Duisende rande ingesamel na SAUK agt afdank

'n Skermskoot geneem op 20 Julie 2016 van die skarebefondsingsinsameling vir die agt afgedankte SAUK-joernaliste.

‘n Skermskoot geneem op 20 Julie 2016 van die skarebefondsingsinsameling vir die agt afgedankte SAUK-joernaliste.

Byna R300 000 is binne ʼn dag ingesamel vir die agt SAUK-joernaliste wat vroeër vandeesweek sonder tugverhore afgedank is.

Maroela Media het vroeër berig Foeta Krige, Suna Venter, Krivani Pillay, Jacques Steenkamp, Busisiwe Ntuli, Lukhanyo Calata, Vuyo Mvoko en Thandeka Gqubule het onderskeidelik Maandag en Dinsdag afdankingsbriewe van die uitsaaier ontvang. In die briewe word gemeld die joernaliste word in die pad gesteek omdat hulle “voortgaan om die SAUK-bestuur se gesag te ondermyn” en hul wangedrag “onhoudbaar” geword het.

Verskeie mense en organisasies het met woede en verontwaardiging op die afdankings gereageer en hul ondersteuning vir die joernaliste uitgespreek.

Adriaan Basson, media-vryheidsvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) en redakteur van News24, het Dinsdag ʼn skarebefondsingsinsameling van stapel gestuur om die joernaliste finansieel te ondersteun.

“Ja, ons kan betoog en verklarings uitreik en rubrieke skryf wat [die afgedankte joernaliste] ondersteun, maar op die 25ste moet hulle rekeninge betaal, waarskynlik met ʼn halwe maand se salaris as hulle gelukkig is,” het Basson op sy Facebook-profiel geskryf. “Party van hulle het kinders. Kom ons trek almal saam en kyk of ons geld kan insamel om hulle deur die ergste paar weke van hul professionele lewens te kry.”

Die aanvanklike mikpunt van $6 000 is vinnig verbygesteek en teen Woensdagoggend is byna $20 000, sowat R286 000, reeds vir die joernaliste ingesamel. Basson het gesê die geld sal einde Julie eweredig tussen die joernaliste verdeel word.

Intussen sal Solidariteit Donderdag in die arbeidshof versoek dat die joernaliste se afdankings dringend tersyde gestel word. Die mediavakbond Bemawu het namens Ntuli en Calata ook ʼn dringende aansoek voorberei, wat saam met Solidariteit se aansoek aangehoor sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Antoinette j ·

Is mariné jacobs getroud? Ek sien haar van het verander na Lourens toe?

Landi Slatter ·

Dagsê Antoinette j

Jy let omtrent fyn op! Mariné is inderdaad intussen getroud – ons wens haar en haar man alles van die beste toe!

Groetnis
Landi
nms Maroela Media

Lida ·

Ja hy het bedank by die SAUK. Vanoggend gehoor op die radio. Ek het nogal baie van sy uitsaaistyl gehou en hoop hy kry ‘n pos by KNET. Hy is ‘n eerbare man en het nie nodig om homself aan die korrupte spul skelms by die SAUK bloot te stel nie.

snoefie ·

hoekom word bedrae in dollar aangedui? is due geld dan deur suid Afrikaners in Amerika ingesamel?

Louis heydenrych ·

Sulke arogansie vann werkgewer het ek mog nooit in my lewe ervaar nie…..dank die hele.sabc raad af

KP ·

Goed gedoen wys jou die publiek kan nog saamstaan as dit moet. Dankie aan almal wat bygedra het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.