Duisende rande se droogtehulp vir boere

Bale voer word vervoer en versprei onder boere in die Noordwes (Foto: Verskaf)

Boere in die westelike dele van Noordwes wat gebuk gaan onder erge droogte, het die afgelope maande skenkings van sowat R100 000 in voer, hoendermis, mielie-oesreste en bone ontvang.

Verskeie produsente van onder meer Lichtenburg, Hartbeesfontein, Skuinsdrif en Vermaas het elk vragte van sowat 52 bale voer geskenk wat sedert laat Augustus na Jakkalskop, Leniesdeel en Tosca in Noordwes vervoer en onder boere versprei is. NWK Logistics het die vervoer van die tien vragte behartig en NWK het die vervoerkoste gedra. Die laaste van tien vragte is verlede week vervoer en onder boere in Noordwes versprei.

Naudé Pienaar, adjunk-hoofbestuurder van Agri NW, sê in ’n verklaring  hulle is reeds sedert 2013 gemoeid met die verspreiding van droogtehulp. Dié twee landbou-organisasies het al voorheen hulp aan droogtegeteisterde gebiede in Noordwes verleen en het vanjaar nie geskroom om weer te help nie.

Luidens ʼn verklaring het Agri NW en NWK sedert 2016 verskeie voerprojekte van stapel gestuur, waarvan die sogenaamde Koedoeskop-projek gewis die grootste was. Produsente in die Koedoeskop-omgewing in Limpopo het sowat 1 500 hektaar mielie-oesreste (750 vragte voer) beskikbaar gestel wat na Tosca en Vorstershoop in Noordwes geneem is.

Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van korporatiewe bemarking en kommunikasie by NWK, sê  elke aksie wat sedert 2016 geloods is, is ʼn spanpoging en dat dit ʼn voorreg is om te kan gee in tye van nood. “Landbou is deel van ons DNS en sal altyd wees,” lui die verklaring.

Volgens Pienaar is die boere van Noordwes en die res van die land Agri NW se grootste prioriteit en daarom sal hulle alles in hul vermoë doen om te help waar hulle kan. “Ons opregte dank aan NWK vir al hulle hulp en meelewing die afgelope jaar. Ons bedank ook elke skenker en medewerkers van organisasies soos Gift of the Givers, Save the Sheep Sutherland, Caring Daisies en Boere in Nood,” sê hy.

Susan Goosen van die Jakkalskop-boerevereniging in Noordwes sê sulke skenkings laat hulle opnuut  besef daar is nog mense wat omgee. “Daar is nie altyd ʼn stem om dankie te sê nie, maar die traan in die boer se oog beteken meer as woorde.”

Wessel Wessels, sekretaris van Leniesdeel-boerevereniging in Noordwes, sê beeste in dié omgewing is só dankbaar vir die voer, dat hulle by die drade gaan staan as die trekker met die wa aangery kom. “Dis ʼn riem onder die hart dat, in moeilike tye soos hierdie, ons as gemeenskap hande kan vat en saamstaan,” sê Wessels.

Wybrand Lambrecht van Hartbeesfontein, een van die produsente wat voer vir dié droogtegeteisterde gebiede in Noordwes geskenk het, sê hy móés die genade wat God aan hom bewys, met sy medemens deel. “Die boere moet weet hulle is nie alleen nie. Ons is saam in dié ding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wurmpie ·

Wonderlik. Ons dank die Vader dat hy ander in staat stel om ander in nood te help

Lizelda ·

My hart is so seer vir elke boer en elke dier wat deur hierdie droogte gebuk gaan. Ai, man kan dit nie net reen nie? Dankie is n klein woord met so groot betekenis, maar baie dankie aan almal.

Chris ·

n Boer het die genade ontvang om in nood uit te reik netso is daar baie ander kom ons gee om vir mekaar

Rudolph van Wyk ·

Ons bereidwilligheid om ons medemens in sy finansiële nood te ondersteun is prysenswaardig. Vir ons medeskepsels wat nie gevra het om daar te wees nie beteken voedselhulp ‘n kort verlenging van ons misrabele lewens want elkeen van ons se vroeë dood was alreeds bepaal die dag toe ons gebore is. Bykans 60000 van ons, sommiges waarvan gered is van die droogte bevind ons vandag onder haglike toestande op ‘n skip oppad na ‘n vreemde land om daar vir ‘n ander se geloof keelaf gesny te word.

Hanlie ·

Dankie Here vir U Groot Genade!!!! Dankie aan al die Boere wat omgee vir hulle mede boere en in hierdie tye van nood mekaar help!!!! Julle is Ysters Boere!!!

Baardbek ·

Die meelewing van soveel mense gryp ‘n mens aan die hart!! Ek dink dat net iemand wat self met diere boer, kan regtig, in diepte, die gevoel van onmag, en dan veral ook die gevoel van dankbaarheid vir hulp, ervaar en begryp.
Ek boer self met wilde diere, en my (wilde!)diere kom haal my by my huis se deur, om te smeek vir kos. Hulle kom sowaar uit die veld aangestap as hulle roep!
Mense wat dit self sien, kan dit nie glo nie, en vra dikwels of ek hulle dan met die hand of bottle grootgemaak het!
As die diere my in die veld raakloop. stap hulle al agter my aan, in afwagting….. Dit kan nie met woorde beskryf word nie, maar ek het video opnames om dit te wys…
ALLES, ALLES is GENADE!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.