Duisende rande se vuurwerke afgevat

Vuurwerke wat op beslag gelê is in Krugersdorp. (Foto: Keagan Mac Rae/Verskaf)

Nooddienste in die Mogale-munisipaliteit (Magaliesburg en Krugersdorp) het kort voor Oujaarsaand op duisende rande se vuurwerke in Krugersdorp beslag gelê.

Volgens ʼn inskrywing op die Mogale Response Services se Facebook-blad het die organisasie gister tydens ʼn inspeksie beslag gelê op vuurwerke ter waarde van R35 000. Dit is by die Krugersdorp-polisiestasie ingegee. Volgens wet mag lede van die publiek slegs in besit wees van vuurwerke of dit afvuur indien hulle ʼn geldige permit uitgereik deur ʼn gemagtigde inspekteur het.

Nooddienste het die afgelope week wenke verskaf wat kan help om te verseker dat ʼn Oujaarsaandviering nie in ʼn noodgeval of ramp ontaard nie.

“Dit is weer dié tyd van die jaar wat ons die afgelope jaar saam met vriende en familie vier. Ongelukkig kan noodgevalle en ander omstandighede ontstaan wat ʼn feesviering in ʼn onaangename situasie laat ontaard,” sê ER24 in ʼn verklaring.

ER24 verskaf die volgende wenke om ongelukke en beserings te voorkom:

Drink verantwoordelik

Wanneer jy drink, moet jy bewus wees van jou omgewing, aangesien daar individue is wat die geleentheid kan misbruik. Moenie drankies van vreemde mense aanvaar nie en moenie jou drank sonder toesig los nie. Moet ook nooit drink en bestuur nie. Maak eerder gebruik van ʼn taxidiens of vra ʼn vriend wat nié drink nie om te bestuur. Wees ook versigtig op die pad, al het jy nie gedrink nie, omdat daar ander motoriste is wat dalk kan drink en bestuur.

Slaan ag op persoonlike veiligheid

Maak seker jou selfoon is ten alle tye vol gelaai. Dit is ook beter om in groepe rond te beweeg as alleen. Dit is noodsaaklik om genoeg water te drink, veral as jy alkohol inneem. Maak seker dat jy een glas water drink vir elke drankie wat jy inneem.

Die hantering van vuurwerke

Vuurwerke is mooi, maar kan ook gevaarlik wees. Maak seker dat ʼn verantwoordelike persoon ten alle tye die vuurwerke hanteer en dat geen kinders sonder toesig naby die vuurwerke beweeg nie. Vuurwerke kan ook angs by diere veroorsaak, met die gevolg dat hulle hulself kan seermaak of probeer ontsnap uit hul eienaar se eiendom.

Vir noodgevalle kan lede van die publiek ER24 se hulplyn by 084124 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.