Duisende oudpolisielede wil terugkeer na SAPD

Foto: SAPD, Facebook

Foto: SAPD, Facebook

Die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Sondag gesê duisende oudpolisielede het aansoek gedoen om weer lede van die polisiemag te word.

Brig. Vishu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê sedert die polisie aangekondig het dat hy voormalige polisiebeamptes wil werf om jare lange ervaring terug te bring in polisiegeledere, het meer as 2 800 voormalige polisiebeamptes aansoek gedoen. Ongeveer 1 000 van hierdie aansoeke was van voormalige speurders.

“Hierdie rare geleentheid vir voormalige lede is deel van die bestuur se plan om polisierange met hoogs ervare speurders en voormalige lede van sigbare polisiëring te versterk, omdat ons poog om dienslewering op praktiese vlak te verbeter,” het Naidoo gesê. Hy het gesê die polisie sal voormalige konstabels, sersante, adjudant-offisiers en luitenante aanstel, spesifiek in die speurdiens en sigbarepolisiëring-afdeling.

“Die aansoeke word tans oorweeg na aanleiding van die posvereistes wat in die advertensies gelys is. Aansoekers moes egter nie die polisiediens verlaat het terwyl ʼn dissiplinêre ondersoek teen hulle hangende was nie,” het hy gesê. “Die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, het dit duidelik gemaak dat mense met misdaadrekords nie in aanmerking geneem sal word nie.”

Volgens Phiyega kan slegs lede met ʼn onberispelike diensrekord en goeie werkprestasie weer in aanmerking kom. Sy het ook die span wat interne ouditwerk doen, versoek om die proses waar te neem en sodoende te verseker dat alles op ʼn regverdige en objektiewe manier geskied. Daar word beplan om die proses teen November 2015 te finaliseer.

Naidoo het beklemtoon dat daar niks snaaks of ongewoon is wat die verlies van polisielede betref nie, aangesien verskeie staatsdepartemente werknemers verloor het weens verwarring oor pensioenfondsvoordele. “Vorige mediadekking oor die herroep [van voormalige polisielede] het die wanindruk gewek dat die getal lede wat die polisiediens verlaat oor die laaste jaar verdriedubbel het, maar dit is nie geval nie.”

Volgens die polisie se amptelike syfers het 5 447 lede die polisie in die finansiële jaar 2013/2014 verlaat, terwyl 7 249 lede in die finansiële jaar 2014/2015 weg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Daar moet sommer dadelik n interne oudit op die bestaande polisie gedoen word sodat ons kan sien waar die stof uitslaan.

Hansie ·

Gerhard, as hulle dit sou doen, raak hul van nog duisende ontslae. Van buite moet hulle perfek wees maar van binne vrot….

CHRISTA ·

Begin eersmet ‘n oudit op die minister en haar trawante!!!

HEVW ·

Baie positief. Ek glo baie knap gewese polisielede met ontoerykende pensioen is dankbaar oor die geleentheid. Hoop nie die rassekaart word weer gespeel nie. Ek stel my voor dat swak arbeidsverhoudinge die voorland kan wees, want hoe sal huidige korruptes en met misdaadagtergrond, en ontoegewydes die knie kan buig voor dissipline en toegewydheid? Maar laat ons probeer. STERKTE!!!

maggie, ·

Miskien moet hulle van die ontslae raak wat kriminele rekords teen hulle het en wat nog steeds in die polisiemag is.. hulle het al wat n polisievoertuig is stukkend gery.

Winston ·

Ja Maggie. As hulle almal ontslaan wat rekords het, moet hulle kubane invoer om die uniforms te vul. Daar is reeds baie uniforms met mis gevul, dus gaan dit weinig veskil bring. Hulle moet vir n slag die kleurbril afhaal en die kundigheid begin sien. Justisie en Korrektiewe Dienste moet ook hersien word.

kathleen ·

Dink hul dit gaan plaas moorde inbrake en die gemors waarin ons land is stop.

Riaan ·

Hierdie geld net vir swart nie vir wit nie.Wittes word nie weer aangestel nie.

sr1977 ·

My man is ‘n polisie beampte. Ons het aansoek gedoen vir ‘n amptelike woning omdat dit finansieel swaar gaan op die oomblik. Die cluster hoof keur dit goed en dit gaan Provinsiele kantoor vir afteken. Volgende hoor ons dat die Generaal se kantoor dame die huis gekry het! Want sy het nie meer lus om so ver te ry nie. Na 22 jaar diens en 19 jaar daarvan as AO het hy genoeg gehad.

Issabelle ·

Ek wonder hoeveel van die polisie beamptes HET kriminele rekords teen hulle ….. ek hoop die beamptes wat aansoek gedoen het , MOET BAIE STRENG gekeur word , SONDER ENIGE kriminele rekords ! Hoop ook die polisie diens RAAK ONTSLAE van AL die dom , astrant , arrogante , lui , vet & kriminele beamptes in hulle diens wat absoluut NIKS beteken nie !!!!! Maak nie saak of hy / sy rang het nie , RAAK ONSTLAE !!!!

CHRISTA ·

Ons ministers moet net besef: dieselfde korrupte polisie en polisie met kriminele rekords ‘beskerm’ ook HULLE FAMILIES!!

Riaan ·

Julle moet nie sommer loop nie,werk is skaars buite vir wit mense.Dis presies wat hulle soek dat die wittes moet siek en sat raak vir hulle.dan is daar meer plek vir hulle boeties.Bly sr1977

alet ·

nou wat van bestaande lede met kriminele rekords. Kan daar van hul ontslae geraak word en die wat indiens geneem is terwyl hul oor kriminele rekords beskik het. Hul wil ons mense terug he maar is bereik om nog met die ander vrot appels te sit

Henry ·

Ge-oordeel aan gisteraand se Carte Blanche program oor die polisie in Edenvale se aanranding en intimidering van onskuldige mense, wil ek geen sogenaamde polisielid naby my huis of haard toelaat nie.
Wit of swart.
Afgesien van die twee voorbokke, het hul wit bevelvoerder nie gehuiwer om die magsmisbruik van die duidelik identifiseerbare belhamels, te beskerm nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.