Duisende polisiebeamptes van ernstige misdade verkla

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het in die afgelope boekjaar 6 122 klagte teen polisiebeamptes ontvang.

Opod het die week sy 2020-’21-jaarverslag by die parlement ingedien en volgens Dikeledi Ntlaseng, uitvoerende direkteur van die waghond, is die meeste klagte in die Wes-Kaap (1 224) ontvang, gevolg deur Gauteng (1 082), KwaZulu-Natal (763), die Vrystaat (731) en die Oos-Kaap (730).

Daar was ʼn 9%-styging in die aantal klagte ontvang in vergelyking met die vorige boekjaar.

Die meeste van die klagte hou verband met aanranding deur polisiebeamptes. Altesame 4 228 van die 6 122 klagte was vir aanranding, gevolg deur die onwettige afvuur van ʼn amptelike vuurwapen (830), sterftes weens polisie-optrede (353), marteling (256) en sterftes in polisieaanhouding (217). Daar is ook 80 klagte van verkragting teen polisiebeamptes ingedien.

Altesame 87 polisiebeamptes is tydens die boekjaar in hegtenis geneem, terwyl 169 polisiebeamptes in tugverhore skuldig bevind is tydens die oorsigperiode. Die strawwe wat opgelê is, sluit onder meer in skriftelike waarskuwings, skorsing sonder betaling en korrektiewe berading.

Slegs 11 polisiebeamptes is uiteindelik afgedank nadat hulle skuldig bevind is aan verkragting, korrupsie en sterftes weens polisieoptrede.

Altesame 29 polisiebeamptes is in strafsake skuldig bevind. Die swaarste vonnis wat opgelê is, is 25 jaar tronkstraf, asook vonnisse wat wissel tussen 10 en 18 jaar op aanklagte van sterftes weens polisieoptrede, verkragting en korrupsie.

Tydens die oorsigperiode het Opod 1 887 sake na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys vir ʼn besluit oor die kwessie of daar strafregtelike aanklagte aanhangig gemaak moet word. In 1 478 van die sake wag Opod steeds op ʼn antwoord van die NVG, terwyl daar in 34 van die sake besluit is om te vervolg. In 369 van die sake is daar besluit om nie te vervolg nie en ses sake is teruggetrek.

Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, sê in die verslag Suid-Afrikaners moet die hoogste respek vir die polisie hê, wat onmoontlik is as daar kwaaddoenery binne die polisie is.

“Die SAPD baklei al lank voor Covid-19 teen baie pandemies wat die land verwoes, waaronder wangedrag en korrupsie in eie geledere, wat ʼn negatiewe uitwerking het op die beeld van die polisie en wat die grondwetlike regte van ons burgers in gevaar stel (veral die reg op veiligheid).

“As ʼn volwasse grondwetlike demokrasie moet ons verseker dat ons optrede, veral dié van die polisiediens, ondersteun word deur respek vir die wet en wetstoepassingsagentskappe. Ons kan dit dus nie bekostig om die vrot appels te behou nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hardekwas ·

Dié is jou ware polisie cele. Net so sleg en onbevoeg soos jy.

Dup ·

Beteken dit nou dat al die genoemde beamptes kriminele intensies gehad het toe hulle aangestel is? It takes a criminal to catch a criminal…..

jzjz05 ·

“It takes a criminal to catch a criminal”Miskien is dit hul getuigskrif, wie weet?

Neels ·

Dit is die wat uitgevang word, dié wat nog steeds in die dorpe met die shebeens en hulle dwelm vriendjes hulle “cuts” ontvang floreer ongelukkig in hulle domeine!

Jack ·

Die minister gaan nog president word. Min verskil tussen hom en zuma en iets is aan die gang. Sy manne is totaal buite beheer en hy moet die skuld dra.

Jakes ·

Vrot tot in hul fondasie. Daar is egter n paar polisielede wat nog hul werk met trots doen. Ongelukkig word hulle oorskadu deur kriminele in hul midde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.