‘Duisende rande’ se skade ná Kleinmond-betoging

‘n Betoging in Kleinmond in die Wes-Kaap (28 Augustus 2017). Foto: Twitter via @diverene

Die situasie in Kleinmond in die Wes-Kaap was Dinsdagoggend rustig waar betogers Maandag verwoesting gesaai het deur paaie te versper, eiendom te beskadig en winkels te plunder.

Honderde betogers het in die strate van die Overbergse dorpie ingevaar waar hulle bande gebrand en paaie met klippe versper het.

Rudolph Smith, burgemeester van Overstrand, het aan Maroela Media gesê die inwoners is ontevrede oor ʼn tender wat toegeken is vir die skoonmaak van strate in Kleinmond. Volgens Smith is die tender aan ʼn man van Zwelihle (tussen Sandbaai en Hermanus) toegeken en is die inwoners ontevrede omdat die tender nie aan ʼn plaaslike inwoner van Kleinmond gegaan het nie.

‘n Betoging in Kleinmond in die Wes-Kaap (28 Augustus 2017). Foto: Twitter via @diverene

“Ons het reeds voorheen oor die kwessie met hulle vergader en verduidelik daar is ʼn appèlproses wat gevolg kan word waartydens iemand sy ongelukkigheid oor die toekenning van die tender kan uitspreek. Die persoon was egter nie bereid om hierdie proses te volg nie en dit het uiteindelik op die betoging uitgeloop,” het Smith gesê.

Hy het beklemtoon dat raadslede nie betrokke is by die keuringsproses van tenders nie.

Die betogers het Maandag ʼn memorandum aan die munisipale areabestuurder oorhandig waarin hul griewe uiteengesit word. “Hulle ongelukkigheid het niks met dienslewering te doen nie. Dit gaan net oor hierdie tender,” het Smith gesê. “Ek is tans by ons hoofkantoor in Hermanus waar ek vanoggend met die burgemeesterskomiteelede, senior direkteure en die munisipale bestuurder sal vergader om die memorandum en die pad vorentoe te bespreek.”

‘n Betoging in Kleinmond in die Wes-Kaap (28 Augustus 2017). Foto: Twitter via @diverene

Smith het gesê die situasie in Kleinmond was vanoggend weer kalm, alhoewel baie skade gister tydens die betoging aangerig is. “Daar is etlike duisende rande se skade aan munisipale infrastruktuur aangerig, asook aan private winkels in Kleinmond wat beskadig en geplunder is. Sulke kriminaliteit kan ons nooit goedkeur nie, maak nie saak wat die rede vir inwoners se ontevredenheid is nie,” het hy gesê.

“Ek het ook vir die polisie gesê daar is foto’s tydens die betoging geneem waarop gesien kan word wie betrokke was. Hulle weet wie die voorbokke was en die mense is wat vir die skade verantwoordelik is en ons verwag om inhegtenisnemings hieroor te sien.”

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê sake van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

botterblommetjie ·

Wat kan mens verder sê…. Watter kommentaar gaan nog enige waarde of verandering bring…. Ek kan die regering slegsê… Ek kan die betogers slegsê… Ek kan sê baklei tot in die hoogste hof… Tog bid ek vandag… Red U kinders Pappa Vader, die wat soos U wil wees… Werk in die harte van ons regeerders en die in leierposisies…. Amen

Eish ·

Amen op jou kommentaar botterblommetjie. Die slagting en verwoesting lê maar swaar op ons gemoed.

Andre C ·

Private winkels wat beroof is,is onder andere n drankwinkel en n apteek.Deesdae loop veral drankwinkels deur as daar geplunder word.Dit wil voorkom asof diefstal n groot motiveerder vir plunderaars is.Die polisie kon of het glo niks gedoen nie.Ek hoop Overstrand munisipaliteit is beter as die polisie en laat die mislukte tenderaar en sy ondersteuners vir al die skade betaal.

O aarde ·

Andre C, die polisie sal niks doen na die Marikana voorval waar die SAP net hul werk gedoen het. Sal jy enigsins probeer om ander se eiendom te beskerm, as jy weet iemand sal erens weer ‘n sogenaamde menseregteskending uitkrap en jy in die hof sal beland vir moord omdat jy net jou werk gedoen het?

Werner ·

En baie ander winkels…. Ons moes vlug vir ons lewe. Ons is keelvol…

Swannie ·

Hi, jy kan nie sê die Polisie doen niks nie !!

Hulle “MONITOR” dan die situasie………en dis al.

Oplossing ·

Oplossing? Maak niks reg maar los dit sodat dit kan terugdateer voor die koms van J v R.

gunston101 ·

Hierdie mense het vir niks of niemand respek nie. Hulle sal alles afbreek tot daar niks is nie,
Hulle imtimideer almal om hulle punt te maak, So word wet en orde stelselmatig afgebreek en dan vat die krimineel oor. Die bewyse is daar

Ben ·

Stem saam met Andre C hierbo. Dit wil voorkom of hierdie opstande deur kriminele beplan en gereel word sodat hulle Drankwinkeles and ander besighede kan beroof. Hierdie metode van roof is gebruik in Engeland. Die polisie daar het van ‘n spesiaal toegeruste helikopter gebruik gemaak wat die hele area verfilm het van uit die lug. So het hulle ook die organiseerders vas getrek. SAP gaan vind hoe om dit te doen (Scotland Yard) en doen dit want dit is wat hier besig is om te gebeur. Dit is nie so moelik om die organiseerders te vang nie.

Ai tog ·

Ai tog, ja nee die kriminele aspek is nie nodig nie, maar om nou doodeerlik te wees. Lees weer die berig mooi. Daar is al te kenne gegee dat hulle ontevrede is aan wie die tender “mag gaan” met ander woorde iewers het iemand klaar laat blyk wie die tender kry nog voor hy regtig toegeken is. Is daar al vorige tenders wat eerder aan mense buite die dorp gegee word en die appèlproses het nie geslaag nie? Hoekom in die eerste plek nie eerder die tender gee vir iemand binne die dorp nie. Hoe word jy gehoor as jy nie geld het om hof toe te gaan nie, as niemand jou hoor nie, as niemand vir jou luister nie? Wat gebeur nou, almal spring om met almal te vergader oor alles. Ag nee baie van hierdie situasies kan vermy gewees het as mense wat tenders doen en mense wat in hoë posisies sit net luister en mindere met respek behandel. Om respek te kry moet jy dit verdien. Moenie my verkeerd verstaan nie, dit is nie reg om te plunder en te roof en als nie maar mense luister ook net na mekaar. Dis nie maklik nie maar iewers moet iemand begin om rasioneel te dink.

CHRISTA ·

As jy nie eers geld het om hof toe te gaan nie, waar gaan jy geld kry om ‘n tender uit te voer as dit aan jou toegeken word?

Penellope Jones ·

Ja, ‘n stukkende venster, ‘n gebrande band, ‘n stuk gesmelte teer omdat iets aan die brand gesteek is, ‘n omgekeerde vullisdrom ens. dis die dinge wat gebruik word om jou sin te kry, of dit aanvaarbaar, korrek, of ter regverdiging is.
Skewe en omgekeerde sienings en opinies wat sommige mense dryf tot hulle nie net tot hul eie nadeel nie, maar tot nadeel van almal wat nou moet saamleef met hoe dit lyk, hoe dit voel, die algemene samehorigheid van ‘n gemeenskap.
Om van die koste van skade nie eens te praat nie.
Die slegste hiervan is, dit word weer mooi netjies reggemaak net om later dalk weer omgekeer te word, aan die brand gesteek te word, verniel te word.
Mens moet die skade eintlik net so te laat dat diegene wat dit veroorsaak het, ook daarmee moet saamleef.

Haan ·

Om af te breek is geen kuns nie. n Klein babatjie kan n blommetjie verniel wat dit n God gekos het om te maak – Langenhoven

Daniel ·

En so duur die vernietiging en wetteloosheid onverpoost voort. Die werklikhede van Afrika was nog altyd voorspelbaar en het ons voorouers genoop om dit op hul manier te hanteer ten einde die Westerse beskawing aan die suidpunt van Afrika te beskerm en die toekoms van die Afrikaner in sy Godgegewe land te verseker.

Ongelukkig het die Afrikaner sy eie ondergang bewerkstellig deur willens en wetens, ten spyte van vele waarskuwings, sy eie ‘doodsvonnis’ te onderteken. Dit gaan ‘n uiterste poging verg om as volk te oorleef en so letterlik uit die ‘dodesel’ te ontsnap. Diegene wat dink dat die DA of enige ander politieke party die situasie gaan beredder leef in ‘n gekkeparadys.

Daar is net een uitweg: terug na God en Sy gebod, ‘n liefde vir die eie en ‘n ystere wil om te oorleef as Afrikaners asook ‘n front van eendragtige samehorigheid gebaseer op ‘n Christelike lewens – en wêreldbeskouing. Is dit haalbaar? Nie as ek kyk hoe baie Afrikaners identiteitloos ronddobber, te skaam om Afrikaner te wees en ruggraatloos om enigsens van waarde te wees. Nie as ons soos ‘n trop skape drentel agter ‘n klomp valse leraars in baie van ons kerke nie. Nie as ons nie bereid is om uit te reik na ons mede Afrikaners wat toenemend in werkloosheid en gepaardgaande ellende en wanhoop verval nie.

Adam ·

Vanwaar die gedagte dat SA die Afrikaner se “Godgegewe” land is? Terloops, ek is ‘n trotse Afrikaner en ek sal jou waarborg dat die woorde “Afrikaner” en ” eendragtige samehorigheid” nog nooit pasmaats in dieselfde sin was nie. Wat ons moet leer is veel eerder wat die begrip “mede-menslikheid”beteken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.