Duisende polisielede eersdaags ingeënt

Die minister van polisie, Bheki Cele. Meer as 180 000 polisiebeamptes sal van Maandag teen die koronavirus ingeënt word. (Argieffoto: Michele Spatari/AFP)

Meer as 180 000 polisiebeamptes sal van Maandag teen die koronavirus ingeënt word.

Die polisie het Vrydag gesê dat hy die inentingsprogram in Soweto in Gauteng gaan afskop.

“Genl. Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, polisiekommissaris, sal die polisie se inentingsprogram lei.

“Hulle sal deel van die eerste groep polisiebeamptes en -personeel vorm wat dié inentings Maandag ontvang,” lui ʼn verklaring van die polisie.

Richard Mamabolo, woordvoerder van die vakbond Popcru, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dat polisiebeamptes baie kwesbaar vir Covid-19 is weens die onvoorspelbare omstandighede waaronder hulle werk.

“Voordat van hulle verwag word om die verspreiding van die virus hok te slaan, moet hulle die nodige inentings ontvang om hulself te beskerm,” het Mamabolo gesê.

Maroela Media het ook berig dat sekuriteitswerkers en weermaglede volgende in die inentingsry is.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het intussen aangedui dat die inenting van joernaliste ook geprioritiseer sal word. Dié sektor sal na bewering kort ná die polisiediens, weermag en beamptes van korrektiewe dienste ingeënt word.

Volgens Sanef het die regering hom Maandag meegedeel dat die program begin sal word sodra alle mediainstelling hul werkers se persoonlike inligting, ouderdomsgroepe en die streek waarin hulle werk ingedien, het.

Alle gemeenskapsmedia-instansies landwyd, asook vryskutjoernaliste, sal vorms ontvang wat aan die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS) gestuur moet word.

Luidens ’n berig op Business Insider sal die mynbousektor en minibustaxibestuurders ook kort op die hakke van polisiebeamptes ingeënt word aangesien hulle elke dag duisende mense vervoer en voortdurend aan die virus blootgestel is.

Laeblootstellingsrisiko-sektore soos die finansiële, eiendom-, vermaak- en kommunikasiesektor sal volgens dié berig moontlik laaste aan die beurt vir inentings wees.

Maroela Media het Maandag berig dat sowat 200 000 van die altesame 582 564 werkers in die onderwyssektor reeds die inenting as deel van die departement van basiese onderwys se inentingsprogram ontvang het.

Intussen is daar steeds onduidelikheid of werkers in sentrums vir vroeë kinderontwikkeling, wat dagsorgsentrums en kleuterskole insluit, geprioritiseer sal word soos deur die organisasie Help SA ECD’s versoek. Dit sluit onderwysers by sentrums vir vroeë kinderontwikkeling wat aan laerskole verbonde is uit aangesien hulle wel vir inenting kwalifiseer.

Jennifer McQuillan, medestigter van dié organisasie, het vroeër gesê dié bedryf steier om tydens die Covid-19-pandemie kop bo water te hou.

Luidens die jongste Covid-19-statistieke het minstens 1 995 556 mense in Suid-Afrika nou reeds die virus opgedoen nadat nog 21 587 pasiënte positief getoets het.

Daar is tans 179 734 aktiewe gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika, waarvan meeste nuwe gevalle steeds in Gauteng aangeteken is. Tot dusver het 1 754 793 mense van die virus herstel terwyl 61 029 mense dood is.

Meer as drie miljoen mense in Suid-Afrika is tot dusver teen Covid-19 ingeënt.

Suid-Afrika is tans op vlak 4 met verskerpte afsonderingsmaatreëls in ’n poging om die derde vlaag Covid-19-infeksies te stuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Agge nee ·

Hulle het ook nog geen duidelikheid oor wanneer die privaatskole se onderwysers inge-ent sal word. Die Letaba hospitaal het vandag reggemaak vir 1000 staatsonderwysers, net 220 het opgedaag, maar ons mag nie gaan nie, want ons het nie persal nommers nie. Die Streeksbestuurder het klomp boodskappe gestuur dat die staatsonderwysers moet kom, maar niemand het opgedaag nie. Sy het teen 1 uur gesê dat hulle maar die stasie kan sluit en oppak. Hulle sal eerder ‘n inentings stasie sluit voor hulle die privaatskole sal help.

Marianna ·

Mense se natuurlike immuniteit is afagetakel deur inperking en maskers.

A ·

Hoeveel verkoues/griep het jy in die laaste 14 maande gekry met jou verswakte immuunstelsel?

Nie Verbaas ·

Kan hulle miskien terselfdertyd hulle met vitamin B12 inspuit? Miskien kry die meerderheid dan n bietjie lewe en sit nie en slaap aan diens nie.

Anton ·

Help nie jy spuit die polisie in maar nie die KFC personeel nie

marius ·

Daar was verkondig dat onderwysers EN PERSONEEL van skole vandag ingeent word . almal het geregistreer en hul Persal nommers en betalings adviese saamgeneem . Daar aangekom word die personeel weg gewys en gese net onderwysers . Wil jy voorgee dat onderwysers se gesondheid en lewens meer belangrik is as die van die mense wat die administrasie moet behartig , siek kinders moet versorg en klasse en terrein moet skoon hou motsekga ? ANTWOORD DIT !

Philip ·

Ek verstaan nie die inentings storie nie my vrou en myself is n hele paar jaar oor die 70 en ons het by die mediese fonds en die gesondheids afdeling registreer en nou wag ons maar.Dit lyk vir my hulle spring heen en weer met die gepaardgaande sprekers elke ander aand op nuus wat ons vertel hoe uitstekend hulle vorder maar ons ouer mense is seker nie so belangrik nie.

Josua ·

oor n paar jaar van nou af gaan julle wat nie die inenting geneem het nie dankie sê vir die besluit!!!! Ek is in n mate bly dat die regering sloer met die inenting program want onwetend is hulle besig om mense se lewens te red net die wat soos skape ater die media aan hol en alles glo wat in keel af gedwing word gaan nie saamstem nie, jy het nie n inenting nodig nie daar is aanvaarbare en baie veiliger opsies om te volg net die gesondheids departement wil dit nie aanvaar nie!!!!

Tipper ·

Ek is bly hulle het reggekom,dankie tog,sterkte vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.