af te handel.”

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die afgelope naweek aangekondig dat 300 000 dosisse van die J&J-entstof reeds ontvang is en dat al vyf amptelike en erkende onderwysvakbonde die inentingsprogram steun. Dit sluit Sadtu, Naptosa, Natu, PEU en die SAOU in.

Daar is egter uit sommige oorde kommer oor die J&J-entstof uitgespreek aangesien die entstof nie 100% beskerming bied nie.

Die Vryheidsfront Plus het vroeër gesê dat hulle die geleentheid wat geskep word om onderwysers in te ent verwelkom, maar bekommerd is dat onderwysers met onderliggende siektetoestande ná die inentingsprogram na skole sal moet terugkeer.

“Die departement doen ’n beroep op alle personeel om gehoor aan distrikskantore se skedules te gee en om te alle tye by maatreëls en protokolle te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Erik ·

Die J&J entstof bied 100% beskerming teen sterftes, maar nie om Covid te kry nie. Iemand seker al weer iets anders op facebook raakgelees nadat hulle hul ivermektien salfie aangesmeer het.

Ek is self gister ingeënt en was baie beïndruk met die gesondheids- en onderwysdepartement se reëlings. Alles was agtermekaar en ek het geen frustrasie beleef nie. Welgedaan!

Elize ·

Ek wens mense wil ophou om twak te versprei en gaan vir die inenting. Ek is ook reeds ingeent en het geen probleme ondervind nie. Ek vind dit jammerlik dat groot en volwasse mense hulle aan hulle neuse laat rondlei. As kinders is ons teen talle siektes ingeent wat ons lewens gered het. Dis almal wat Trump en sy QAnon se stories najaag wat probleme veroorsaak.

Erik ·

Jy is heeltemal reg Elize, maar gaan nie hier veel ondersteuning kry nie.

Dis soos daai grappie wat die rondte doen ‘Ek gaan nie die inenting kry nie, want mens weet nie wat in die vaksine is nie… Sê Karin wat 40 patties vir R20 by die kafee koop.’

Ek wonder waarheen gaan al hierdie mense wat so teen die vaksine is as hul siek word, aangesien byna alle dokters hulself reeds in laat ent het en seker dan nie meer as mediese kundiges beskou word deur die anti-vaksine groep nie.

Boon ·

Dankie dat onderwys as so belangrik geag word om voorkeur te kry. Nou moet hul vakbonde hul beywer om as noodsaaklike diens beskou te word, wat beteken hul mag nie staak nie . Dan sal hulle waarlik professionele status geniet.

Anel ·

Ek kan nie verstaan wat die probleem is dat as die onderwyser geënt is en ondeliggende siektes het nie, hoekom wil hulle nie teruggaan skool toe nie? Hulle is mos nou geënt? Waarvoor is hulle dan nou bang? Almal verkondig dan dat die ent die alfa en omega is? As jy dit dan nie vertrou nie, moet dit nie kry nie.

Erik ·

Hi Anel, daar is moontlik 2 redes vir dit. Eerstens skop die vaksine se beskerming eers oor twee weke in, en tweedens beskerm die vaksine jou nie 100% teen Covid nie, maar slegs 100% teen sterf a.g.v. Covid.

Lizelle ·

Ai Erik, jy kan verduidelik tot jy blou word. “Sommige” mense is reeds vas oortuig daarvan dat hul nie die vaksiene gaan neem nie. Ons lees dit nou al vir ‘n jaar lank elke dag dat x,y en z nie die vaksiene gaan neem nie. Asof ons belangstel wie dit gaan vat en wie nie. We get it, x,y en z stel nie belang nie. Elkeen moet vir homself besluit en ophou om ander mense te probeer oortuig om dit ook nie te neem nie

Erik ·

Ek stem saam met jou, maar voel tog ons moet oningeligte mense bly opvoed, want hierdie virus is hier om te bly as mense hulself nie laat inent nie. Daar is geen ander oplossing behalwe die inenting nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.