Duisende SA’ners reeds veilig tuis

Die SAL het Woensdag die eerste keer in meer as 20 jaar weer na Miami gevlieg (Foto: SouthAfricanAirways, Twitter)

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het bevestig dat meer as 3 000 Suid-Afrikaners wat ten tye van die algehele landwye afsondering in die buiteland gestrand was, al teruggebring is na Suid-Afrika.

Sowat 4 500 gestrande Suid-Afrikaners het tydens die afsondering reeds met Dirco kontak gemaak en aangedui dat hulle in die buiteland gestrand is.

Volgens Clayson Monyela, woordvoerder van Dirco, is ʼn groep van sowat 275 Suid-Afrikaners Sondagmiddag gerepatrieer wat sedert die instelling van die afsondering in die VSA gestrand was. Nog honderde gestrandes gaan Dinsdag ook uit Amerika teruggebring word.

Bykans 600 Suid-Afrikaners gaan ook moontlik Vrydag vanuit Thailand, Bali, Kambodja en Djakarta gerepatrieer word.

“Dit was aanvanklik moeilik om Suid-Afrikaners uit lande in Asië en die Midde-Ooste te repatrieer, maar na weke se gestoei het ons ʼn deurbraak bereik,” sê Monyela.

Maroela Media het vroeër berig hoe gestrande Suid-Afrikaners in veral dié lande die afgelope ses weke in haglike toestande probeer oorleef het. Talle van dié gestrandes se geld en lewensnoodsaaklike medikasie het begin opraak.

Petrus en Magda Pretorius was deel van die toergroep wat twee weke gelede van Egipte gerepatrieer is (Foto: Verskaf)

’n Groep gestrande Suid-Afrikaners in Kambodja wat Vrydag met ‘n huurvlug van QatarAirways sou terugvlieg, is die afgelope naweek gekanselleer. Hulle sou aanvanklik Vrydag van Kambodja tot in Doha vlieg en dan daarvandaan na Johannesburg. Dié groep gaan egter eerskomende Sondag teruggebring gaan word. Die rede vir die kansellasie was glo dat die vlugdatum verkeerd aangegee is.

Honderde Suid-Afrikaners is ook al van buurlande gerepatrieer, maar sowat 400 sit steeds reg oor Afrika gestrand. Monyela sê Dirco onderhandel met die owerhede en belanghebbendes in dié onderskeie lande om ʼn ooreenkoms te bereik om sodoende gestrande Suid-Afrikaners terug te bring.

Kathy Whitehead, ʼn Suid-Afrikaner wat gestrand is in Kaboel, Afganistan, het Saterdag ʼn brief aan die Verenigde Nasies (VN) gerig as pleidooi om Suid-Afrikaners wat daar gestrand sit, te help. In die brief pleit sy dat die VN die gestrandes in lande soos Afgansitan, Irak en Koerdistan sal help om by Doha in Katar uit te kom om ook gerepatrieer te word.

Monyela sê sowat 50 studente en 29 Suid-Afrikaanse kunstenaars het ook al in Turkye met Dirco kontak gemaak. “Ons waardeer die samewerking van die Turkse regering. Hulle het ons die versekering gegee dat alle studente in hul universiteitskoshuise sal aanbly en daagliks maaltye sal ontvang ten tye van afsondering.”

Dirco het op sy Twitter-blad die Turkse regering ook bedank vir die mediese toerusting wat hy aan Suid-Afrika geskenk het.

Monyela sê Dirco onderhandel ook met die Turkse regering om dié kunstenaars te help en seker te maak hulle kry genoeg kos.

Monyela sê Dirco ondersoek alle opsies om die oorblywende Suid-Afrikaners wat in die buiteland gestrand sit, te repatrieer. “Dirco wil al die Suid-Afrikaners wat steeds oorsee gestrand is, verseker dat ons alles in ons vermoë doen om hulle veilig by die huis te kry,” sê hy.

Die meeste gestrande Suid-Afrikaners in Europa en Brittanje het reeds teruggekeer huis toe.

Verlede week het 165 Suid-Afrikaners ook van Doebai en 160 van Frankfurt af teruggekeer na Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Agge nee ·

Staal julleself landgenote. As julle dink julle het in haglike omstandighede gebly daar waar jy vandaan kom, wag tot julle sien waar en hoe julle nou gaan aangehou word.

Anoniem ·

Dit is ‘n ope vraag in watter hool die regering hierdie Suid-Afrikaners gaan indruk.

Sarel ·

Hierdie Suid- Afrikaners. Hoeveel het in die Buiteland gewerk en hoeveel was met vakansie. Jammer oor die vraag en weet elke persoon e verhaal is sy/ haar eie masr hoekom kon die mense nie betyds terugkeer nie. Die wat in die Buiteland gewerk het , word hulle nou derl van die statistiek van werksoekers in SA.

Anel ·

En teen watter koste. Arme mense het seker nie meer ‘n sent oor nie en word dan verder uit gebuit. Maar pasop. Julle dink julle het swaar gekry. Wag tot julle hier in kwarantyn geplaas word! Hulle sit julle hier in plekke wat die konsentrasiekampe soos hotelle laat lyk.

Albert ·

Net jammer Dirco noem nie dat elke persoon wat wil terug kom R15000.00 vir die kaartjie moet opdok nie. Ek en my vrou is nie op vakansie nie. Ons doen sending werk en die regering en die kerk het van ons vergeet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.