Duisende perde kan vrek weens staat se gesukkel met entstof

Groot kommer heers oor die tekort aan entstof teen Afrika-perdesiekte. (Argieffoto: StockSnap)

ʼn Krisis dreig oor ʼn gebrek aan voldoende entstof teen Afrika-perdesiekte (APS), met sommige kenners wat waarsku dat tot duisende perde kan vrek indien daar nie vinnig ingegryp word nie.

Die entstof teen Afrika-perdesiekte word eksklusief deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) vervaardig en is nêrens anders beskikbaar nie. Die masjien wat OBP gebruik om die entstof te vervaardig, het verlede jaar die gees gegee en teen Augustus het die entstof begin opdroog. Teen Desember was daar glo bykans geen meer entstof beskikbaar nie.

OBP moes ʼn nuwe masjien van oorsee laat kom, maar daar was na verneem word probleme om dit gedoen te kry en die situasie het tot verdere vertragings in die vervaardiging van entstof gelei.

Dit is onwettig om enige ongeregistreerde entstof teen APS te gebruik, hoewel OBP steeds nie in staat is om die voorgeskrewe – en enigste wettige ­– entstof te voorsien nie.

APS is endemies aan Suid-Afrika en dit is verpligtend om perde teen die siekte in te ent; hoewel weens geen fout van hul eie nie, is dit nou haas onmoontlik vir die meeste perde-eienaars. Indien ʼn perd se inentings nie op datum is nie, mag die dier byvoorbeeld nie na enige byeenkoms geneem word nie.

Dit word as ʼn “aaklige” siekte bestempel en sowat die helfte van perde wat dit opdoen, vrek ʼn wrede dood. Vir perde-eienaars en die diere self is dit ʼn geweldige traumatiese proses.

‘Slegte jaar’ verwag

Daar is vrese dat die siekte talle vrektes onder perde kan veroorsaak. (Foto: StockSnap)

“Dit is ʼn ingewikkelde en skrikwekkende siekte. Indien perde geen weerstand daarteen het nie, maak dit dood,” sê Douglas Welsh, voorsitter van die Trust vir Afrika-perdesiekte.

Die siekte bestaan uit nege verskillende serotipes en wanneer die diere ingeënt word, kry hulle klein hoeveelhede van elk van dié serotipes in. Oor etlike jare en soos hulle ingeënt en weer ingeënt word, bou die diere ʼn al hoe groter immuniteit teen die virus op.

ʼn Perd wat ʼn hele paar jaar oud is en getrou ingeënt is, het dus ʼn goeie kans om die siekte te oorleef – maar die immuniteit moes oor jare opgebou word.

Welsh sê vanjaar is ʼn “slegte jaar” wat die siekte betref. Die groot hoeveelhede reën wat oor talle dele uitgesak het, het tot verhoogde muggieaktiwiteit gelei en dit is hierdie goggas wat die virus versprei.

“In ʼn slegte seisoen kan selfs sterk perde beswyk as hulle immuunstelsel verswak is,” sê Welsh.

En weens die hoë reënval, die teenwoordigheid van baie muggies, die vinnige sirkulasie van die virus én die gebrek aan ʼn entstof, kan vanjaar ʼn besonder slegte jaar word.

Perde is ʼn reusebedryf in Suid-Afrika en wissel van peperduur stoetdiere, tot perde wat gebruik word om vir mense ʼn basiese inkomste te help verdien, as geliefde troeteldiere aangehou, of in perdesport gebruik word.

Daar is na raming sowat 270 000 perde in Suid-Afrika, hoewel die syfer moontlik veel hoër kan wees.

Welsh sê die huidige stand van sake kan duisende vrektes met groot finansiële skade – en geweldige emosionele verlies – veroorsaak.

Waar is entstof dan?

Die DA het ʼn petisie met meer as 6 000 handtekeninge ontvang van perde-eienaars en telers wat diep bekommerd is oor die tekort aan entstof.

Thoko Didiza, minister van landbou, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag egter gesê dat entstof wel by OBP beskikbaar is.

Janho Engelbrecht, die DA se kiesafdelingshoof in Mogale City wat hom die afgelope ruk beywer om ʼn oplossing vir die krisis te help vind, sê telers en eienaars hou egter voet by stuk dat hulle nié entstof in die hande kan kry nie.

“As die minister reg is en daar voldoende entstof by die fasiliteit is, waarom word dit nie aan die telers verskaf nie?”

Daar was die afgelope jaar reeds tientalle voorvalle en vrektes weens APS, hoewel die kruin van die APS-seisoen eers teen die einde van April en in Mei bereik word.

Die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het ʼn alternatiewe entstof vir die een wat deur OBP vervaardig word en dit word volgens kenners reeds suksesvol in onder meer Kenia en Soedan gebruik.

Suid-Afrikaanse wetgewing bepaal egter indien ʼn entstof ingevoer word, ʼn permit daarvoor by die regering bekom moet word. Volgens ingeligte bronne is daar in Suid-Afrika aansoek gedoen vir só ʼn invoerpermit – en die staat het dit afgekeur. In nog een van Didiza se parlementêre antwoorde het sy egter aangedui dat die departement geen rekord van so ʼn aansoek het nie.

Volgens bronne het desperate perde-eienaars nietemin alternatiewe entstowwe die land ingesmokkel in ʼn poging om hul perde veilig te hou.

“Die staat het ʼn monopolie op die vervaardiging, verspreiding en verkoop van die entstof en dit wil lyk of daar probeer word om enige mededinging te verhoed,” sê Engelbrecht.

Dit laat perde-eienaars in ʼn moeilike posisie.

Die uitbreking is reeds wyd versprei en agt van die nege serotipes is selfs voor die hoogtepunt van die seisoen al aangemeld. “Die groot probleme kom nog en daar is nie entstof nie. Jy moet nou hoop en bid.”

Diere wat nie ingeënt is nie, kan verhoed word om aan plaaslike en internasionale byeenkomste deel te neem en die situasie hou ʼn wesenlike gevaar in vir die duisende werksgeleenthede wat die bedryf skep.

“Die ongevoeligheid en traak-my-nie-agtigheid steek ʼn mens dwars in die krop. Perde het ʼn besonder fyn ingesteldheid, hulle word byvoorbeeld vir terapie gebruik.

“Daar is ook ʼn baie sterk emosionele band tussen ʼn perd en sy eienaar en as die diere iets oorkom, is dit soos om ʼn lid van die familie aan die dood af te staan.

“Mense is geweldig omgekrap hieroor,” sê Engelbrecht.

  • Nie Onderstepoort Biologiese Produkte, óf die departement van landbou het ten tyde van publikasie op navrae reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

DieKriek ·

En as jy dit kan kry, is dit onbekostigbaar. As iets verpligtend is dan moet jy dit nie uit die mark prys nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.