Duisende rande se skade ná plundery by skole

(Argieffoto: pixabay)

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement is steeds besig met ʼn skadebepaling nadat altesaam 30 voorvalle van diefstal of vandalisme oor die Kersvakansie by skole aangemeld is.

Dit is drie voorvalle meer as in dieselfde tydperk die vorige jaar.

Die LUR vir onderwys in die provinsie, Debbie Schäfer, sê die departement is nog besig met ʼn bestekopname van die skade en die koste verbonde aan herstelwerk.

In die meeste gevalle word die voorvalle as “minder ernstig” geklassifiseer. Dit is voorvalle waarvan die geraamde koste – weens diefstal of skade – minder as R100 000 beloop. Die skade het meestal wél meer as R25 000 beloop.

“Daar moet kennis geneem word dat afgesien van een geval daar wel ʼn veiligheidswag of alarmstelsel by die skool was. In die meeste gevalle was daar veiligheidswagte op die perseel. In sommige gevalle het die wagte die boosdoeners ontwrig en hulle op die vlug laat slaan,” het Schäfer gesê.

In ander gevalle is daar ongesiens groot skade berokken.

“Dit is kommerwekkend dat twee nagwagte in een van die voorvalle met wapens aangehou is, terwyl daar in ʼn ander voorval ʼn skietery tussen veiligheidswagte en oortreders uitgebreek het. Gelukkig is geen wagte beseer nie, maar ongelukkig het die verdagtes weggekom,” het sy gesê.

By ʼn skool in Caledon is die grootste skade die afgelope vakansie aangerig. Daar is by die skool se administrasiegebou, rekenaarlaboratorium en ʼn klaskamer ingebreek. Deure, veiligheidshekke en staalkabinette is beskadig en rekenaars, sleutelborde en drukkers gesteel. Toerusting wat gebruik word vir die skool se voedingskema is ook weggedra.

Die departement het gesê om veiligheidsredes word die name van die betrokke skole weerhou.

“Ek wil weereens ʼn beroep op gemeenskappe doen om ons skole te help beskerm. Ons begroting word tot breekpunt gedruk. Om skole doelbewus te plunder is om doelbewus van hulpbronne vir leerders te steel,” het Schäfer gesê.

Sy het gesê die meeste skole in die provinsie was wel ongeskonde, ook in armer gemeenskappe waar misdaad en bendebedrywighede dikwels hoogty vier. “Ek bedank daardie gemeenskappe dat hulle gehoor gee en optree as die beskermhere van hul skole.”

Schäfer het ook weer ʼn beroep op die publiek gedoen om enige verdagte bedrywighede by skole dadelik by die polisie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.